Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Uitmuntende FGGW-akademici vereer met Kanselierstoekenning
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie - Tyrone August
Gepubliseer: 14/12/2020

Elke jaar vereer die Universiteit Stellenbosch 'n paar top presteerders onder die personeel met 'n Kanselierstoekenning vir uitmuntende en volgehoue prestasie. Dit word beperk tot 15 presteerders uit verskillende velde, wat leer en onderrig, navorsing en sosiale impak insluit.

Hierdie jaar sal prof Jimmy Volmink en prof Mariana Kruger van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) onder diegene wees wat vereer sal word by die Universiteit se gradeplegtigheid, wat op 15 Desember sal plaasvind.

"Ek voel baie geëerd met hierdie erkenning van die Universiteit Stellenbosch. Dit was heeltemal onverwags," sê Kruger, die uitvoerende hoof van die Afdeling Pediatrie en Kindergesondheid en die kliniese hoof van die Pediatriese Onkologie-eenheid by die Tygerberg-hospitaal.

“In samewerking met die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement, het die Universiteit Stellenbosch 'n baie bemagtigende opset geskep wat ons as personeel toelaat om ons horisonne te verbreed en ons kennisbasis uit te brei."

Die Departement Pediatrie en Kindergesondheid is 'n groot akademiese departement, en dit sluit die Desmond Tutu Tuberkulose-sentrum (DTTC) en die Gesinsentrum vir Navorsing met Ubuntu (FAMCRU) in.

“Al hierdie werksomgewings het 'n uitstekende navorsingsrekord," sê Kruger, wat in 2009 by die FGGW aangesluit het. “My fokus is daarop om die Departement in 'n rigting te lei wat strook met die strategiese visie van die FGGW, van die Universiteit Stellenbosch en van die Tygerberg-hospitaal."

Haar vorige 25 jaar by die Universiteit van Pretoria en die Gauteng Gesondheidsdepartement het ongetwyfeld daartoe bygedra om haar die waardevolle ondervinding te gee wat sy vir hierdie rol benodig. Sy het haarself as 'n innoverende leier bewys op verskeie gebiede by die Universiteit Stellenbosch gedurende die laaste dekade.

Die Kanselierstoekenning gee erkenning aan haar bydrae op die gebiede van bestuur, leer, en onderrig, asook sosiale impak en diens – 'n werklik verdienstelike ontvanger van hierdie jaarlikse toekenning.

Kruger, ʼn pediatriese onkoloog en etiek-spesialis, is in die besonder trots op die feit dat die aantal voltooide PhD's in die Departement toegeneem het, en ook op die toenemende internasionalisering deur middel van die aktiewe werwing van nagraadse studente vanuit die res van Afrika.

'n Verdere prestasie waarop sy die aandag spits is dat die nagraadse kurrikulum vir spesialis-pediaters getransformeer is om die gesondheidsbehoeftes van die kinders van Suid-Afrika aan te spreek.

“Een groot prestasie is om deel te kon gewees het van die Raad van die International Society of Paediatric Oncology," voeg Kruger by, “wat die proses aangemoedig het om te verseker dat die Wêreld Gesondheidsorganisasie kanker onder kinders as 'n prioriteit daarstel, met die oogmerk om teen die jaar 2030 byna 60 persent van die wêreld se kinders met kanker gesond te kan maak."

Sy beklemtoon die belangrikheid van die bydrae van die personeel tot die verskeie suksesse van die Departement: “Ek is bevoorreg om te kan werk met besonder begaafde personeel, en hierdie toekenning is ook 'n erkenning van die goeie spangees en samewerking in die Departement."

Om vaardighede onder die personeel verder uit te brei, het Kruger 'n ontwikkelingsprogram begin wat daarop gemik is om te verseker dat alle personeel voordeel trek uit die geleenthede om hulle kliniese-, onderrig-, navorsings- en bestuursvaardighede te verbeter.

Verder het Kruger ook 'n noemenswaardige bydrae gelewer tot die regulatoriese raamwerk wat bepaal hoe professionele wetenskaplikes opgelei en onderrig word, en ook hoe hulle geregistreer word.

Vanaf 2010 tot 2015, het sy gedien op verskeie komitees van die Raad van Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA), insluitend as 'n raadslid, as die voorsitter van die komitee van Buitelandse Registrasie, en as 'n lid van die HPCSA se Opleiding- en Registrasiekomitee. Sy was ook 'n lid van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) se etiese hersieningskomitee vanaf 2002 tot 2006, en is onlangs gevra om te dien op die Raad se nuutgestigte Bio-etika se Paneel van Raadgewers.

Verder het internasionale samewerking ook toegeneem onder Kruger se leierskap. Sy het 'n formele pediatrie-onkologieprogram tot stand gebring wat saamwerk met sendinghospitale in Kameroen, en die FGGW bied nou 'n gesamentlike PhD-graad aan saam met die Vrije Universiteit van Amsterdam.

Buiten hierdie inisiatiewe, handhaaf  Kruger steeds 'n hoë vlak van produktiwiteit as 'n navorser. Sy het wyd gepubliseer, en was ook die hoofnavorser op verskeie pediatriese kliniese proewe, en 'n mede-navorser op 'n hele paar ander.

“Tot dusver, het ek die grootste deel van my loopbaan by die Universiteit Stellenbosch deurgebring," sê Kruger, “en ek hoop om te kan voortgaan om 'n bydrae te lewer tot 'n opset waar kinders met kanker genees kan word."

Die Universiteit Stellenbosch het in die verlede erkenning gegee aan haar totale bydrae deur aan haar die Rektorstoekenning vir Algemene Prestasie te gee in beide 2012 en 2013. Die Kanselierstoekenning is verdere erkenning van haar uitsonderlike diens.

Haar nominasie lui soos volg: “Haar visionêre, energieke en innoverende leierskap het gelei tot volgehoue uitmuntendheid, en het 'n omgewing geskep wat dit vir die Universiteit en die Fakulteit moontlik maak om vinnig te reageer om die kapasiteit vir leer, navorsing en innovering te versterk om sodoende die huidige gesondheidsuitdagings met mening te kan aanpak in die plek waar ons onsself bevind."

Volmink, die Dekaan van die FGGW, is genomineer vir 'n Kanselierstoekenning deur die Fakulteit se bestuurspan – 'n huldeblyk aan die hoë agting wat sy kollegas het vir beide sy leierskap en sy akademiese prestasies.

Hulle motivering verwys na sy “volgehoue bydrae tot die visie van die Universiteit, sy leierskapsrol beide in die Fakulteit, en die Universiteit, asook op 'n nasionale vlak, sy indrukwekkende akademiese werk, en sy hoë aansien op 'n internasionale vlak".

Volmink het oor 'n lang tydperk van meer as drie dekades 'n uitnemende loopbaan gehad op die gebied van epidemiologie. Terwyl hy as huisarts en distriksgeneesheer in Kaapstad gewerk het, het hy 'n meestersgraad in epidemiologie van die Universiteit van Harvard ontvang in 1988.

Vanaf 1990 tot 1993, was hy 'n Spesialis-wetenskaplike by die SAMNR se Sentrum vir Epidemiologiese Navorsing in Suider-Afrika. Hy het daarna sy studies in epidemiologie voortgesit en 'n DPhil-graad van die Universiteit van Oxford ontvang in 1996.

Vandag is Volmink Professor by die Universiteit Stellenbosch, en het hy meer as 30 jaar se onderrig-ervaring. Hy het 'n leidende rol gespeel in die ontwikkeling van die MSc in Kliniese Epidemiologie by die universiteit – een van die universiteit se voorste Meestersprogramme, met oor die 100 gegradueerdes tot dusver.

Verder het Volmink ook aansienlike kundigheid verwerf in bewys-gebaseerde gesondheidsorg, 'n redelike nuwe globale verwikkeling in geneeskunde, wat daarop berus dat besluitneming in gesondheidsorg gebaseer moet wees op betroubare bewyse vanuit kliniese navorsing.

Die SAMNR het hom genader om in 1997 die SA Cochrane-sentrum Centre (nou genaamd Cochrane SA) te stig waar hy as direkteur en hoof Wetenskaplike Spesialis gedien het. Hierdie verwikkeling het die basis gevorm van die formele bevordering van bewys-gebaseerde geneeskunde (evidence-based medicine - EBM) in Suid-Afrika.

Volmink word nou gereken as 'n wêreldleier op die gebied van EBM, en het in 2015 die Leverhulme-medalje van die Liverpool School of Tropical Medicine onvang vir sy bydrae tot bewys-gebaseerde gesondheidsorg. Hy het ook ʼn Ere-toekenning ontvang van die SAMNR vir sy bydrae tot bewys-gebaseerde gesondheidsorg, en in Februarie 2021 sal Volmink ʼn eredoktorsgraad van KU Leuven in België ontvang ter erkenning van die werk wat hy gedoen het om menslike waardigheid te bevorder en die bydra wat hy tot die wetenskap en praktyk ten bate van gesondheid en welstand gemaak het.

Sy nominasie vir die Kanselierstoekenning dui daarop dat sy werk in bewys-gebaseerde gesondheidsorg, en sy ontwikkeling van navorsingskapasiteit in die besonder in lae- en middel-inkomste lande, “voortgaan om 'n beduidende impak te hê op die lewens van baie mense".

Volmink se kundigheid op vele ander gebiede het ook erkenning gekry. Hy is 'n huidige of vorige lid van komitees en adviserende rade van 'n aantal internasionale organisasies, insluitende die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) en die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram, die Wêreldbank, en die WGO se Spesiale Program vir Navorsing en Opleiding in Tropiese Siektes.

Ten spyte van sy betrokkenheid by 'n wye reeks aktiwiteite, ruim hy steeds tyd in vir navorsing en onderrig by die Universiteit Stellenbosch. Soos vermeld in sy nominasie vir die Kanselierstoekenning: “Professor Volmink het die rol van mentor vervul vir 'n groot aantal jong navorsers, beide op 'n formele en informele vlak, het as eksterne eksaminator gedien, ook vir verskeie tesisse van universiteite in Suid-Afrika sowel as internasionaal." Hy is tans die promotor van twee PhD-kandidate.

En, selfs na hy in 2011 die Dekaan van die Fakulteit geword het, het hy voortgegaan om steeds wyd te publiseer. In totaal, het hy al meer as 200 ewekniebeoordeelde artikels geskryf, meeste daarvan op die gebied van epidemiologie en bewys-gebaseerde gesondheidsorg. Hy het ook 24 boekhoofstukke, nege tegniese verslae en verskeie redakteursbriewe en kommentare geskryf.

Sy impak op navorsing strek egter veel verder as sy eie navorsingsprojekte. Na sy aanstelling as Visedekaan (Navorsing) by die Universiteit Stellenbosch in 2006, het hy navorsingsontwikkeling en ondersteuningstrukture geskep wat verseker het dat die inkomste van groot skenkings gegroei het van minder as R20 miljoen in 2005, tot omtrent R157 miljoen teen 2010. Dit groei steeds en eksterne navorsingsbefondsing oorskry tans R500 miljoen. 

“Professor Volmink, tydens sy dienstermyn as Dekaan, gaan voort om die Fakulteit te lei deur 'n proses wat daarop gemik is om uitnemendheid in navorsing en innoverende onderrig te bevorder en om 'n inklusiewe kultuur vir personeel en studente daar te stel," volgens sy nominasie.

“Ons glo dat, as 'n voorbeeld van 'n uitstekende akademikus, en as 'n persoon wat werklik die waardes van die Universiteit Stellenbosch uitleef, hy 'n waardige ontvanger van die luisterryke Kanselierstoekenning sal wees."

Volmink, 'n verkose lid van die Akademie van Wetenskap van Suid-Afrika en 'n verkose genoot van die Royal College of Physicians van Edinburgh, gee erkenning aan sy kollegas vir hulle bydrae tot sy suksesvolle dienstermyn as Dekaan. "Ek is diep dankbaar vir hierdie eer, maar terselfdertyd ook bewus daarvan dat uitmuntendheid 'n spanpoging is," het hy gesê.

“Sonder die ondersteuning van kollegas, en die toegewydheid van my bestuurspan in die besonder, sou geen van die prestasies waarvoor ek erkenning ontvang, moontlik gewees het nie. Ek is werklik geseënd om met sulke uitsonderlike mense te kan saamwerk."


Onderskrif: Proff Mariana Kruger en Jimmy Volmink. Foto deur Stefan Els