Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Planne vir die eerste semester
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 20/01/2021

Kommunikasie van die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) van die Universiteit Stellenbosch (US) op 19 Januarie 2021.

* * *

19 Januarie 2021

Beste studente en personeel

Die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) van die Universiteit Stellenbosch (US) het op 18 Januarie 2021 'n buitengewone vergadering gehou om dringend die pad vorentoe te bespreek in die lig van die onlangse aanpassings van die nasionale koronavirus-regulasies. Ek verskaf hieronder ons terugvoer oor die belangrikste besluite.

Hoofsaaklik is drie stelle kwessies in ag geneem in ons besluite – die insette van ons Mediese Advieskomitee, regeringsregulasies soos aangekondig deur die president asook die departement en minister verantwoordelik vir hoër onderwys, en ons universiteit se doelwitte.

Kom ek begin by die laaste aspek. Nes verlede jaar, is ons oorkoepelende doelwitte vir 2021 om die akademiese jaar suksesvol te voltooi en om die volhoubaarheid van die Universiteit te verseker, terwyl ons terselfdertyd die gesondheid en veiligheid van ons personeel en studente prioritiseer.

Dit bring my by die huidige situasie rakende COVID-19. Daar bestaan steeds groot kommer oor die pandemie in die land, wat tans weer opvlam in 'n tweede vlaag van infeksies. Daar is wel hoopvolle tekens dat die infeksiekoers in sommige gebiede aan die afneem is, maar dit is nog te vroeg om beslis te sê. Die ontwikkeling van entstowwe is positief, maar ons het nog 'n lang pad voordat dit algemeen in Suid-Afrika beskikbaar sal wees. Dit is dus uiters belangrik dat ons waaksaam bly en verantwoordelik optree – beide as individue en as 'n instelling.

Dit is wat die regulasies van ons vereis – op 'n nasionale vlak sowel as die spesifieke riglyne wat in ons sektor verskaf word. Hoëronderwysinstellings word beweegruimte gegun om hul eie situasie binne die beperkings van die nasionale regulasies te bestuur.

A4-eksamens

Dit is binne hierdie konteks dat die US teen die einde van verlede jaar aangekondig het dat ons met 'n bykomende assesseringsgeleentheid vanaf 18 Januarie tot 5 Februarie 2021 sou voortgaan, aangesien ons seker was dat ons die nodige gesondheidsprotokols in plek gestel het.

Intussen het die land teruggeskuif na vlak 3-regulasies. Fakulteite is dus gevra om vas te stel watter A4-eksamens aanlyn verskuif kon word, en hulle het dit vir 'n derde van hierdie assesserings gedoen. Die res vind in persoon op kampus plaas, terwyl daar streng aan regulasies en protokols voldoen word.

Ons het byvoorbeeld verseker dat geeneen van die assesserings wat in persoon geskryf moet word, meer as 50 mense in 'n spesifieke lokaal sal vereis nie, en lokale is versigtig gekies om genoeg ruimte vir afstandskepping toe te laat. Klik hier vir die COVID-19-protokol vir A4-eksamens wat onder toesig geskryf word. Studente kan ook hul persoonlike A4-assesseringskedule hier nagaan.

Leer- en onderrig-formaat vir die eerste semester van 2021

Ons sal ook in die komende akademiese jaar, wat op 15 Maart 2021 afskop, 'n hibridiese benadering volg deur leer-en-onderrig-metodes te kombineer – met 'n mengsel van kontakonderrig en aanlyn komponente. Die meeste voorgraadse programme sal daardie dag begin, hoewel sekere nagraadse programme alreeds afgeskop het en ander in die komende weke sal begin.

Klik asb. hier vir registrasiedatums en verwante inligting.

Ons sal hierdie semester alle studente na die kampus nooi vir hoër onderwys in hibridiese formaat in die vorm van uitgebreide noodafstandsonderrig en -leer (bekend as ERLA in Engels). Dit bestaan uit twee elemente.

Anders as verlede jaar, toe ons na aanlynonderrig (ERTLA) oorgeskakel het, beplan ons om so ver moontlik vanjaar kontakonderrig te bied, binne die beperkinge van COVID-19 (kleiner groepe, in toepaslike lokale).

Aangesien dit nie altyd moontlik gaan wees om alle studente gelyktydig in 'n spesifieke lokaal te akkommodeer nie, is ons tweedens van voorneme om tegnologie te gebruik om ons onderrigaanbod uit te brei. Dit sluit regstreekse internetuitsendings vanaf sommige lokale in.

Elke akademiese program sal besluit wat die toepaslike kombinasie vir kontak- en aanlynonderrig sal wees. Dit hang af van onder meer die grootte van die groep en die uitkomste wat bereik moet word.

'n Uitgebreide program word binne die volgende ses weke van stapel gestuur om die nodige toerusting te installeer vir hibridiese leer in verskillende lokale regoor kampus. Dit sal regstreekse internetuitsendings van lesings moontlik maak. Ons beoog om die tegnologie maklik bruikbaar te maak, en om intensiewe opleiding en ondersteuning aan dosente te bied.

Data en toestelle

Net soos verlede jaar, gaan ons skootrekenaars en selfoondata aan studente beskikbaar stel wat dit benodig om internettoegang tot aanlynleer en -assesserings te verkry. Vir skootrekenaars moet studente ʼn e-pos stuur na student@sun.ac.za. Indien jou versoek toegestaan word, sal die leningbedrag op jou studenterekening gelaai word, en terugbetaal word wanneer die skootrekenaar in 'n goeie kondisie terugbesorg word.

Data is reeds aan studente verskaf wat tans met A4-eksamens besig is. Die fokus verskuif nou na nagraadse studente. Fakulteite is versoek om diegene wat in onderrigprogramme is, te identifiseer sodat hulle data kan ontvang. Meesters- en doktorale studente wat aan hulle proefskrif of tesis werk, moet 'n versoek om data via hul studieleier aan hul dekaan rig.

Aanboord- en Verwelkomingsprogram

'n Opwindende nuwe Aanboordprogram sal vanaf die begin van Februarie aanlyn beskikbaar gestel word vir voorwaardelik aanvaarde eerstejaarstudente. Dit sal hulle in die US oriënteer en hulle help om vir hul studies en vir die unieke studente-ervaring voor te berei wat op hulle wag wanneer hulle aanland op ons kampusse, beginnende by ons kenmerkende jaarlikse Verwelkomingsprogram.

Nuweling-eerstejaarstudente wat tot die US toegelaat word (ná die bekendmaking van die matriekuitslae op 22 Februarie) sal uitgenooi word om van 2 tot 4 Maart op kampus aan te meld. Sommige onderafdelings van die daaropvolgende Verwelkomingsprogram sal aanlyn plaasvind sodat groot byeenkomste vermy word, maar ons verwag dat elemente wat voldoen aan COVID-19regulasies in persoon sal voortgaan. Ons sal alles in ons vermoë doen om ons nuwe studente se bekendstelling aan die kampuslewe soos altyd baie spesiaal en onvergeetlik te maak.

Verantwoordelike gedrag op kampus en elders

Ons sien uit daarna om weer kampusse vol studente en personeel te hê, maar die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het 'n “algehele verbod op alle sosiale byeenkomste by alle instellings" ingestel in 'n poging om die verspreiding van COVID-19 te bekamp. Ons sal hieraan gehoor gee, en verwag van ons studente om hulle in ʼn gedragskode ook hiertoe te verbind. Dit sluit in dat studente hulle ook nie elders aan riskante gedrag skuldig maak nie.

Koshuise en privaat akkommodasie

Sommige van ons koshuise word tans gebruik om studente te huisves wat aansoek om verblyf tydens A4-eksamens gedoen het. Koshuisplasings vir 2021 is teen die einde van verlede jaar afgehandel op die aanname dat ons alle studente na kampus sal nooi vir hibriede leer en onderrig soos hierbo uiteengesit.

  • Studente wat in senior leefruimtes woon, sal vanaf 21 Februarie hul intrek begin neem (nagraadse studente wat vroeër begin, moet ssgsupport@sun.ac.za e-pos met bewys van hul akademiese departement om 'n vroeër toegangsdatum te versoek).
  • Nuweling-eerstejaarstudente sal van 2 tot 4 Maart hul intrek neem, met sommige huiskomiteelede en mentors wat 'n paar dae vroeër sal aankom.
  • Alle ander senior studente in voorgraadse koshuise sal vanaf 9 Maart af begin intrek.

Namate ons studente na ons onderskeie kampusse terugkeer en ons koshuise vol raak, sal ons streng nakoming van alle COVID-19-protokols vereis.

Ek wil weer eens bevestig wat ek aan die einde van November verlede jaar (klik hier) gesê het: Studente wat vir die akademiese jaar 2021 huisvesting naby kampus moet reël, moenie uitstel nie aangesien die een of ander vorm van kontakonderrig binne 'n hibridiese leer-en-onderrigmodel vir die meeste voorgraadse modules beplan word.

Personeel wat na die kampus terugkeer of van die huis af bly werk

Volgens die aangepaste vlak 3-regulasies wat tot 15 Februarie van krag is, moet alle personeel wat vanaf die huis kan werk daarmee voortgaan, behalwe as dit noodsaaklik is vir die instelling dat hulle na die kampus terugkeer. Só 'n besluit moet binne elke omgewing geneem word, in oorleg met die lynbestuurders en in terme van die goedgekeurde werkplekplanne. (Hier is die toepaslike protokolle en prosedures.) Hierdie reëling sal hersien word wanneer omstandighede verander.

Herfs-gradeplegtighede

Ons volgende gradeplegtigheidseremonies is vir 29 Maart tot 1 April 2021 geskeduleer. Dit sal weereens in hibriede formaat plaasvind, en dieselfde benadering as in Desember 2020 sal gevolg word. Dit wil sê, 'n aantal in-persoon seremonies vir doktorale graduandi en die ontvangers van eredoktorsgrade, met fakulteitspesifieke aanlynseremonies wat vir die oorblywende kategorieë sal plaasvind. Meer gedetailleerde inligting sal aanstons bekendgemaak word.

Sukses in die vooruitsig

Kollegas en studente, ons bevind ons tans in buitengewone omstandighede waarby ons moet aanpas. Ons het dit verlede jaar baie goed hanteer, en ek is oortuig daarvan dat ons vanjaar ook suksesvol gaan wees as ons as 'n span saamwerk. Ons het die afgelope paar jaar menige onderbrekings en uitdagings oorkom – niks hiervan was erger as die uitbreek van die koronavirus-pandemie nie. Ons is vanjaar beter voorberei, en ek is seker dat ons die uitdagings wat hierdie jaar voorlê met 'n selfvertroue sal kan hanteer.

Bly asb. veilig en wees versigtig

Prof Stan du Plessis
IKBV Voorsitter