Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Onderriggenootskappe 2021
Outeur: Karin Cattell-Holden
Gepubliseer: 12/02/2021

​US Onderriggenote 2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) het in 2009 met onderriggenootskappe begin as ʼn geleentheid vir uitgesoekte akademici om hulle onderrigkundigheid te ontwikkel en om die groei van die akademieskap van onderrig en leer aan die Universiteit te stimuleer. Die genootskappe bied aan uistekende opvoeders en vakkundiges in onderrig en leer[1] die geleentheid om ʼn konsekwente tydperk (tussen een en drie jaar) met behulp van verskillende vorms van steun op aspekte van kurrikulumvernuwing, die verkenning van onderrig en leer, en die disseminasie van goeie onderrig- en leerpraktyke in departemente en fakulteite te fokus.

​ 
Die genootskappe word deur die Universiteitstoelaes vir Kapasiteitsontwikkeling gefinansier. Sedert die aanvang van die program in 2009, het die US reeds 13 genootskappe toegeken: prof Elmarie Costandius, prof Ian Nell, prof Dana Niehaus, prof Nicola Plastow, prof Geo Quinot, dr Helena Wessels (ontslape), dr Elize Archer, dr Berna Gerber, prof Ingrid Rewitzky, dr Marianne McKay, dr Michael Schmeisser, dr Marianne Unger en dr Margaret Blackie. 


Vir die tydperk 2021 tot 2023 is onderriggenootskappe aan vier akademici toegeken:
- dr Taryn Bernard (Verlengde Graadprogram, Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe);
- prof Debby Blaine (Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese);
- dr Gretha Steenkamp (Skool vir Rekeningkunde, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe); en
- prof Susan van Schalkwyk (Direkteur: Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderrig, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe). 


Dr Taryn Bernard is ʼn senior dosent in die verlengde graadprogram (VGP) van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, en onderrig akademiese Engels aan ʼn groep multikulturele en veeltalige studente. Haar agtergrond is in toegepaste taalwetenskap, met die fokus op die metodes van beoordelende toegepaste taalwetenskap. Hierdie metodes het die praktyke van haar onderrigmetodiek en haar navorsing beïnvloed. Dr Bernard het hierdie metodes gebruik om die taal van korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid, mediavoorstellings van Marikana, en die kompleksiteite van die hervorming van die hoëronderwysstelsel te ondersoek. Sy het voorheen beoordelende metodes van toegepaste taalwetenskap met etnografie verenig om 'die taalkwessie' in Suid-Afrikaanse universiteite uit ʼn ander hoek te beskou.

Die onderriggenootskap sal dr Bernard in staat stel om op dieselfde trant voort te gaan deur ʼn etnografiese projek te onderneem, wat ʼn verskeidenheid metodieke sal aanwend om ʼn groep studente vir drie jaar te 'volg', soos hulle hulle weg deur die universiteitstelsel navigeer. Daar sal veral gelet word op taal en geletterdheid en, deur die aanwending van die beoordelende werktuie waarin sy goed onderleg is, sal die ontleding van die data sodanig gedoen word dat dit lig werp op kwessies van agentskap en mag. Dr Bernard se uiteindelike doel is om hierdie insigte te gebruik om haar kuriikulums en klaskamerpraktyke aan te pas, maar sy wil ook graag haar bevindings op só ʼn wyse met die groter gemeenskap deel, dat dit ʼn bydrae lewer tot die belangrike projek van die skep van ʼn omgewing wat verwelkomend, stimulerend en progressief voel.

Prof Debby Blaine is ʼn medeprofessor in die Department Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese. Sy het in 2007 by die US aangesluit uit ʼn posisie in die bedryf in Duitsland, as Adjunk-Bestuurder van Materiaalnavorsing en -ontwikkeling by Bleistahl Produktions GmbH & Co. KG. Prof Blaine is ʼn oud-Matie met ʼn voorgraadse graad in Meganiese Ingenieurswese. Sy het ook ʼn PhD in Ingenieurswetenskap en Meganika aan die Staatsuniversiteit Pennsylvania ('Penn State') in die VSA behaal.

Prof Blaine se dissiplinêre navorsingsgebied fokus in die breë op materiaalingenieurswese, en spesifiek op poeiermetallurgie en sinteringwetenskap. Sy het tydens en ná haar doktorale studie as ʼn navorsingsassistent by die Staatsuniversiteit Pennsylvania se Sentrum vir Innoverende Sinterprodukte gewerk. Hiertydens het sy die geleentheid gehad om as geleentheidsdosent vir ʼn paar voorgraadse klasse in ingenieursmeganika en nagraadse klasse in poeiermetallurgie op te tree. Dit het haar aanvanklike belangstelling in die moontlikheid van ʼn akademiese loopbaan aangewakker. Sy het nietemin besluit om eers ʼn bietjie industriële ondervinding as ingenieur op te doen, wat haar na Duitsland gelei het. Hoewel sy die werk in die bedryf geniet het, het dit haar ook laat besef dat haar eintlike passie tersiêre opvoeding is.

Prof Blaine se onderriggenootskap sal fokus op die verkenning en identifisering (deur die konteks van die Fakulteit Ingenieurswese) van tasbare maniere waarop die US ʼn kollektiewe benadering tot die ontwerp van inklusiewe en hervormde kurrikulums, wat aan die behoeftes van ons diverse gemeenskap van studente en personeel kan voldoen, kan implementeer. Sy is opgewonde om hierdie reis aan te pak en in interaksie te tree met studente en kollegas vir die ontdekking van nuwe maniere van goed doen – maniere wat in die kontemporêre ruimte werk en wat toegang en sukses vir almal verbeter.

Dr Gretha Steenkamp doseer finansiële rekeningkunde aan die Skool vir Rekeningkunde (SvR) in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Sy het reeds verskeie onderrigverwante toekennings ontvang, waaronder 'beste aanlyn nagraadse dosent' aan die SvR in 2020. ʼn US Onderriggenootskap vir die tydperk 2021 tot 2022 is aan dr Steenkamp toegeken. Hiertydens sal sy fokus op die vaslegging van sekere gegradueerde hoedanighede in die programme wat deur die SvR aangebied word.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) akkrediteer die BAcc-, BAccHons- en PGDip-programme aan die SvR. SAIGR het onlangs die nuwe “CA2025-bevoegdheidsraamwerk" (CA2025 CF) bekendgestel, wat groter klem plaas op die professionele waardes en bemagtigende bevoegdhede (vernuf) waaroor geoktrooieerde rekenmeesters moet beskik. Dit is verwant aan gegradueerde hoedanighede en sluit aspekte soos burgerskap, kritiese en geïntegreerde denke, en digitale vernuf in. Hierdie gegradueerde hoedanighede moet uitdruklik deur die SAIGR-geakkrediteerde programme ontwikkel word, en dr Steenkamp sal die projek vir die implementering van die nodige veranderinge aan die SvR bestuur. Die implementering van CA2025 CF in die SAIGR-geakkrediteerde programme is ʼn strategiese prioriteit vir die SvR.

Prof Susan van Schalkwyk is ʼn professor in Gesondheidsberoepe-onderrig en Direkteur van die Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderrig in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die US. Haar werk omvat talle fasette van die akademieskap van gesondheidsberoepe-onderrig, waaronder toesig oor meesters- en PhD-studente, en fakulteitsontwikkeling. Sy is tans die hoofnavorser van ʼn veelinstellingstudie wat voorgraadse kurrikulums onder die soeklig plaas ten opsigte van die potensiaal daarvan om gegradueerdes te lewer wat klinies bevoegd EN krities bewus is van die kontekste waarin hulle sal werk.

Prof van Schalkwyk is ʼn lid van die Internasionale Vereniging van Mediese Opvoedkundiges (AMEE) se Navorsingskomitee en Fakulteitsontwikkelingskomitee, voorsitter van AMEE se Toekenningspaneel vir Doktorale Verslae, en het onlangs ʼn termyn van vier jaar as ʼn lid van die redaksiekommissie van MedEdPublish voltooi. Sy is ʼn mederedakteur van die African Journal of Health Professions Education, Advances in Health Sciences Education en The Clinical Teacher, en dien in die redaksieadviesraad van CRiSTaL (Critical Studies in Teaching and Learning). Sy is ʼn stigterslid van die Bellagio Global Health Education Initiative en het ook in die internasionale raad van AMEE se Aspire-to-Excellence-toekennings gedien.  

Prof van Schalkwyk het ʼn C-gradering deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting as navorser en is die skrywer of medeskrywer van meer as 80 gerefereerde artikels en boekhoofstukke met ʼn H-indeks van 12 (Scopus) en 20 (Google Scholar). Sy is eregenoot van die Sub-Saharan Africa-FAIMER Regional Institute (SAFRI) en het in 2019 ʼn AMEE-genoot geword. In 2017 het sy ʼn US Toekenning vir Voortreflike Onderrig in die kategorie 'Uitgelese Opvoeder' ontvang, en in 2018 het sy CHE/HELTASA (Raad op Hoër Onderwys/Suider-Afrikaanse Vereniging vir Leer en Onderrig in die Hoër Onderwys) se Nasionale Toekenning vir Voortreflike Onderrig ontvang. 

Die mentorskap van ontluikende vakkundiges was die middelpunt van baie van prof Van Schalkwyk se werk oor die afgelope tien jaar. In 2009 het sy ʼn groep gestig vir personeellede wat, bo en behalwe die nakom van hulle akademiese verantwoordelikhede, ook hulle PhD's wou afhandel. In 2011 is ʼn soortgelyke groep aan die FGGW gestig, wat sedertdien funksioneer. Oor die jare heen het sy, as gevolg van die verbintenisse wat met hierdie studente (later gegradueerdes) en hulle toesighouers gevorm is, informeel as mentor, afrigter en klankbord gedien vir talle ontluikende vakkundiges en jong akademici wat hulle loopbane in die akademie wou bevorder. Hierdie werk dien as katalisator vir die projek wat sy as deel van haar US Onderriggenootskap sal aanpak.

Die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) wil hierdie kollegas gelukwens en hulle bedank vir hulle bydraes tot onderrig en leer aan die US. Ons wens hulle alle voorspoed met hulle genootskappe toe.

Vir meer inligting, kontak asseblief vir dr Karin Cattell-Holden, kcattell@sun.ac.za.

Fotos van links na regs: dr Taryn Bernard, prof Debby Blaine, dr Gretha Steenkamp en prof Susan van Schalkwyk


[1]“[U]itstekende opvoeders en vakkundiges in onderrig en leer" verwys na dosente wat hulle onderrigpraktyk navors, uit opvoedkundige literatuur put en bydra tot die bestaande onderrig- en leerkennis deur hulle bevindings te publiseer.