In Januarie 2021 open die gewilde Pulp-rolprentteater weer eens sy deure om die Pulp Filmvereeniging se films aan die Universiteit Stellenbosch se gemeenskap te vertoon. Die Sentrale Geleentheid- en Konferensiesentrum (CECO) sal voortaan hierdie rolprentteater-kompleks bestuur in noue samewerking met die Pulp-filmvereeniging wat, as die hoof kliënt, voortgaan om hierdie gewilde spasie in Die Neelsie (Langenhoven-studentesentrum) te gebruik.
In die lig van gerugte in die media dat die rolprentteater gaan sluit, het Anita Nel, Hoofdirekteur van Innovus, waaronder CECO val, bevestig dat die Universiteit deurgaans duidelik was oor die punt dat die Pulp-vereeniging voortgaan soos voorheen, of selfs 'n beter ervaring gaan bied. “Die gebruik van die teaterkompleks is al jare lank deel van ons beplanning. Aangesien CECO nou betrokke is, beteken dit dat die rolprentteater ten volle benut sal word as 'n multifunksionele lokaal. Die rolprentteater sal ook gebruik word vir ander geleenthede of konferensies wanneer geen films vir een van die teaters geskeduleer is nie. 'n Geskeduleerde program van geleenthede, in ooreenstemming met CECO, sal verseker dat die groter US-gemeenskap nou ook die voordeel kan hê om van hierdie fasiliteit gebruik te maak. Meer geleenthede sal ook meer voete na die Neelsie bring, tot voordeel van al die huurders. Ons kan die fasiliteit nou ook teen 'n afslagprys aan die Pulp-filmvereeniging aanbied."
Die vorige huurder, Werner de Swardt, wie se huurkontrak tot 'n einde gekom het, lewer steeds 'n diens aan die Pulp-filmvereeniging en sal die versnaperinge-kiosk in die kompleks bestuur ná 'n ooreenkoms met CECO. Volgens die oorspronklike beplanning sal hy ook voortgaan om te help met die verkryging en vertoon van films, sowel as die instandhouding van die bioskooptoerusting as 'n diensverskaffer aan die Pulp-filmvereeniging. SUNCOM beplan ook om die toerusting van die bioskoop op te gradeer en die teater sal herdoop word na die Neelsie-bioskoop in ooreenstemming met die breër benutting daarvan.
Prof Stan du Plessis, Uitvoerende Bedryfshoof, sê hy is opgewonde dat hierdie gewilde lokaal nou beskikbaar sal wees vir die breër US-gemeenskap en doeltreffender gebruik gaan word om ook ander geleenthede te akkommodeer. "As deel van ons breër strategie om ons US-fasiliteite meer doeltreffend te benut en inkomste vir die universiteit te verseker, glo ons dat Pulp Cinema en die Neelsie-kompleks in die toekoms groot voordeel sal trek uit hierdie nuwe ooreenkoms. Ek het vertroue in CECO en glo dat hierdie ooreenkoms die nodige struktuur bied om te verseker dat Pulp-rolprentteater as 'n byeenkomslokaal doeltreffend sal funksioneer tot voordeel van alle betrokkenes. "
Annika Hohbach, die voorsitter van die Pulp-filmvereeniging, sê sy sien uit na 2021 wanneer die vereniging weer sy lede en die breër Stellenbosch-gemeenskap die beste vermaak kan bied. "Ons sien daarna uit om saam met CECO 'n lokaal te skep wat 'n verskeidenheid van dienste aanbied tot voordeel van 'n breër universiteitsgemeenskap, terwyl die lede van die Pulp-vereeniging steeds nostalgie en 'n outentieke teaterervaring sal aanbied."