Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe BDatWet-graad by US 'n werklikheid in 2021
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 19/11/2020

​​Die Universiteit Stellenbosch het aangekondig dat die Universiteit voortaan 'n multidissiplinêre Baccalaureusgraad in Datawetenskap gaan aanbied. Dié vierjaargraad word moontlik gemaak deur die samewerking van verskeie fakulteite. Met hierdie aankondiging het US 'n lid geword van die globale akademiese familie wat datawetenskapprogramme aanbied ten einde in die reusevraag na datawetenskaplikes in die volgende dekade te voorsien.

Die program is onlangs deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAQA) geregistreer, wat dit moontlik maak om die eerste kohort studente in 2021 in te skryf.

Hoewel die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe instrumenteel was in die ontwikkeling van die nuwe program, het akademici van Rekenaarwetenskap, Toegepaste Wiskunde, Ekonomie, Logistiek, Genetika, Fisika asook Statistiek en Aktuariële Wetenskap die afgelope jare onvermoeid gewerk om die program goedgekeur te kry.

Die B-graad in Datawetenskap bied studente die geleentheid om kennis rakende grondslagmodules in kerndissiplines soos statistiek, rekenaarwetenskap en wiskunde op te doen. Hulle sal ook blootgestel word aan nuwe tegnologieë en begrippe op die gebied van datawetenskap.

Volgens prof Paul Mostert, voorsitter van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, is die doel van die BDatWet-program om studente by herhaling by die volle datasiklus te betrek, 'n proses waardeur mense van data leer, en om graduandi met die vereiste vaardighede van 'n datawetenskaplike te ontwikkel.

"Werk op feitlik alle terreine word meer datagedrewe. Hierdie voortgesette transformasie van werk verg 'n aansienlike kader talentvolle gegradueerdes met hoogs ontwikkelde vaardighede en kennis in datawetenskap. Dié graad rus gegradueerdes toe met die vaardighede om werklike probleme in omtrent alle dissiplines en omgewings op te los, van genetika, gesondheidsorg, e-handel, finansies en kleinhandel tot die openbare sektor."

Die program sal in vier fakulteite aangebied word, naamlik die Fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, AgriWetenskappe, Lettere en Sosiale Wetenskappe, en Wetenskap. BDatWet het'n sterk fokus op spesifieke dataryk omgewings en het 8 fokusareas. Studente sal vanaf hul eerste jaar in een van die vier deelnemende fakulteite registreer afhangende van die fokusarea wat hulle verkies.

Dis die enigste program van sy soort in Suid-Afrika. Na voltooiing daarvan sal graduandi vir 'n meestersgraad in hul gekose vakgebied kan inskryf sodat hulle verder in datawetenskap kan spesialiseer.