Om sukses te behaal in die veranderende 21ste-eeuse landskap van vlote en maritieme veiligheid, moet vlote in die geheel beskou word as onmisbare magsinstrumente in die hande van beleidvormers, skryf prof Francois Vreÿ & kaptein Mark Blaine (Sekerheidsinstituut vir Staatsbestuur en Leierskap in Afrika) in ʼn onlangse meningsartikel vir Cape Times.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Francois Vreÿ & Mark Blaine*
In 'n wêreld wat voortdurend verander, moet militêre magte byhou en aanpas om relevante beleidsinstrumente te bly. Vlote is geen uitsondering nie, en die druk om aan te pas om maritieme gebiede beter te verdedig is iets wat skeepsmagte in die vroeë 21ste eeu konstant moet hanteer. In die lig van die onteenseglike belang van die oseane én die bedreigings verbonde aan staats- en nie-staatsrolspelers wat ter see funksioneer, is vlote van die allergrootste belang om, as deel van die groter sekuriteitsbestel, nasionale maritieme belange deur bewusmaking, polisiëring, wetstoepassing en, waar dit nodig is, maritieme verdediging te beskerm.
Vlote bly belangrike instrumente van militêre dwang op see én land. Wat teoretiese grondslag betref, is seeoorloë slegs 'n kortkop agter oorlogvoering op land. Vlootwerksaamhede het oor eeue ontwikkel, en berus op 'n gevestigde teorie van seekrygskunde, rolle en take wat dié magte in staat stel om veel meer as blote gevegsorganisasies te wees. Trouens, die 21ste-eeuse vloot kom te staan voor etlike politieke eise om méér te doen as net oorlog voer, en moet op hierdie druk reageer.
Nietemin reageer verskillende skeepsmagte verskillend op dít wat teenstanders en beleidvormers wil hê. In plaas daarvan om van hulle krygsrol afstand te doen, soos sommige drukgroepe voorstel, lê vlote buigsaamheid aan die dag en verander eerder van rolle en take om met veranderinge en behoeftes in hulle bedryfsomgewing tred te hou. Party groot vlote vervul gelyktydig verskeie rolle, kleiner vlote beweeg heen en weer tussen oorlogvoering en sekondêre rolle, terwyl heelwat ander vlote verkies om hulle hulpbronne grotendeels aan rolle buiten oorlogvoering te wy.
Vlote is ook meer geneig om by veranderinge in hulle omgewing aan te pas as om 'ou' rolle en take af te skaf en 'nuwes' te aanvaar. In China se geval vul 'n groot vlootburgermag byvoorbeeld die Chinese vloot (PLAN) aan en word sekere vloottake soms deur burgerlike skepe uitgevoer. In Iran funksioneer die tradisionele Iranse vloot weer naas 'n kleiner dog onafhanklike skeepsmag (die Iranse Revolusionêre Wag) wat toegerus is vir asimmetriese oorlogvoering in die Persiese Golf. In sy stryd teen die Tamil-rebelle en teen state van Wes- en Sentraal-Afrika wat aan die Golf van Guinea grens, toon Sri Lanka op sy beurt hoe 'n vloot kan kies om op bedreigings laer as oorlogsvlak te reageer om sy maritieme en nasionale belange te beskerm deur asimmetries te veg of 'n polisiëring- en wetstoepassingsrol aan te neem.
Hoewel argumente ten gunste van die afskaffing van vlote se krygsrol voortgaan om besluite oor skeepsmagte te beïnvloed, berus hulle hedendaagse rol op 'n veel meer genuanseerde realiteit. Namate vlote se bedryfsomgewing verander, word besluite oor hulle take en rolle op 'n buigsame spektrum geneem. Dié spektrum sluit samewerking met ander maritieme agentskappe in om nie-tradisionele maritieme sekerheidsbedreigings laer as oorlogsvlak te hanteer. As een van die meer aanpasbare instrumente van militêre dwang, het vlote mettertyd geleer om hulle werk binne hierdie veranderende landskap van maritieme bedreigings en kwesbaarhede te doen eerder as om ag te slaan op oproepe om hulle ou rolle neer te lê en nuwes te aanvaar.
Dit is belangrik om te noem dat nie álle vlote georganiseer en toegerus is om suksesvol op immer veranderende maritieme bedreigings te reageer nie. Hulle wy eerder hulle organisatoriese kultuur en bates daaraan om toenames en afnames in maritieme bedreigings en kwesbaarhede die hoof te bied. Moderne blouwatervlote van China, die Verenigde State, Japan, Rusland en die Europese Unie verrig byvoorbeeld gelyktydig polisiërings-, diplomatieke en gesimuleerde krygstake langs die Afrikakus en op die Suid-Chinese See. Die klein Sri Lankaanse vloot het vroeg in die 21ste eeu getoon hoe 'n vloot heen en weer tussen tradisionele en nie-tradisionele rolle en take kan beweeg wanneer rebelle nasionale belange sowel op as weg van die see bedreig. Die Golf van Guinea is op sy beurt 'n voorbeeld van hoe skeepsmagte met verskillende staats- en nie-staatsagentskappe oor etlike plaaslike streke heen kan saamwerk om toenemende maritieme bedreigings te bestry. Dié bedreigings is hoofsaaklik nie-tradisionele maritieme gevare wat nasionale, streeks- en veral ook menslike veiligheid in die gedrang bring.
Vlote is duidelik steeds 'n belangrike instrument van dwingkrag vir regerings om te sorg dat hulle die oseane as 'n veilige en beskermde landskap vir vervoer én die ontginning van lewende en nie-lewende hulpbronne kan gebruik. Ons het 'n punt bereik waar vyandige skeepsmagte lank nie meer die enigste óf selfs die gevaarlikste bedreiging is waarop vlote moet reageer nie. Die hedendaagse landskap van maritieme bedreigings sluit ook magtige en gewapende nie-staatsrolspelers in. Daarom moet besluitnemers hulle skeepsmagte in staat stel om aan te pas, vennootskappe te bou en vermoëns te versterk om die wêreld se oseane te beveilig en te beskerm. In die moderne beleid- en sekuriteitsomgewing wat uiteenlopende maritieme bydraes vereis, is die antwoord rolmigrasie eerder as die volstrekte afstanddoening van tradisionele take en rolle.
Om sukses te behaal in die veranderende 21ste-eeuse landskap van vlote en maritieme veiligheid, moet vlote in die geheel beskou word as onmisbare magsinstrumente in die hande van beleidvormers, en as beleidsinstrumente wat méér doen as oorlog voer.
*Prof Francois Vreÿ en kaptein Mark Blaine is verbonde aan die Sekerheidsinstituut vir Staatsbestuur en Leierskap in Afrika aan die Universiteit Stellenbosch. Hierdie artikel is gegrond op hulle hoofstuk in Global Challenges in Maritime Security: An Introduction (2020).