Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nelson Mandela-akademiese konferensie besin oor GGG en vergifnis
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division: Daniel Bugan
Gepubliseer: 13/11/2020

​Die kwessies van geslagsgebaseerde geweld (GGG) en vergifnis het onder die soeklig gekom by die heel eerste virtuele Nelson Mandela-akademiese konferensie.

Die konferensie, wat deur die Universiteit Stellenbosch-museum in samewerking met die Nelson Mandela-museum aangebied is, het Donderdag, 12 November 2020 plaasgevind en het akademici, studente, politici en belangstellendes bymekaar gebring om oor hierdie dringende kwessies te besin.

Hierdie jaarlikse geleentheid is daarop gemik om Suid-Afrika se demokratiese vooruitgang en die herinnering aan Nelson Mandela te vier deur krities oor kwessies soos menseregte, demokrasie, opvoeding, vryheid en geregtigheid na te dink.

Die openingstoespraak is deur dr Tozama Qwebani-Ogunleye, hoof van die Instituut vir Kennis en Tradisionele Medisyne by die Vaal Universiteit van Tegnologie, gelewer en dit het gehandel oor Making GBV unacceptable

“Die meeste voorvalle van GGG kom voor waar vertroue verbreek is of op plekke wat veronderstel is om veilige hawens van vertroue te wees. Byvoorbeeld in die gesin, by die skool, werk of kerk. Opvoeding en bewustheid is krities," het sy gesê.

Qwebani-Ogunleye het sekere strategieë aan die hand gedoen wat gebruik kan word om GGG te beveg.  

“Die pleger moet die onderliggende redes in sy of haar gemoed wat hom of haar tot so 'n onmenslike daad aandryf, identifiseer. Daardie persoon moet volle verantwoordelikheid vir sy of haar dade aanvaar en selfliefde en selfleiding aanleer.

“Ons moet verseker dat seuns en meisies en mans en vroue nie net toegang tot onderrig het en dit voltooi nie, maar ook dat hulle eweveel deur en in onderrig bemagtig word. Hoe gesonder ons samelewing is, hoe gesonder sal ons geslagsverhoudinge wees."

Prof Dion A Forster, direkteur van die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie en voorsitter van die departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie by die Universiteit Stellenbosch, was die tweede spreker.

Hy het in sy praatjie, The (im)possibility of forgiveness: Nelson Mandela and the politics of forgiveness in South Africa, die ingewikkeldhede van die politiek van vergifnis onder Suid-Afrikaners meer as 26 jaar ná die beëindiging van apartheid aangespreek.

“Ons moet erken dat dit 'n baie ingewikkelde en moeilike proses is om iemand te vergewe. Sosiale identiteit, kwessies soos ras, kultuur, geloofsoortuigings en iemand se huidige ervaring van die werklikheid speel 'n baie belangrike rol in hoe ons vergifnis en versoening konseptualiseer en verstaan.

“Hoewel politiese apartheid tot 'n einde gekom het, het die geleefde werklikheid van swart Suid-Afrikaners nie veel verander nie. Die daagliks ondervinding van armoede, rassisme en ruimtelike skeiding is steeds 'n werklikheid. Die ongeregtighede van wit bevoorregting en swart onderworpenheid is steeds duidelik in die ekonomiese en ruimtelike ongelykhede van die huidige swart en wit Suid-Afrika sigbaar. Dit is 'n diep ongeregtigheid en 'n herinnering aan hoe onmoontlik dit vir vergifnis mag wees om plaas te vind terwyl ons hierdie maatskaplike werklikhede in die gesig staar."

Maar Foster glo vergifnis is nietemin steeds moontlik indien hierdie ongeregtighede aangespreek word.

 “Vergifnis kan nie bereik word sonder geregtigheid nie. Enige geval van vergifnis wat nie geregtigheid in ag neem nie, is nie ware vergifnis nie. Dit doen diegene van wie dit verwag word om te vergewe, 'n onreg aan," het hy gesê.

Hy het 'n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om deur Mandela se lewe geïnspireer te word en “om die harde werk te doen om ons vooroordele te oorkom, om ons voorreg te dekonstrueer en om maniere te vind om met vrygewigheid en vryheid te lewe sodat elke landsburger in die gawes en skoonheid van hierdie land kan deel."