Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Miniatuur Gorrelskurwepaddas op Mauritius en Réunion verstom navorsers
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 08/12/2020

​Navorsers van die DWI/NNS Sentrum vir Indringerbiologie by die Universiteit Stellenbosch het bevind dat, skaars 'n honderd jaar nadat Gorrelskurwepaddas aan die eilande van Mauritius en Réunion bekendgestel is, hulle algehele liggaamsgrootte met tot 'n derde gekrimp het in vergelyking met die grootte van hulle eweknieë in Suid-Afrika.

Gorrelskurwepaddas, inheems tot Afrika en bekend vir hul grootte, is in 1922 aan Mauritius bekendgestel as 'n biokontrole vir die rietkewer, en in 1927 van daar aan Réunion, ten einde malariadraende muskiete te beheer. Navorsers, besig om dié geskiedenis te ondersoek, was egter verstom oor hoeveel kleiner die eilande se skurwepaddas geword het.

“Dit is bekend dat verdwerging onder amfibieë in baie stambome oor miljoene jare heen plaasgevind het, maar hierdie studie het getoon dat dit oor 'n tydperk van minder as 100 jaar plaasgevind het, wat vrae laat ontstaan oor die evolusionêre meganismes wat hierdie verandering dryf," sê Dr James Baxter-Gilbert, hoofouteur van die artikel getiteld: “Shrinking before our isles: The rapid expression of insular dwarfism in two invasive populations of guttural toad (Sclerophrys gutturalis)", wat onlangs in die vaktydskrif Biology Letters gepubliseer is.

Nog 'n belangrike bevinding is die opvallende inkorting in lengte van hierdie amfibieë se agterbene. Volgens die navorsers kan dit te wyte wees aan veranderinge ten opsigte van hul voortplantingstrategie, of die afwesigheid van die padda se natuurlike predatore. Alternatiewelik kan dit ook toegeskryf word aan die feit dat toe hulle eers regoor die eilande versprei het, die nodigheid vir verdere verspreiding nie meer 'n belangrike dryfveer was nie. Laasgenoemde verskynsel is soortgelyk aan tendense wat onder eilandvoëls waargeneem word wanneer hulle hul vermoë om te kan vlieg, verloor. 

Alhoewel bioloë bekend is met hierdie tipe verandering wat plaasvind wanneer koloniserende dierepopulasies aanpas by die eilandleefwêreld – 'n verskynsel wat bekend staan as die Eilandsindroom − word grootskaalse veranderinge in liggaamsgrootte (bv. dwerggroei of gigantisme) geassosieer met lang evolusionêre prosesse wat oor duisende of miljoene jare strek.

“Die Eilandreël voer aan dat groot geboude vastelandspesies met verloop van tyd sal verdwerg soos wat hulle by die eilandlewe aanpas. Ons weet dit uit fossiel- en historiese rekords, soos byvoorbeeld die dwergseekoeie (Hippopotamus creutzburgi) en dwergolifante  (Mammathus creticus) van Kreta wat gedurende die Pleistoseentydperk geleef het; terwyl klein geboude vastelandspesies sal groei en reusagtig word, soos byvoorbeeld die vreeslose Dodo's (Raphus cucllatus) van Mauritius met hul bonormale grootte," verduidelik Dr Baxter-Gilbert.

Hierdie navorsing is 'n fassinerende eerste stap in die begrip van hoe hul biologiese indringing, die biologie van hierdie amfibiese eiland-indringer radikaal kan verander. Die volgende stap is nou om te bepaal watter meganismes hierdie veranderinge dryf.

Dr Baxter-Gilbert is 'n nadokterale genoot verbonde aan Prof John Measey se navorsingsgroep in die Sentrum vir Indringerbiologie.​

Toads from Mauritius_small.png

Op die foto bo, 'n volwasse vroulike Gorrelskurwepadda van Durban (A), in vergelyking met 'n volwasse manlike en vroulike Gorrelskurwepadda van Mauritius (B).  Foto's: James Baxter-Gilbert (A) en John Measey (B).