Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Dankie vir al jou hulp hierdie moeilike jaar' – Rektor
Outeur: Wim de Villiers
Gepubliseer: 17/12/2020

Beste lid van die US-familie

Dit was 'n uiters uitdagende jaar, so dit is nie verbasend dat daar 'n gevoel van verligting heers terwyl ons die dae na die einde van 2020 aftel nie – ons het dit gemaak!

Ons moet egter nie die swaarkry en pyn vergeet wat soveel mense vanjaar op verskeie vlakke ervaar het nie – persoonlik, professioneel, finansieel, akademies, en so meer. Kom ons dink veral aan diegene wat oorlede is – ons innige meegevoel aan hul families en vriende.

Ek is bly om te kan sê dat die Universiteit Stellenbosch (US) grootliks suksesvol was in die twee oorkoepelende doelwitte wat ons gestel het toe COVID-19 vroeg in 2020 toegeslaan het – om die akademiese jaar te voltooi en om te verseker dat ons volhoubaar bly vir toekomstige geslagte – danksy ʼn klomp mense se harde werk en opofferings.

In ons tien fakulteite het ons vandeesweek (14–16 Desember 2020) altesaam 5 701 kwalifikasies toegeken – regtig ʼn merkwaardig prestasie, gegewe die moeilike jaar. Knap gedaan aan al ons studente, dosente en tutors, asook ons professionele administratiewe steundienste-personeel.

Op voorgraadse vlak is daar 3 409 grade, diplomas en sertifikate toegeken – die meeste nog in hierdie kategorie tydens ons jaarlikse Desember-gradeplegtighede – en op nagraadse vlak 1 005 honneursgrade, 502 meestersgrade en 138 doktorsgrade. Ons kan met reg trots wees op ons Universiteit se bydrae tot die ontwikkeling van kennis en talent in ons land, ons vasteland en die res van die wêreld.

Wat ʼn sleutelrol hierin gespeel het, was ons vermoë om blitsvinnig na aanlyn noodafstandsonderrig, -leer en -assessering te kon oorskakel toe kontakonderrig in Maart landwyd opgeskort is. Oor die algemeen het die oorgang goed verloop, waarvoor ons baie dankbaar is.

Ons weet egter ook dat dit vir sommige studente baie moeilik was weens 'n gebrek aan hulpbronne of omdat hulle hulself in moeilike omstandighede bevind. En selfs al het ons ons bes probeer met die voorsiening van skootrekenaars en data, asook uitgebreide ondersteuning, was dit steeds 'n uitdaging.

Ons moet dit toegee en aanhou verbeter, veral namate ons toenemend meer hibridiese en gemengde metodes by ons leer en onderrig insluit – want dit is die toekoms.

Die ander kernaktiwiteite van die Universiteit is ewe belangrik. Ons navorsers het vanjaar hul pas verder versnel met innoverende bydraes in die stryd teen die pandemie en die uitwerkings daarvan op die samelewing. Dit is vir my baie aangenaam om te kan sê daar was 'n aansienlike styging in gepubliseerde artikels – dit is die “navorsing vir impak" waarna ons streef.

Ook rakende sosiale impak het ons 'n tasbare verskil in die lewens van baie mense gemaak met aktiwiteite soos die verskaffing van voedselhulp aan kwesbare huishouding in en rondom Stellenbosch, in samewerking met plaaslike vennote.

Ook internasionalisering is uitgebou. Ons kon ons bande met ander universiteite en hoëronderwysvennote regoor die wêreld versterk. Die verskuiwing na die kuberruim het op vele maniere kommunikasie en samewerking baie versnel en vergemaklik, en ons wil graag hierdie momentum behou.

Ek wil ook graag almal bedank wat broodnodige hulpbronne beskikbaar gestel het om ons te help om die talle onvoorsiene uitgawes wat ons vanjaar gehad het, te dek. Dankie aan die regering, die US Raad, filantropiese trusts en stigtings, korporatiewe skenkers en alumni, asook personeellede en studente wat bygedra het.

Dit was 'n baie uitputtende jaar, en ons almal verdien 'n blaaskans. Ek wens jou 'n vredevolle feesgety toe. Sien asb. om na jou eie en ander se gesondheid. Dit is nie nou die tyd om ons waaksaamheid te verslap nie. Kom ons stuit die koronavirus deur aan alle COVID-19 protokolle gehoor te gee.

Mag jy goed uitrus en aanstaande jaar met nuwe krag terugkeer.

Ons beplan om die meeste van ons kampus-aktiwiteite sover moontlik in 2021 te hervat, indien die koronavirus dit toelaat. Ons doel is om weer met kontakonderrig te begin, aangevul deur aanlyn leer, in ooreenstemming met COVID-19-regulasies oor klasgroottes en die handhawing van fisiese afstand. Ons sien uit daarna om kort voor lank al ons studente en personeel te verwelkom.

Ek is trots daarop om deel van die US-span te wees, en bedank jou vir jou bydrae. Kom ons gaan saam vorentoe.

Beste wense

Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier