Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Belangstelling in borselwurms: Prof Carol Simon
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 19/11/2020

​Vroëer vanjaar, toe wurms wat aan die Polychaete-klas behoort met hul eie internasionale bewusmakingsdag gevier is, het prof. Carol Simon van die Departement Plant- en Dierkunde aan die werk gespring. Sy het 'n plakkaat geskep oor allerlei spesies wat Suid-Afrikaanse hengelaars as aas gebruik. Hierdie oefening het twee van haar passies gekombineer: fotografie en borselwurms (die Afrikaanse gebruiksnaam vir die Polychaete-klas). Dis 'n groep van sowat 8000 spesies, waaronder 'n magdom mariene spesies.

Oor haar belangstelling in veral die soorte wat mens in die see kry, sê sy: “Mense waardeer hulle nie, omdat baie so klein is. Onder die aas-spesies is daar 'n paar van indrukwekkende grootte. Mense hoor die woord 'wurm' en trek hul neuse op. As hulle die wurms soos ek ook onder die mikroskoop kon bekyk, sal hulle verstom wees oor hoe mooi hulle is."

Prof. Simon, oorspronklik van Port Elizabeth, is veral geïnteresseerd in tussengety-spesies wat ekonomies en ekologies belangrik is. Dit sluit in spesies wat peste is op gekweekte weekdiere, as aas gebruik word deur hengelaars, of uitheems is en dus 'n gevaar mag inhou vir inheemse spesies en vir akwakultuur-bedrywe soos die perlemoen- en gekweekte oestersektor.

“Deur hul taksonomie op te klaar, kan ons hul biodiversiteit en distribusie in Suid-Afrika en wêreldwyd beter verstaan. Kennis oor hul reproduktiewe strategieë en die geen-vloei tussen populasies help ons om te verstaan hoe peste en uitheemse spesies mag versprei en hoe weerloos aas-spesies is vir oorontginning," verduidelik sy.

Sy is veral gefassineer deur die vele verskillende maniere waarop spesies van borselwurms voorplant.

“Sommige is hermafrodities (die beteken hulle het sowel manlike as vroulike geslagsdele), sommige bring lewende nageslag voor. Ander plant aseksueel voort deur in klein fragmente op te breek wat weer verder ontwikkel om nuwe individue te vorm, of deur klein botsels sodat dit lyk asof hulle 'n klomp babatjies produseer wat van hulle afbreek. Sommiges lê baie eiers, maar net 'n paar word bevrug," probeer prof. Simon dinge eenvoudig stel. “Daar is 'n hele verskeidenheid vir slegs een groep diere."

Haar belangstelling in hierdie spesies het in haar nagraadse jare aan die Rhodes Universiteit ontwikkel. Dit was haar goeie geluk om gementor te word deur entoesiastiese akademici in die velde van akwakulture en visserykunde, soos prof. Peter Britz en prof Horst. Kaiser, asook prof. Christopher McQuaid wat haar kennis oor die ekologie van mariene spesies verbreed het.

Nadat sy die graad BSc honneurs in 1991 behaal het (vir studies oor see-egels en vlermuise), het sy haar eerste werk begin in die soogdier-afdeling van die Amatole Museum in King Williams' Town. Die akademie het haar egter gou weer gelok, en sy het haar nagraadse studies begin.

“Vir my PhD-graad het ek gewerk met gekweekte perlemoen, maar het vroeg in die projek reeds die borselwurms wurms wat op hulle leef veel meer interessant begin vind," onthou sy laggend haar vormingsjare as 'n borselwurm-spesialis.

Prof. Simon werk by die Universiteit Stellenbosch se Departement Plant- en Dierkunde sedert 2008, nadat sy haar na-doktorale navorsing by Rhodes Universiteit voltooi het. Vandag is sy die president van die Internasionale Plychaetevereniging en is komitee-voorsitter vir die organisasie se 2022 kongres, wat vir Stellenbosch beplan word. Sy verteenwoordig ook Afrika in die Internasionale Vereniging vir Ongewerwelde Voortplanting en Ontwikkeling en dien sedert 2006 as raadslid van die Dierkunde Vereniging van Suidelike Afrika. Voorheen was sy ook mederedakteur van die Vereniging se nuusbrief Aardvark, en tot onlangs mederedakteur van African Zoology, die vereniging se vaktydskrif.

Oor die jare het veldwerkuitstappies haar geneem na talle kusstreke en akwakultuurplase in Suid-Afrika, van Sodwanabaai tot die Knysna-strandmeer en hengelaars se geliefkoosde hengelplekke aan die Weskus.

Veldwerk het sy voordele, erken prof. Simon. Tog put sy eerder ware bevrediging uit die ondersoek van spesies onder die mikroskoop. Dis 'n taak wat sy “sowel vreedsaam en opwindend vind, en net so opwindend soos forensies navorsing." Dit laat haar toe om die spesies in besonderse detail te fotografeer, en dan kleurafdrukke te produseer vir publikasie saam met navorsingsartikels.

“Die geleentheid om nuwe spesies te identifiseer is altyd daar, want dit is 'n klas wat nie dikwels in Suid-Afrika bestudeer word nie," erken prof. Simon.

Hierdie taksonoom het reeds haar eerste spesie in 2009 beskryf. Sy was sedertdien betrokke by die identifisering van 17 voorheen onbekende spesies, waaronder 15 wat inheems aan Suid-Afrika is  Sy het ook gehelp om vier uitheemse spesies te identifiseer, waaronder drie wat op gekweekte weekdiere gevind word. Die nuwe spesies sluit in spesies wat met wilde en vrylewende weekdiere geassosieer word. Onder hulle is die drie Syllis-spesies van die Suid-Afrikaanse suidkus wat onlangs beskryf is saam met 'n voormalige MSc-student, Safiyya Sedick. Inligting daaroor is gepubliseer in die internasionale vaktydskrif Zootaxa.

Prof. Simon is terdeë bewus daarvan dat “'n mens nie 'n navorsingsloopbaan kan bou deur te wag vir nuwe peste om kop uit te steek sodat jy hulle kan identifiseer nie."

Dus, terwyl die meeste van haar navorsing in die verlede gefokus het op spesies wat hand aan hand met oesters en perlemoen gaan, het sy haar navorsing uitgebrei om ook te fokus op aas-spesies wat hengelaars langs die Suid-Afrikaanse kus versamel. Dit sluit bloedwurms en mosselwurms in.

Onlangs was sy betrokke by die uitken van 'n aas-spesie, die maanskyn-wurm, wat sy verskyning in onlangse jare in die baie sensitiewe Knysna strandmeer gemaak het. Dit is reeds voorheen in Australië geïdentifiseer, en kom lank reeds heel algemeen in die Port Elizabeth-omgewing voor.

Die identifikasie van spesies, sê prof. Simon, is 'n bietjie soos om 'n legkaart te bou.

Sy reken dat taksonome nie genoeg erkenning kry vir die noukeurige werk wat hulle doen nie, en dat daar in werklikheid meer van hulle nodig is omdat die tegnologie (veral in terme van genetika) wat help om een spesie van 'n ander te onderskei, voortdurend verbeter.

“Die gebruik van genetika om tussen spesies te onderskei is egter nie genoeg nie – ons moet weet hoe die spesies lyk," voeg sy by.

“Die werklikheid is dat baie ekologiese werk die identifikasies van spesies insluit, en gevolglik is ekoloë afhanklik van spesiebeskrywings. Taksonomie behoort dus meer gewild te wees. Die ironie is dat hoe meer werk jy doen, hoe meer besef jy dat jy taksonome nodig het. Die werk wat 50 jaar gelede gedoen is, was goed vir daardie tyd. Sedertdien het ons tegnologies baie gevorder. Ons het nou beter genetiese instrumente en beter mikroskope om die verskille tussen spesies fyner raak te sien.

“Die gevolg is dat ons eintlik meer taksonome benodig as wat ons tans het. Net onder die ongewerwelde mariene spesies in Suid-Afrika, insluitend borselwurms, besef ons toenemend daar is meer as wat ons ooit vermoed het."

 

Vir die volgende paar weke stel ons u voor aan navorsers van die US wat in die jongste uitgawe van Research at Stellenbosch University. verskyn.