Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet die wenner van Toekenning vir Voortreflike Onderrig: Dr Marenet Jordaan
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 16/02/2021

Die erkenning wat sy vir haar uitnemende onderrigpraktyke ontvang het, het haar geïnspireer om nog harder te werk en nog hoër te mik, sê dr Marenet Jordaan van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, wat die wenner van die Ontluikende Dosent Toekenning vir Voortreflike Onderrig vir 2020 was.

“Dit is altyd 'n voorreg en 'n plesier om erkenning vir jou moeite te kry. Ek waardeer die feit dat die Universiteit Stellenbosch op hierdie manier erkenning gee aan onderrigpraktyke. As iemand wat met bipolêre gemoedsteuring saamleef, is dit veral lonend om te weet dat wat ander mense dalk as 'n swakheid mag beskou, my nie daarvan weerhou het om uitnemendheid te bereik nie," sê Jordaan.

Die US het die jaarlikse stelsel van institusionele toekennings vir voortreflike onderrig in 2017 ingestel. Dit bestaan uit twee kategorieë, 'Uitgelese dosent' en 'Ontluikende dosent', gegrond op hul ondervinding en leierskap in die vakkundigheid van onderrig en leer.

Deelnemers moes 'n portefeulje saamstel om hul nadenke oor en bewys van vier hoofonderdele te toon: konteks, studente, kennis en professionele groei. Hulle moes ook die lesse wat hulle geleer het op hul reis om uitstekende dosente te word, aandui.

Volgens Jordaan het sy dit nog altyd geniet om met jongmense te werk en om hulle te help om hul volle potensiaal te bereik.

“Ek was baie gelukkig in my besige loopbaan as 'n werkende joernalis, maar om klas te gee, laat die adrenalien op 'n ander manier deur my are pomp. Ek het sowat tien jaar gelede besef die geleenthede om jong joernaliste in die nuuskantoor-omgewing te mentor, word al hoe minder. Toe ek 'n geleentheid gegun is by die Joernalistieke Program by die Universiteit van Pretoria, het ek gevoel om onderrig te gee, sou my liefde vir mentorskap met die geleentheid om joernalistiek uit 'n ander hoek te ondersoek en te bestudeer, kombineer."

Jordaan het nog altyd in mense se stories belanggestel, sy was nog altyd lief vir lees en is oor die algemeen nuuskierig oor die wêreld, wat joernalistiek die logiese loopbaankeuse vir haar gemaak het.

Sy het 'n BA-graad in Uitgewery aan die Universiteit van Pretoria as die beste student in die Fakulteit Geesteswetenskappe voltooi. Nadat sy in 2001 'n BPhil-graad in die Joernalistiek cum laude aan die US verwerf het, het Jordaan vir agt jaar as 'n joernalis by Die Burger en Rapport gewerk.

Daarna het sy haar as dosent by die Universiteit van Pretoria se Joernalistieke Program aangesluit, terwyl sy haar MPhil-graad in Joernalistiek cum laude voltooi het. In 2015 het sy na haar alma mater op Stellenbosch teruggekeer as 'n dosent by die departement Joernalistiek. Sy het sedertdien haar PhD voltooi met 'n etnografie oor die Afrikaanse nuuswebwerf, Netwerk24.

Deur haar onderrig hoop Jordaan om haar studente te inspireer om “innemende, bedagsame en lewenskragtige mense" te wees wat vaardige en aanpasbare mediapraktisyns sal word.

Ten spyte van die feit dat die koronavirus die meeste dosente se vorige benaderings tot en beplanning vir onderrig en leer heeltemal deurmekaar gekrap het, sê sy sy was verbaas om te sien hoe vinnig studente en personeel by die noodafstandsonderrig in 2020 aangepas het.

“Hoewel baie joernalistiekstudente ondernemende jongmense is, gee dit vir my 'n bevredigende gevoel om te weet dat ek dalk 'n klein aandeel aan hul sukses gehad het. Ek is 'n groot voorstander daarvan om studente te help om hul geesteswelstand op verskeie maniere te bestuur. Om voormalige studente se name in koerante te lees, hulle op die radio te hoor of op die televisie te sien, maak my baie trots."

Jordaan se toekomsplanne sluit in om meer aan haar navorsingspublikasieuitsette te werk – oor onderwerpe wat met joernalistieke onderrig en haar ander akademiese belangstellings verband hou, wat strek van nuuskantoorkultuur en digitalemediategnologieë tot persepsies van joernalistieke rolle.