Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vereer wyle Rachel Kachaje vir haar visionêre leierskap
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 14/12/2020


Die Universiteit Stellenbosch het vandeesweek wyle me Rachel Kachaje, wat vroeër vanjaar oorlede is, postuum met 'n eredoktorsgraad vereer. Die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil), postuum honoris cause, is aan haar toegeken vir haar kreatiewe en visionêre leierskap om die debat oor gestremdheid na streeks- en internasionale platforms te verhoog.

Haar man, Gibson, het die eretoekenning namens haar gesin van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe ontvang by 'n klein, fisieke gradeplegtigheid vir doktorale graduandi wat Maandagoggend, 14 Desember 2020 in die US se Endlersaal in die Konservatorium gehou is.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het by die geleentheid gesê Kachaje se “doeltreffendheid om voorspraak vir gestremdheid te doen" het nie ongesiens verbygegaan nie en die Universiteit “huldig haar buitengewone werk" om voorspraak vir die volle insluiting van mense met gestremdhede op plaaslike, streeks- en internasionale vlak te doen.

HonDocAbsentia-3.jpg

“Kachaje was vir meer as 25 jaar 'n gestremdheidsaktivis en voorstander van gelyke geleenthede en regte vir mense met gestremdhede in Malawi, die Afrika-streek en internasionaal. Sy het die bevooroordeelde idees oor gestremdheid uitgedaag en was bekend vir haar vermoë om jongmense met gestremdhede te inspireer en vir haar aktiewe uitlewing van die waardes van deernis, respek, uitnemendheid, verantwoordelikheid en billikheid," het De Villiers gesê.

Kachaje, wat op driejarige ouderdom gestremd raak weens polio, was werksaam by die Nasionale Bank van Malawi toe sy vir die eerste keer aangesluit het by die gestremdheidsbeweging in Malawi. In die negentigerjare word Kachaje medestigter van die Federasie van Gestremdheidsorganisasies (FEDOMA) en verteenwoordig FEDOMA hierna in die Suider-Afrika Gestremdheidsfederasie (SAFOD).

Hierbenewens het sy verskeie vooraanstaande leierskapsposisies beklee – sy was onder meer 'n raadslid van die Afrika-gestremdheidsalliansie en die EquitAble-projek van die Trinity Kollege en die Universiteit Stellenbosch; medestigter van Disabled Women in Development; kommissaris van die Nasionale Vigskommissie; en sekretaris van die raad van die Afrika-gestremdheidsforum.

Sy word as Minister van Gestremdheid- en Bejaardesake in Malawi aangestel en in 2004 ontvang sy ʼn Malawi-menseregtetoekenning asook 'n diversiteitsleiertoekenning. Sy was deel van die VN-konvensie se baanbrekersonderhandelinge oor die regte van mense met gestremdhede (UNCRPD) en het bygedra tot besprekings rondom die Millennium-ontwikkelingsdoelwitte (MOD's).

“Kachaje het 'n bewese vermoë gehad om die agendas van mense met gestremdhede in die algemeen, en veral vroue en meisies met gestremdhede, te bevorder. Dit was haar missie om vir mense met gestremdhede te veg en dit te bevorder en om 'n lewe te lei wat hulle altyd op 'n positiewe manier sou beïnvloed," het De Villiers gesê.

Klik hier om na die volledige gradeplegtigheid te kyk. ​

In die foto bo van links, Prof Wim de Villiers​ (US Rektor en Visekanselier​), Prof Anthony Leysens ​(Dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe ​), Gibson Kachaje en Justice Edwin Cameron (US​ Kanselier).