Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ekonomie-navorser ontvang hoogste postdoktorale navorsingsgradering
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 10/02/2021

Dr Nic Spaull van die Universiteit Stellenbosch se Departement Ekonomie het vandeesweek 'n P-gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang. Dit is die hoogste moontlike gradering vir postdoktorale navorsers in Suid-Afrika.

Die gradering word jaarliks aan nie meer as sewe mense van alle dissiplines toegeken nie en staan ook bekend as NNS se Presidentstoekenning.

Spaull sê hy was opgewonde toe hy daarvan hoor: “Dis altyd lekker om erkenning van ander navorsers in 'n mens se veld te ontvang; dit voel wonderlik. Dit was ook goed om die afgelope agt jaar in oënskou te neem en vas te stel wat die gemeenskaplike skakel in my navorsing was. Dit het duidelik geword dat dit ongelykheid en onreg behels. Die feit dat die meeste kinders nie leer om met begrip te lees of berekenings te maak nie, is 'n yslike dryfveer tot ongelykheid en dis eenvoudig verkeerd. Ons moet uitvind hoe om dit reg te stel."

Hy het ook verduidelik dat hy as senior navorser in die Departement Ekonomie deel is van 'n veel groter groep betrokke by navorsing oor sosio-ekonomiese beleid (ReSEP).

“Dis gaaf om toekennings te ontvang, maar dis terselfdertyd belangrik om te onthou dat navorsing nie 'n eenpersoonsaktiwiteit is nie; dit vind nie in 'n vakuum plaas nie. 'n Mens bied gedurig referate aan, kry terugvoer, hersien ander mense se navorsing, en ontleed data wat ander mense ingesamel het. Ek is besonder gelukkig om saam met 'n groep mense te werk wat kollegiaal en vriendelik is en opreg omgee oor onderwys en hoe om dit te verbeter. Dis grootliks aan Servaas van der Berg en sy leierskap en leiding te danke."

Prof Van der Berg beklee die navorsingsleerstoel in sosio-ekonomiese beleid aan US en was Spaull se PhD-studieleier en mentor.

Spaull se gradering is gebaseer op sy navorsingsuitsette van die afgelope agt jaar. Dit sluit 'n onlangse boek in, Primary Schooling in South Africa: The Enigma of Inequality (2019), waarvan hy en prof Jonathan Jansen van US se Fakulteit Opvoedkunde mederedakteurs was. Dit is deur 'n aantal bekendes onderskryf.

In een van sy eerste navorsingstudies het Spaull sy meestersgraadtesis omskep in 'n artikel met die titel Poverty and Privilege: Primary School Inequality in South Africa (2013). Dit het sedertdien die artikel geword wat die meeste aangehaal word in die prestigeryke International Journal of Educational Development. Die oorspronklike artikel is al 558 keer aangehaal en die meer populêre weergawe al 709 keer.

Wat die toekoms betref, wil Spaull hom by 'n aantal nuwe navorsingsvrae bepaal.

“Ek stel belang om die wisselwerking tussen tegniese probleme en die manier waarop navorsing beleid beïnvloed of nie beïnvloed nie, te verstaan. Die ou idee van 'bewysgebaseerde beleid' is 'n mite. Dis nie hoe die wêreld werk nie. Dis regtig belangrik om te verstaan hoe en waarom beleidmakers beleide implementeer. Jy kan nie dinge verander as jy dit nie verstaan nie."

So beteken dit dat hy nie meer navorsing oor lees en wiskunde in die grade en ongelykheid gaan aanpak nie?

“Nee, ek sal dit vir die res van my lewe doen. Hoe kry ons dit reg dat alle kinders met begrip kan lees en berekenings met vertroue kan doen? Dis 'n goed gedefinieerde navorsingsprobleem wat ook werklik belangrik is, so ek wil graag my lewe daaraan wy. Ons moet eenvoudig sorg dat ons 'n oplossing daarvoor vind."

Benewens sy navorsing en onderrig by US, is Spaull genooi om aan rondetafelbeleidsbesprekings met president Ramaphosa en minister Mboweni deel te neem. Hy adviseer ook gereeld Suid-Afrikaanse filantrope. Spaull het verder 'n nie-regeringsorganisasie, Funda Wande, gestig. Dis gemik op die implementering van intervensies in lees en wiskunde in die aanvangsgrade. In Maart 2020 het hy die National Income Dynamics Study Coronavirus Rapid Mobile Survey (NIDS-CRAM) begin. Dié studie het 'n konsortium van meer as 30 navorsers van ses universiteite gehelp om die sosio-ekonomiese impak van die pandemie te verstaan.

​​​