Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tyd vir nuwe IHO-perspektiewe in 2021
Outeur: Robert Kotze, Senior Director: Stellenbosch University International
Gepubliseer: 07/12/2020

​Ek het my vorige brief afgesluit met die woorde: “Die nuwe internasionaliseringslegkaart kan dalk selfs sonder 'n raam wees – net eindelose lug en wolke – 'n herstel van die natuur en 'n terugkeer na die basiese …"

Die jaar 2021 sal inderdaad 'n tyd wees om buite die algemeen aanvaarde “raam" vir die internasionalisering van die hoër onderwys (IHO) te beweeg. Daar sal steeds baie wees om uit te pluis, maar gelukkig darem met duidelike kernelemente om ons te lei. IHO sal steeds daaroor gaan om 'n internasionale, interkulturele en globale element by die ervaring van die universiteitsgemeenskap in te sluit – “die lug". By die Universiteit Stellenbosch bied ons Internasionaliseringstrategie verdere, meer konkrete rigtingwysers – die legkaartstukke wat die dakke, riviere en bome voorstel. Dít sluit in:

  • om 'n internasionale element by alle tersaaklike institusionele beleide en beleidshersieningsprosesse in te sluit;
  • om sterker fokus te gee aan die bestaande wye verskeidenheid internasionaliseringsaktiwiteite by die instelling;
  • om op 'n soepel en aanpasbare manier op internasionale geleenthede te reageer; en
  • om binne die groter Suid-Afrikaanse hoëronderwyskonteks saam te werk om gesamentlik internasionale vennootskappe en internasionaliseringsgeleenthede te skep en daaraan deel te neem.

    Al hierdie legkaartstukke dra by tot 'n prentjie van die US as 'n betroubare wêreldspeler, 'n voorkeurvennoot in Afrika, en 'n plek waar alle personeellede, ongeag hulle primêre taak, ook hulle onderskeie rolle in internasionalisering aanvaar. Dít het ons reeds in November geïllustreer met ons vieringe van Afrika-universiteitsweek, sowel as ons eerste ontwikkelingsprogram vir steundienstepersoneel wat ons aanlyn saam met die Universiteit van Lund aangebied het.

    As US Internasionaal, sal ons in 2021 ook die geleentheid hê om mense by die internasionaliseringsprentjie in te sluit. Ons beoog om dít te doen deur:
  • die hibridiese mobiliteitsnaaf in werking te stel om sowel kontak- as virtuele internasionale mobiliteit vir ons studente te skep, en personeellede in staat te stel om geleenthede vir globale leer in akademiese programme te ontwerp;
  • internasionaliseringsprosesse in fakulteite te ontwikkel met behulp van toegewyde kontakte in US Internasionaal, en internasionalisering sodoende nader te bring aan akademiese personeel, wat kernbelanghebbendes is in vele internasionaliseringsaktiwiteite en -intervensies;
  • 'n vennootskapsnetwerk te implementeer om 'n duidelike struktuur vir ons belanghebbendeskakeling te voorsien sodat sowel personeellede as studente groter voordeel uit ons verhoudings met instellings in en buite Afrika kan put; en
  • ons omvattende vennootskapsportefeulje verder uit te bou sodat ons kan voortgaan om met 'n kerngroep universiteite te skakel en verdere impakryke geleenthede vir die US sowel as sy vennootinstellings te voorsien.

 Ek sluit af met 'n effens aangepaste weergawe van my woorde in my vorige brief:

“Die nuwe internasionaliseringslegkaart sal steeds uit dieselfde kernelemente bestaan: die dakke, riviere, bome en mense. Navorsingsamewerking sal dalk anders wees, maar sal steeds gesamentlike publikasies as uitset lewer. Gesamentlike akademiese programme sal moontlik 'n sterker aanlyn komponent hê, maar sal steeds die toegevoegde waarde van sertifikasie en persoonlike groei bied. Studenteprogramme sal in wese meer globaal wees, maar sonder onnodige rompslomp en 'n gewag by vertrektoonbanke.

Die nuwe internasionaliseringslegkaart sal uit die bekende kernstukke bestaan, maar sal 'n verstelbare raam hê om meer moontlikhede vir die mense by ons instelling te ontsluit."

Masiye phambili!

Robert Kotzé

Senior Direkteur: US Internasionaal