Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nasima Badsha vereer vir hervorming van hoër onderwys
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 14/12/2020

​​

“Ek wens almal van julle geluk wat vanaand jul kwalifikasies ontvang het ná jare en jare se harde werk. Ek hoop regtig dat julle jul drome en aspirasies sal verwesenlik. Ek hoop julle sal op jul pad vorentoe vordering in jul gekose professies en akademiese vakgebiede maak en dat julle dit op só 'n manier sal doen wat tot die uitbouing van 'n meer regverdige en volhoubare samelewing sal bydra."

Met hierdie woorde het me Nasima Badsha graduandi van die Universiteit Stellenbosch (US) by 'n klein fisieke gradeplegtigheid vir doktorale graduandi van die Fakulteite Krygskunde, Teologie, Opvoedkunde en Regsgeleerdheid toegewens. Die geleentheid is Maandagaand (14 Desember 2020) in die US se Endlersaal in die Konservatorium gehou.

Badsha het by dieselfde geleentheid die graad Doktor in die Opvoedkunde (DEd), honoris causa, ontvang ter erkenning van haar ​​visionêre, dapper en innoverende leierskap om rigting aan die hervorming van die hoëronderwysstelsel in Suid-Afrika te gee.

Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het by die seremonie gesê Badsha was nog altyd toegewyd aan “uitnemendheid en kern-intellektuele dimensies van hoër onderwys" en “intellektuele bydra" in die vorm van beleidsontwikkeling en advies aan die onderwyssektor.

DrNasimaBadsha-7.jpg
“Nasima Badsha het uitsonderlike bydraes tot hoër onderwys in Suid-Afrika gemaak. Haar loopbaan strek oor dertig jaar en bestaan uit baanbrekerswerk, ondersteun deur haar kragtige dryfkrag vir toegang, billikheid en maatskaplike geregtigheid," het De Villiers gesê.

Badsha het in haar toespraak die Fakulteit Opvoedkunde en die Universiteit bedank vir die feit dat hulle haar 'n eredoktorsgraad vereer het.

Sy het 'n beroep op universiteite soos Stellenbosch, die regering, handel en nywerheid en die burgerlike samelewing gedoen om sterk universiteite, en veral navorsingsuniversiteite, te koester, te laat groei en te onderhou sodat hulle kan voortgaan om te floreer en verandering in die samelewing teweeg te bring.

“Die pandemie is 'n skerp herinnering aan die behoefte vir sterk navorsingsuniversiteite in die land en ook op die vasteland wat in staat is om op die voorpunt van nuwe kennis en tegnologie te opereer met onder meer 'n siening om op plaaslike en wêreldwye uitdagings te reageer wat deur armoede, ongelykheid, maatskaplike uitsluiting en klimaatsverwoesting veroorsaak word.

“Ek twyfel geensins daaraan dat die Universiteit Stellenbosch sal voortgaan om 'n leidende rol in die land en verder te speel nie. Ek bring veral hulde aan die rol wat die Universiteit speel om studente van regoor die vasteland te verwelkom en oor die algemeen vir die vlak van ondersteuning wat aan nagraadse studies en vir vroeë loopbaanontwikkeling van ontluikende vakkundiges gebied word."

MEER OOR BADSHA

Nasima Badsha speel reeds sedert tagtigerjare 'n onontbeerlike rol in die transformasie van hoër onderwys in Suid-Afrika.

Sy is in 1951 in Pietermaritzburg gebore. Daarna behaal sy 'n BSc-honneursgraad aan die Universiteit van Londen en 'n nagraadse onderwyssertifikaat in onderwys aan die Universiteit van Leeds. In 1976 keer sy na Suid-Afrika terug as dosent, voordat sy tot akademiese ontwikkeling en studentesake toetree by onderskeidelik die universiteite van Kaapstad en Wes-Kaap.

In 1994 word Badsha deur voormalige president Nelson Mandela aangestel om in die Nasionale Kommissie vir Hoër Onderwys (NKHO) te dien. Hier speel sy 'n sleutelrol in die konseptualisering van 'n nuwe hoëronderwysbedeling. Sy word in 1997 as adjunk-direkteurgeneraal van die Departement van Onderwys aangestel en help om die Wet op Hoër Onderwys van 1997, die Wet op die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente en die Standaard Institusionele Statuut op te stel. Badsha was in beheer van die implementering van die Onderwyswitskrif 3 van 1997 en die Nasionale Plan vir Hoër Onderwys, wat tot grootskaalse herstrukturering van die hoëronderwyslandskap van 2002 tot 2005 gelei het.

Sy dien van 2007 tot haar aftrede in 2018 as die hoof-uitvoerende beampte van die Kaapse Hoëronderwys­konsortium. Suid-Afrika trek steeds voordeel uit haar kundigheid deur haar betrokkenheid by universiteits- en stigtingsrade.


Klik hier om na die volledige gradeplegtigheid te kyk.  ​

In die foto bo van links, Justice Edwin Cameron (US​ Kanselier), Dr ​Nasima Badsha​, Prof Wim de Villiers​ (US Rektor en Visekanselier​) en Prof Mbulungeni Madiba​ ​(Dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde​).