Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ned beywer haar om die lewens van mense met gestremdhede te verbeter
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 03/12/2020

Dr Lieketseng Ned, ʼn navorser aan die Departement Globale Gesondheid, is onlangs aangestel as die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger van die Gemeenskapsgebaseerde Rehabilitasie Afrika-netwerk.

Dit is die jongste van verskeie prestasies deur die 31-jarige akademikus wat doseer by die Sentrum vir Rehabilitasiestudies (SRS) by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). Sy oorsien die SRS se nagraadse diploma-program en het al boekhoofstukke en artikel in vakjoernale gepubliseer. In 2018, op die ouderdom van 29, was sy die jongste persoon in haar departement om ʼn PhD te ontvang.

Verlede jaar was sy aangewys as een van die Mail & Guardian se 200 Jong Suid-Afrikaners om dop te hou en sy is ook die ondervoorsitter van die Wes-Kaap Rehabilitasiesentrum se fasiliteitsraad.

Die Gemeenskapsgebaseerde Rehabilitasie Afrika-netwerk is ʼn onafhanklike nie-regeringsorganisasie wat spesialiseer in die netwerking en deel van inligting oor gestremdheid en gemeenskapsgebaseerde rehabilitasie (GBR) in Afrika. 

"Dit is die netwerk se mandaat om lesse aan verskillende Afrika-lande te verskaf om dienslewering te bevorder wat die lewens van mense met gestremdhede verbeter. Dit word gedoen deur samewerking tussen verskeie rolspelers en plaas mense met gestremdhede as die middelpunt," het Ned gesê. Sy is oorspronklik van Mount Fletcher in die Oos-Kaap en is lank reeds bekommerd daaroor dat ofskoon die meeste gestremde mense wêreldwyd in die globale suide woon, studies oor gestremdheid gedomineer word deur "denkwyses van die noorde".

Ned het in ʼn onderhoud gesê dat sy baie bly is oor haar aanstelling. "Ek moet groot skoene vul, maar dit is ʼn opwindende geleentheid en ek wou nog altyd hierdie soort werk doen," het sy gesê. "Dit resoneer met die SRS se visie om uitnemendheid in die transformasie van gestremdheid vooruit te help deur middel van vennootskappe. Die aanstelling bied geleenthede vir die bevordering van die gestremdheid- en rehabilitasie-agenda in Suid-Afrika waar dit al vir ʼn geruime tyd op die kantlyn geplaas is."

Oor haar rol as landsverteenwoordiger het Ned gesê dat sy die eerste kontakpersoon vir GBR-werk in Suid-Afrika is, selfs met belang tot navorsing wat hulle wil doen. "Dit sal deur my gaan. Dit is my taak om samewerkingsgeleenthede te identifiseer tussen netwerke en organisasies wat GBR-werk in Suid-Afrika doen, ek moet nuwe lede werf en die netwerk ondersteun deur inligting van Suid-Afrika te bekom vir hulle nuusbrief en ander publikasies, onder andere."

Ned het gesê dat sy al ʼn geruime tyd lank ʼn lid van die netwerk is. "Ek neem deel aan hulle konferensies waarvan die mees onlangse een in Zambië was. Ek het meer betrokke geraak by die netwerk toe ek in 2014 by die US aangesluit het, en voor dit het ek baie oor hulle gelees terwyl ek my meestersgraad gedoen het, wat oor GBR gegaan het.

"Ek het nog altyd belang gestel in GBR en het daarom ʼn lid geword en hulle konferensies begin bywoon. Vroeër vanjaar het hulle ʼn oproep gemaak vir aansoeke vir landsverteenwoordigers vir die verskillende Afrika-lande, en ek het aansoek gedoen en was suksesvol."

Buiten haar pligte by die netwerk, gaan Ned ook voort met akademiese werk en doen sy tans navorsing oor die ervarings van mense met gestremdhede tydens die Covid-19-pandemie "aangesien die meeste reaksies nie gestremdheid ingesluit het nie."

Afgevra wat sy graag sal wil bereik in hierdie rol, het Ned die volgende gesê: "Ek wil graag mobiliseer vir doeltreffende implementasie van GBR en wil graag bydra tot die herinstelling van geakkrediteerde opleiding van GBR-werkers. Dit sal daartoe bydra om die onvoldoende rehabilitasie-behoeftes, veral in die landelike konteks, aan te spreek."

Onderskrif: Dr Lieketseng Ned is aangestel as die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger van die Gemeenskapsgebaseerde Rehabilitasie Afrika-netwerk.  Foto deur Wilma Stassen.