Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Pulp-rolprentteater sluit nie
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 13/11/2020

​Mediaberigte die afgelope paar weke het die indruk geskep dat die Pulp-rolprentteater deur die Universiteit Stellenbosch (US) gesluit gaan word.

Dit is beslis nie die geval nie. SunCom* poog inteendeel om die fasiliteit en toerusting op te gradeer om 'n nog beter ervaring aan die Pulp-filmvereniging te bied. Die teaters sal ook meer doeltreffend benut word en aan 'n breër gemeenskap beskikbaar gestel word as 'n konferensie- en geleentheidslokaal. 

Ongelukkig is 'n persepsie in die media geskep dat die Pulp-rolptrentteater moet sluit omdat die huurooreenkoms met die huurder, mnr Werner de Swardt, eensydig deur die Universiteit beëindig word. Daar is selfs ook 'n opvatting dat dit weens skuld is. SunCom bevestig hiermee dat albei gevalle onwaar is. 

Mnr De Swardt se kontrak met die Universiteit om op die perseel sake te doen, verstryk. Die huurder het tot die vervaldatum van die huurooreenkoms ingestem en het ook as 'n voorwaarde van sy huurooreenkoms in 2016 ingestem om die perseel te ontruim. Dit is dus onwaar dat die verstryking van die kontrak 'n skok vir hom was – soos in die media berig is. Mnr De Swardt was heeltemal bewus van die voorwaardes van die kontrak en dit is duidelik en vroegtydig aan hom gekommunikeer. (Dit verwys na mnr De Swardt wat 'n kontrak met die Universiteit gesluit het om die perseel te huur en te bedryf, en nie die Pulp-filmvereniging wat die lokaal kan gebruik nie.)

Die huurder het ook nie samesprekings met die Neelsie se bestuur gevoer om die kontrak te hernu nie – self nie eens 'n maand nadat hy 'n kennisgewing van die Neelsie se bestuur ontvang het om hom daaraan te herinner dat sy huurooreenkoms gaan verstryk nie. Mnr De Swardt het ook baie gebaat vanjaar, aangesien die Pulp-filmvereniging se gelde nog steeds aan hom oorbetaal is, al het hy geen dienste aan hulle gelewer nie, en die Universiteit het hom ook verskeie maande 0% huur gedurende die tydperk van algehele inperking gehef.

Die perseel sal voortaan deur die nuutgestigte Sentrale Geleentheid- en Konferensiekantoor (CECO), 'n eenheid binne SunCom, wat 'n afdeling van die Universiteit is, bestuur word. CECO se pligte behels onder meer om die optimale gebruik van alle ruimtes te verseker deur die inwerkingstelling van 'n strategie om konferensies en geleenthede te bevorder en om Stellenbosch as 'n voorkeurbestemming daarvoor te bemark. Hulle sal ook die twee teaters meer doeltreffend aanwend vir 'n baie wyer gemeenskap, terwyl daar steeds 'n tuiste aan die Pulp-filmvereniging gebied sal word, maar net met beter toerusting.

*SunCom bestuur kommersiële aktiwiteite aan die Universiteit Stellenbosch.