Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Instituut vir Plantbiotegnologie – ’n Terugblik op 2020
Outeur: C van der Vyver
Gepubliseer: 04/12/2020

Wanneer ons eendag na 2020 terugkyk, sal ons ons verwonder oor die distopiese werklikheid so reg uit 'n wetenskapfiksiefliek! Dit was 'n vreemde jaar met ontsaglike uitdagings wat ons moes aanpak en oorkom, en wat waarskynlik in 2021 sal voortduur. Nietemin kan die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB) met trots terugkyk op ons personeel en studente se prestasies in die afgelope 12 maande.

Kwalifikasies en publikasies

Navorsingswerk wat gedurende 2020 afgehandel is, het uitgeloop op twee doktorsgrade (drs Hanno Loubser en Anke Wiese) en ses meestersgrade (Felix van der Walt, Rafael Keret en Ethan Hunter almal cum laude, en Michael Rosmarin, Nelisa Mbambalala en Nick Enslin). Sewe Honneurs-BSc-studente het ook hulle grade verwerf – Cosima Babl en Rebecca Hurst cum laude. Ons graduandi het navorsingswerk van werklik hoogstaande gehalte verrig, en dit het internasionale ewekniebeoordeelde publikasies opgelewer: (1) dr Loubser se werk oor biostimulante vir die versterking van plantgroei het in die vaktydskrif Plant verskyn, (2) mnr Hunter het 'n splinternuwe ontdekking gemaak, wat in BMC Research Notes gepubliseer is, deurdat hy 'n kannabinoïed-agtige samestelling (adrenoïel-EA) in die blomme van die Suid-Afrikaanse medisinale plant Leonotis leonurus waargeneem het, en (3) me Mbambalala het daarin geslaag om droogtebestande GM-suikerriet te ontwikkel en haar werk is in Plant Molecular Biology Reporter gepubliseer.

Voortgesette navorsingsprojekte

Die navorsing wat vereis word vir die befondsing wat dr Paul Hills onlangs vanaf die biostimulantmaatskappy Keplak bekom het, het vanjaar begin met dr Nic le Maitre wat as postdoktorale navorser aangestel is om op hierdie projek te fokus. Dr Le Maitre het tydens die nasionale grendeltyd by die IPB aangesluit en kon weens ons beleid om voldoende sosiale afstand te handhaaf nog nie alle kollegas in die Instituut se laboratorium ontmoet nie. Die res van die laboratoriumpersoneel sien daarna uit in 2021 om nouer met hom saam te werk. Dr Christell van der Vyver het 'n nuwe, befondsde samewerkingsooreenkoms met Kudu Biotech beding om 'n weefselkultuur en voerlyn vir transformasievermoëns vir subtropiese vrugtebome te ontwikkel. Dr Shaun Peters het aktief met kollegas drs Marical Krüger en Jeannine Marais, van die Departement Voedselwetenskap, begin saamwerk aan produkontwikkeling uit dhalboontjies. Die eerste studenteprojek oor hierdie tema fokus op 'n vergelyking tussen falafel wat van kekerertjies gemaak is en falafel van dhalboontjies. Ons sien daarna uit om hierdie falafels een of ander tyd te proe! Profs James Lloyd en Jens Kossmann het 'n gesamentlike navorsingsprojek onderneem saam met Pure Holding AG, wat in Switserland gevestig is en een van die grootste volledig vertikaal geïntegreerde vervaardigers van Cannabis-produkte in die Europese mark is. Ons is opgewonde daaroor om in die afsienbare toekoms die uitkomste van hierdie nuwe samewerkings- en ander projekte te sien.

'n Ander nuwe en opwindende ontwikkeling is die vestiging van die afwentelmaatskappy Immobazyme, wat by die IPB geïnkubeer sal word. 'n Voorlopige patent wat daarmee verband hou, is gevestig oor oorspronklike idees en werk van die nagraadse navorsers Nick Enslin, Ethan Hunter en Dominic Nicholas waarin hulle deur dr Shaun Peters, dr Bianke Loedolff en prof Leon Dicks (Departement Mikrobiologie) bygestaan is. Immobazyme is in samewerking met Innovus, die Universiteit Stellenbosch se afdeling vir tegnologie-oordrag, op die been gebring. Kom meer te wete: https://www.2oceansvibe.com/2020/11/05/stellies-angel-investors-are-throwing-money-at-these-five-start-ups/#ixzz6fTlf0LLM