Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US herverbind tot gelyke deelname vir mense met gestremdheid
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 03/12/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) se verklaring om gestremdheidinsluiting 'n prioriteit in 2020 te maak, het 'n volle omwenteling bereik met die viering van die Internasionale Dag vir Persone met Gestremdheid wat Woensdag gevier is.

Die Internasionale Dag vir Persone met Gestremdheid word jaarliks op 3 Desember gevier om die volle en gelyke deelname van persone met gestremdheid in die samelewing en die ekonomie te bevorder.

Die virtuele geleentheid ter viering van die dag is deur AfriNEAD – 'n Pan-Afrikaanse netwerk wat deur die US se Sentrum vir Gestremdheid- en Rehabilitasiestudies (SGRS) op die been gebring is om te verseker dat netwerke en navorsing tot 'n beter lewensgehalte vir mense met gestremdhede bydra – en die Stad Kaapstad aangebied.

Vanjaar se geleentheid se tema was Building Back Better: toward a disability-inclusive, accessible and sustainable post COVID-19 world en het 'n vertoning deur 'n dansgroep, Unmute, ingesluit, terwyl 'n groep mense met gestremdhede 'n toneelstuk opgevoer het en Michelle Botha en Lois Strachan het musiek verskaf.

Die voorsitter van AfriNEAD en direkteur van die SGRS, prof Gubela Mji, het 'n beroep op persone met gestremdhede gedoen om die leiding te neem in gestremdheidsnavorsingsbewyse.

“Persone met gestremdhede moet wegbeweeg van die feit dat daar altyd navorsing oor hulle gedoen word. Die tyd moet aanbreek dat hulle die leiers op die gebied van navorsingsbewyse word en vennootskappe in navorsingsbewyse vorm," het Mji gesê.

Sy het gesê akademiese inrigtings moet hervorm vir dit om te gebeur, ten einde studente met gestremdhede in te sluit sodat hulle toegerus kan word met die navorsingsvaardighede om 'n leidende rol in die voortdrywing van gestremdheidsnavorsingsbewyse te speel.

Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het in sy toespraak gesê die Universiteit is verbind tot die bevordering van die volle en gelyke deelname van persone met gestremdhede en om stappe te doen vir hul insluiting by alle aspekte van die samelewing en ontwikkeling.

“Dit is hoekom ek op hierdie dag verlede jaar aangekondig het dat 2020 die Jaar van Persone met Gestremdhede by die Universiteit Stellenbosch sou wees. Soos ons almal weet, het COVID-19 die wêreld minder as 'n maand ná hierdie aankondiging getref en het dit ons planne omvergegooi. Maar ek is bly om te kan sê dat ons personeel en studente met veerkragtigheid en vasberadenheid op die krisis gereageer het en hard gewerk het om nie net die akademiese jaar te red nie, maar ook om ons strategiese doelwitte op koers te hou.

“Ons het reeds in die sewentigerjare met hierdie reis begin en het deur die jare só gevorder dat ons in 2007 'n volwaardige, toegewyde eenheid vir gestremdhede kon stig. Ons laat nou meer as 400 studente per jaar toe wat 'n gestremdheid bekendgemaak het – en baie meer wat eers later na vore kom vir hulp met bystandstegnologieë, psigososiale ondersteuning, akademiese mentorskap, inligting oor finansiële bystand, geleenthede vir gestremdheidsport, ensovoorts."

Volgens De Villiers het baie US-studente met gestremdhede wat deur die jare gegradueer het, leierskapsposisies in Suid-Afrika en elders in die wêreld beklee en lewer hulle betekenisvolle bydraes tot die samelewing.

Hy het gesê die tema van die Internasionale Dag wat op die tydperk ná COVID-19 fokus met die oproep om beter oor te bou, is in die kol.

“Die koronaviruspandemie het 'n verwoestende uitwerking op die wêreld gehad, maar dit het terselfdertyd vir ons die geleentheid gegee om die manier waarop ons goed doen, te heroorweeg, om te herbeplan, herontwerp en uiteindelik die samelewing te herbou … beter as tevore.

“Interessant genoeg kon die meeste van ons studente met gestremdhede, ondanks die uitdagings daarin slaag om hul studies aanlyn voort te sit. Hulle het inderdaad op baie maniere vir ons die rigting aangedui omdat hulle reeds lankal daaraan gewoond is om aanlyn te werk en om bystandstegnologieë vir hul onderrig te gebruik.

“So, hier het ons nou 'n geleentheid, selfs terwyl ons voortbaklei teen die pandemie. Ons kan gevoelens van moegheid en hopeloosheid teenwerk met 'n doelwit wat vir ons energie gee – die visie van 'n gestremdheid-inklusiewe, toeganklike en volhoubare wêreld ná COVID-19. Kom laat daardie visie ons aanpor om groter bewustheid oor gestremdheidskwessies te skep, om die nodige beleide en prosesse in te stel, om meer inligting en opleiding te verskaf, om studente en personeel met gestremdhede beter te ondersteun en om die bykomende hulpbronne te vind wat hiervoor nodig is."

Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, het in sy toespraak gesê mense met gestremdhede word te dikwels oor die hoof gesien en weggesteek, eerder as om 'n deel van die samelewing te wees.

“Ons omgewing van instaatstelling moet baie meer gefokus wees. Hoewel ons maatskaplike ontwikkelings- en gesondheidsafdelings geld beskikbaar stel vir programme veral vir kinders met gestremdhede, moet ek erken dat daar vir ons nog baie werk voorlê. Dit is 'n reis waaraan ons almal moet deelneem om 'n beter omgewing vir mense met gestremdhede te skep," het hy gesê.