Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontvangers van US se Kanselierstoekennings
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division
Gepubliseer: 17/12/2020

​Die Universiteit het erkenning gegee aan 'n kohort personeellede wie se loopbane van volgehoue uitnemendheid in navorsing, innovasie, leer en onderrig, sosiale impak en professionele dienste getuig.

Hierdie personeellede het pas die Universiteit se gesogte Kanselierstoekennings ontvang. Die toekennings is een van verskeie maniere waarop daar erkenning aan uitnemende prestasie gegee word.

Die 14 ontvangers van die 2020 Kanselierstoekennings sluit in:

Prof Arnold Schoonwinkel (Viserektor: Leer en Onderrig): Prof Schoonwinkel se loopbaan van 35 jaar by die US word gekenmerk deur uitnemendheid. Oor hierdie tyd het hy die Universiteit in uiteenlopende hoedanighede gedien – as akademikus, navorser, navorsingsbestuurder, departementshoof, mededekaan, dekaan vir twee termyne, en Viserektor: Leer en Onderrig, ook vir twee termyne. Prof Schoonwinkel het ook verskeie baanbrekersinisiatiewe op die terrein van Leer- en Onderrigbevordering gelei. Die vernaamste hiervan is die US Raad se IKT-projek – 'n belegging van R218 miljoen in IKT van 2014–2018.

Prof Jimmy Volmink (dekaan: Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe): Prof Volmink, 'n gegradueerde van die Universiteite van Kaapstad, Harvard en Oxford, is 'n professor in Kliniese Epidemiologie en tans die dekaan van die FGGW. Hy is die toonbeeld van 'n akademikus wat gedurende sy loopbaan volgehoue bydraes gemaak het tot die visie van die fakulteit en belangrike leierskapsrolle vervul het by die US en op nasionale vlak.

Me Ellen Tise (Senior Direkteur: SU Biblioteek- en Inligtingsdiens): Me Tise het nasionaal en internasionaal rentmeesterskap verleen as president van die Internasionale Federasie van Biblioteekverenigings (IFLA), as president van die Biblioteek- en Inligtingsvereniging van Suid-Afrika en as voorsitter van die raad van die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika. Sy is 'n kampvegter vir toegang tot kennis as 'n basiese mensereg en het al verskeie nasionale en internasionale toekennings ontvang vir uitmuntende leierskap en vir haar uitsonderlike bydrae tot die biblioteekwese.

Lazelle Bonthuys (Adjunk-registrateur): Me Bonthuys is in 1986 by die US aangestel en was die eerste vrou in die Registrateur se bestuurspan. As adjunk-registrateur vir oorsigbestuursondersteuning was sy instrumenteel in die opstel van verskillende beleide en het sy die institusionele oorgang na 'n digitale vergaderingskultuur gelei.

Carol Kat (Hoof: Kopiereg en Kortkursusse): Me Kat se loopbaan by die US het in 2003 begin en is tans die US se hoof van Kortkursusse, Handelsmerke en Kopiereg. Sy het die rol van die US se Kantoor vir Kopiereg uitgebrei deur institusionele riglyne vir kopiereg te ontwikkel, deur die US se eie inhoud wat deur die instelling se personeel en studente geskep word, te bestuur en te administreer, deur verslagdoeningsprosesse teen die agtergrond van die DALRO/US se oorkoepelende lisensie-ooreenkoms te vestig en in werking te stel, en deur te verseker dat dit nagekom word.

Mnr André van der Merwe (dirigent van die US-koor): Mnr Van der Merwe is vereer vir sy buitengewone bydrae as die koorleier van die Universiteit Stellenbosch Koor die afgelope 17 jaar. Onder sy leiding het die koor talle nasionale en internasionale toekennings verwerf. Verder beklee die koor die heel boonste posisie op die toonaangewende Interkultur-wêreldranglys.

Prof JAC (André) Weideman (professor in Toegepaste Wiskunde): Prof Weideman se navorsing fokus op numeriese wiskunde. Die sagteware wat hy ontwikkel het, is alombekend en word gebruik in diverse toepassingsgebiede soos spektroskopie en vloeidinamika. Hierdie werk het hom aansienlike internasionale erkenning besorg, soos om as genoot van SIAM (Vereniging vir Nywerheids- en Toegepaste Wiskunde) verkies te word − die eerste persoon van Afrika wat dié eer te beurt geval het.

Prof Nuraan Davids (professor in die Filosofie van Opvoedkunde): Prof Davids is 'n uitnemende opvoedkundige filosoof wat 'n uitgelese posisie onder haar eweknieë beklee. Nie net die suiwer omvangrykheid van haar publikasie-oeuvre nie, maar ook die feit dat haar bydraes van filosofiese substansie en konseptuele nougesetheid getuig, het erkenning daarvoor afgedwing dat haar werk 'n diepsinnige deurbreking van liberaal-kommunitêre denke oor die opvoedkundige filosofie is

Mnr MJ Brooks (Fakulteitsdirekteur: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe): Die Kanseliersmedalje word aan mnr Brooks toegeken ter ere van sy buitengewone bydrae as die Fakulteitsdirekteur in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Mnr Brooks se verbintenis tot die fakulteit, sy toewyding, kreatiwiteit, vermoë om strategies te dink en suksesvolle leierskap oor die afgelope twee dekades het verseker dat die fakulteit floreer en dat dit allerweë erkenning geniet as 'n nasionale markleier.

Me Anel de Beer (Departementele bestuurder: Bedryfsingenieurswese): Me De Beer's se uitmuntende bydrae in professionele dienste is duidelik te bespeur. As departementele bestuurder van 'n tegnies-ingewikkelde ingenieursdepartement is sy verantwoordelik daarvoor dat die werking van die omgewing daagliks glad verloop. Dit doen sy met oorgawe, toewyding en professionaliteit.

Mnr Rodney Davidse (Siviele Inginieurswese): Die volgehoue prestasie van mnr Davidse oor meer as 46 jaar by die Universiteit Stellenbosch het verseker dat onderriginisiatiewe by die departement Siviele Ingenieurswese glad verloop. Sy bydrae weerspieël die toewyding van een individu – wat self slegs 'n beperkte geleentheid vir primêre en tersiêre opleiding gehad het – tot die akademiese prestasies van verskeie generasies ingenieurstudente.

Prof GPAG (Gideon) van Zijl (Sentrum vir die Ontwikkeling van Volhoubare Infrastruktuur): Prof Van Zijl speel die afgelope twintig jaar 'n besonderse leiersrol in die departement Siviele Ingenieurswese. Hy was verantwoordelik vir die aanbieding van verskeie voorgraadse en nagraadse modules en neem deel aan die voortdurende proses van programtransformasie. Sy beduidende bydrae tot navorsing is in 2018 en 2019 bekroon met die Toekenning vir Navorsingsuitnemendheid van die Universiteit Stellenbosch.

Prof Marian Kruger (Uitvoerende hoof: Departement Pediatrie en Kindergesondheid): Prof Kruger, ''n pediatriese onkoloog en bio-etikus, het sedert haar aanstelling as die Uitvoerende Hoof van die departement Pediatrie en Kindergesondheid uitsonderlike diens aan die US gelewer. Haar visionêre, energieke en innoverende leierskap het die instelling gehelp om opleiding en kliniese dienslewering te versterk en navorsing te doen oor sommige van die dringendste uitdagings in kindergesondheid.

*Prof JF Görgens (Direkteur van die Sentrum vir Prosesingenieurswese) sal sy toekenning in 2021 ontvang.