Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Betekenis en bewustheid in die slimfoon-era: Dr Daan le Roux
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 26/11/2020

Hy's nie 'n soort neo-Luddiet wat onnodig krities is oor nuwe tegnologie nie. Hy wil net verseker dat mense die voor- én nadele van skermtegnologie bewustelik opweeg en in hul gebruik daarvan steeds betekenisvolle lewens lei. Hy hoop mense kan dit pro-leer, pro-welstand, pro-innoverende denke en pro-kreatiwiteit gebruik. So sê dr. Daan le Roux van die Departement Inligtingwetenskap, 'n man wat uit die aard van sy navorsing oor hoe hul verknogtheid aan hul slimfone jongmense se aandagspan en studievermoëns kan verander, sy mening op meer as net braaivleisvuurpraatjies kan staaf.

“As tegnologie 'n betekenisvolle lewe ondersteun, then I'm all for it. Daar's egter niks wat my so frustreer soos blinde tegno-optimisme wat dit eenvoudig as 'beter' en 'meer' beskou nie. Dis naïef en kortsigtig. Ons het eerder 'n genuanseerde, gebalanseerde, empiries gefundeerde idee oor ons werklike omgang met tegnologie nodig," gesels hy tydens 'n skerm-tot-skerm onderhoud.

“Ja, dis waar, as ek Google Maps op my foon het, kan ek my pad makliker kry. En ja, omdat ek e-pos op my foon het kan ek saans nege-uur voor ek gaan slaap dit lees. Die vraag is egter of dit goed en reg is, en of dit slim is om dit te doen. Ek stel belang in die rol wat tegnologie op ons welstand in die algemeen speel. “

Dr. le Roux het deur sy voorgraadse studies in rekenaarwetenskap en visuele ontwerp aan die Universiteit van Pretoria in die vroeë 2000's 'n waardevolle tegniese onderbou ontvang. Na 'n jaar of wat se praktiese ondervinding in Brittanje doseer hy sedert 2007 aan die US se Departement Inligtingwetenskap – 'n departement waarin hy sy M-graad en PhD (in 2013) in Sosio-Informatika onder leiding van invloedryke stemme soos prof. Johann Kinghorn en wyle prof. Hans Müller behaal het.

In 2014 het hy 'n nuwe honneursvlak-program, die BComHons in Informasiestelselbestuur  ingevoer, en die program het in 2016 reeds sy eerste graduandi opgelewer.

Sedertdien het dr. Le Roux vir homself 'n niche uitgekap in 'n veld waarin min navorsingstemme uit Afrika nog te hore is. Sy Tegnologie en Kognisienavorsingsgroep, wat in 2013 gestig is, is toonaangewend in Suid-Afrika en Afrika as dit kom by die bestudering van hoe selfoongebruik studenteprestasie en -welstand beïnvloed.

Hy erken daar is nog geen klinkklare bewyse oor watter invloed dit op mense se kognitiewe patrone, gedrag en aandagspan het om omtrent alles deesdae op hul fone (en sommer gelyk ook!) te kan doen en permanent aanlyn gekonnekteer te wees nie.

“Die veld is nog maar 'n pasgebore babatjie, maar het baie vinnig begin groei sedert die bekendstelling van die iPhone in 2007. Daarna het die gebruik van slimfone oor die afgelope dekade ontplof. Dis maar 'n oogwink in die evolusie van 'n spesie."

Onlangs het sy groep gewys daarop dat mense wat voortdurend verskillende take gelyktydig op hul fone verrig, weldra ook geneig is om hul aandag breër te versprei. Dit kan veroorsaak dat hulle sukkel om te fokus as hulle een spesifieke taak (soos om te leer vir 'n toets) moet verrig, en maklik aandagafleibaar kan wees. Dit kan belemmer hoe effektief en gekonsentreerd hulle studeer.

“Ons studies wys verder dat mense wat bewustelik omgaan met digitale media makliker hul gedrag kan reguleer en doelwitte kan bereik."

Hy reken die stel van grense, of sogenaamde “boundary management" moet konstant in gedagte gehou word wanneer dit by die gebruik van digitale en veral sosiale media kom.  

Een van sy voormalige studente, en deesdae 'n kollega, dr. Douglas Parry, het 'n spesifieke selfoon-toepassing en ander intervensies getoets wat studente te help om hul skermgebruik te self-reguleer en hul werksdag meer gefokus aan te pak.

Sy groep is tans besig met navorsing oor, onder andere, die wisselende invloed wat persoonlikheid het op mense se aanlyn-patrone.

“Iemand wat neig om natuurlik te rumineer, met ander woorde wat geneig is om in patrone van sikliese denke dinge te oordink, gaan meer sukkel om sielkundig of kognitief af te skakel van sy aanlyn lewe. Dit is net natuurlik so. Mense wat geneig is tot FOMO sal weer sukkel om hulle konstante monitering van aanlyn gebeure effektief te reguleer."

“Maar navorsing hieroor gaan nog voort..."

'n Gesamentlike navorsingsprojek tussen sy groep en universiteite in Botswana en Namibië het gewys dat “die getalle verbasend vergelykbaar is" as dit kom by die mediagebruikspatrone en die sielkundige gehegtheid aan die internet van studente in die drie Afrika-lande.

“Al het hulle verskillende agtergronde en kontekste in die werklike lewe, is daar verbasend baie ooreenkomste in hul gebruikspatrone en die hoeveelheid tyd wat hulle op spesifieke sosiale media platforms spandeer. Dit skep noodwendig 'n mate van 'n gedeelde verstaan van populêre kultuur soos bepaal deur die global village."

Dr. le Roux was vroeër meer betrokke in studies oor die tegniese kant van Inligtingwetenskap, en het ook al navorsing gedoen oor die invloed wat geoutomatiseerde stelsels en robotte op die werksmag kan hê.

“Die manier waarop digitale media gediversifiseer het oor die laaste twee dekades beteken dat daar binne Inligtingswetenskap nou 'n groot verskeidenheid navorsingsmoontlikhede en professionele rigtings bestaan. Soos tegnologie 'n deel word van elke aspek van ons lewens, verskyn daar heeltyd nuwe navorsingsvrae. Daar is net te min tyd om almal te beantwoord."

“Jou waarde as navorser lê in jou vermoë om krities te dink en metodologie toe te pas om navorsingsprobleme op te los. Daardie vaardigheidstel kan mens oorskuif van een probleem na 'n ander, solank jy tot 'n mate binne 'n domein bly," verduidelik hy.

Hy's nie spyt oor die tegniese onderbou wat sy voorgraadse studiejare aan hom besorg het nie.

“Dit help jou verstaan wat binne die 'black box' van rekenaars en bedieners aangaan. Hoe beter jou kennis daarvan, hoe meer kan jy filosofies akkuraat daaroor skryf," reken dr. le Roux, wat ook 'n sterk belangstelling in filosofie en ekonomie het en lief is vir skryf. 

Die vraag oor wat werklik 'n betekenisvolle lewe is, laat hom gereeld nadink ook oor sy eie skermgebruikspatrone, en hoeveelheid tyd hy byvoorbeeld aan die lees aan Twitter-argumente spandeer.

Hy bly besorgd oor hoe die hoeveelheid tyd wat mense aan 'n aanlyn-wêreld spandeer hul wese en keuses oor wat hulle reken 'n betekenisvolle lewe is manipuleer.

“Dis 'n eeueoue vraag wat interessant bly en herhaal word, elke keer as 'n nuwe golf van tegnologie bekend gestel word. Dis 'n groot vraag. Dis lekker om op groot vrae te werk."

Hy voeg by: “Daar's baie betekenis in die kreatiewe proses van skep, maar ons fone stuur ons toenemend in 'n rigting van verbruik, eerder as produksie. Dis natuurlik 'n tweesnydende swaard. Die skeppende moontlikhede wat ontsluit word deur 'n toepassing soos Tik Tok omdat jou foon 'n kamera het is legio, as mens uit 'n suiwer tegnies-optimistiese hoek daarna kyk. In weklikheid is dit egter 'n baie klein proporsie van gebruikers wat inhoud skep, terwyl die oorgrote meerderheid passief verbruik."

“Ek dink byvoorbeeld dat die vermoë om kognitiewe beheer uit te oefen, dus, om jou aandag te beheer en doelbewus te kies om op iets te fokus is, 'n baie belangrike komponent van 'n betekenisvolle lewe is."

Heelwat van sy groep se navorsing gaan juis oor die mootlikheid dat tegnologie daardie vermoë kan atrofikeer of verlam.  

Sy huidige navorsingsveld hou nie net vanuit 'n akademiese perspektief vir hom voordele in nie, lag hy: “Dis deesdae soveel makliker om rondom 'n braaivleisvuur vir mense te verduidelik waaraan ek werk. Dis vir almal baie relatable; hulle verstaan waaroor ek praat en herken die simptome in hulself, én hul kinders."

 

Vir die volgende paar weke stel ons u voor aan navorsers van die US wat in die jongste uitgawe van Research at Stellenbosch University. verskyn.​