Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
WOW-projek help leerders hulle studiedrome verwesenlik
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 11/02/2021


Die Woorde Open Wêrelde- (WOW-)projek maak reeds byna twee dekades lank 'n tasbare verskil in die lewens van meer as 'n miljoen skoolleerders oor die hele land.

WOW is 'n bemagtigingsprojek sonder winsoogmerk onder die beskerming van die Toyota Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees. Die projek is in 2003 van stapel gestuur om programme in minderbevoorregte skole en gemeenskappe te skep wat taal, geletterdheid en die kunste ontwikkel en alle deelnemers se horisonne verbreed.

Etlike WOW-projekaksies word die hele jaar deur aangebied. Dit sluit in skoolbesoeke deur die skrywers van voorgeskrewe werke, leeskringe en -feeste, debatfeeste, kuns-en-kultuurfeeste, werksessies, die skilder-en-digkunswedstryd vir jong leerders, sowel as die snel groeiende landwye Sanlam WOW Spelfees.

WOW-50-skole-werwingsprojek

Baie van die leerders wat aan die WOW-projekte deelneem, kan ook hulle drome van tersiêre studie aan die US bewaarheid danksy die WOW-50-skole-werwingsprojek. Vir dié projek werk WOW sy aan sy met die US se Sentrum vir Voornemende Studente om kandidate vir studie in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe te werf. Die projek bied ook voortgesette steun nadat leerders as Matiestudente geregistreer het.

Hierdie steun behels toegespitste strategieë om te sorg dat WOW-studente 'n transformerende ervaring aan die US het, by studente-aktiwiteite inskakel en suksesvol studeer. Strategieë sluit in administratiewe steun, opvolgoproepe om te sorg dat aansoeke volledig is, hulp met aansoeke om finansiële bystand, en steun om geskikte huisvesting naby die US te kry. Daarbenewens word studente deur gestruktureerde kontaksessies en tutorbystand ondersteun. Daar is selfs 'n WOW-kafee wat studente van gesonde etes kan voorsien.

“Wat die WOW-50-skole-werwingsprojek van ander US-werwingstrategieë onderskei, is dat ons konsentreer op leerders met 'n graad 11-gemiddelde van 65% of hoër, diegene wat in 'n geesteswetenskaplike rigting wil studeer, en leerders van skole wat nie noodwendig deur ander US-uitreikprojekte bedien word nie," verduidelik me Jeneen Wallow van die US Woordfees.

“Sodoende vul die projek 'n leemte deur leerders te bereik wat nie andersins die geleentheid sou gehad het om met die nodige steun en begrip aan die US te studeer nie. Ons bied geregistreerde WOW-studente die nodige morele en sosiale steun, vereiste mediese bystand sowel as 'n mentorskapstelsel om hulle aanpassing by die kampuslewe te vergemaklik."

WOW-US-gegradueerdes

“Die WOW-werwingstrategieë stel leerders in staat om hulle doelwitte te bereik en positiewe maatskaplike verandering in hulle gemeenskappe teweeg te bring. WOW wil lewens deur onderwys transformeer en studente aanmoedig om lewenslange leerders te wees en uiteindelik ook hulle kennis en vaardighede ná gradedag met hulle gemeenskappe te deel," sê Wallow.

Baie WOW-leerders het oor die jare hulle kwalifikasies aan die US bekom.

Octavia Spandiel van Port Elizabeth het altyd daarvan gedroom om 'n joernalis te word. Die WOW-projek het haar droom bewaarheid toe sy in 2020 die graad HonsBA in Joernalistiek behaal het.

“Die werk wat WOW doen, is baie belangrik. Hulle stel kinders aan die moontlikhede van die wêreld bloot, prikkel leerders se nuuskierigheid en versterk hulle vermoëns. WOW het my finansieel, emosioneel en geestelik bygestaan. Dit het 'n hele nuwe wêreld vir my ontsluit en my as mens help groei," sê Spandiel. Sy werk tans as 'n sosialemediakoördineerder en hoop om vir haar magister- en PhD-graad na die US terug te keer.

Ook vir Mtiwekaya Malongwe is die WOW-projek veel meer as 'n opvoedkundige program vir leerders – dit bied boonop belangrike emosionele en familiebystand. Malongwe het op die klein kusdorpie Lambertsbaai grootgeword en nooit gedink hy sou by 'n instelling soos die US kon studeer nie, want hy kon nie klasgeld óf huisvesting bekostig nie. Sy hoërskoolvakadviseur het hom van die WOW-projek vertel en hom aangemoedig om by die US aansoek te doen.

“Ek is my onderwyser ewig dankbaar, want sonder hom sou my pad nie met dié van me Van Kerwel, die WOW-projekbestuurder, gekruis het nie. Sy het my 'n US-beurs help kry, wat my die geleentheid gebied het om op kampus te woon terwyl ek my studie voltooi het," sê Malongwe. Malongwe het in 2020 die graad BEd aan die US verwerf, en werk tans aan 'n honneursgraad in Wetenskaponderwys aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

WOW het ook Miceala Martin van Atlantis haar drome help bewaarheid om 'n onderwyseres te word en haar nuwe kennis en vaardighede in haar gemeenskap terug te ploeg. Sy het 'n graad in Teologie sowel as 'n Nagraadse Onderwyssertifikaat aan die US behaal.

“WOW het ingegryp en 'n enorme rol gespeel in my besluit om 'n Matie te word. Vyf jaar later staan ek voor 'n klas met twee kwalifikasies agter my naam, alles danksy die ongelooflike steun wat ek van WOW ontvang het."


Vir verdere inligting oor die WOW-projek, klik hier.