Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SA-universiteit moet op internasionalisering op ons eie vasteland fokus
Outeur: Prof Hester C. Klopper: Deputy Vice-Chancellor: Strategy and Internationalisation
Gepubliseer: 12/11/2020

Wanneer ons Afrika-universiteitsdag op 12 November te midde van wêreldwye gesondheidspandemie vier, moet universiteite op die vasteland al hoe meer poog om saam te werk die gebied van navorsing, leer en onderrig en vakgeleerdheid, skryf PROF HESTER KLOPPER, Viserektor: Strategie en Internasionalisering aan die Universiteit Stellenbosch.

Die afgelope paar dekades het die aanvraag na hoër onderwys in Afrika vermeerder en vandag neem universiteite regoor die vasteland deel aan die wêreldwye kennisekonomie en het hulle vennootskappe regoor die wêreld.

Terwyl Suid-Afrikaanse universiteite se pogings tot internasionalisering meestal op die sluit van vennootskappe met universiteite in Europa en Amerika gefokus was, het die aandag in die onlangse verlede al hoe meer na instellings in die res van Afrika verskuif.

Samewerking en vennootskappe tussen Afrika-universiteite het ver gevorder. Die doel van die totstandkoming van die Vereniging vir Afrika-universiteite (AAU) in September 1963 was toe reeds onder meer om die hoofde van hoëronderwysinrigtings in Afrika byeen te bring om groter samewerking te verseker. Dit was ook die AAU wat in 2004 die Afrika-universiteitsdag gevestig het as 'n manier om oor die vooruitgang, uitdagings en geleenthede van hoër onderwys in Afrika te besin.

Vanjaar het die COVID-19-pandemie bykomende uitdagings vir universiteite in Afrika meegebring, veral met die vinnige verskuiwing van klasse in persoon na aanlyn lesings binne 'n konteks waar studente dikwels met toegang tot data en ander tegnologieë sukkel om aan onderrig en leer in 'n digitale ruimte deel te neem. Uitdagings soos hierdie bied aan ons die geleentheid om ons samewerkingspogings te verskerp ten einde Afrika-oplossings vir Afrika-probleme te vind, hetsy dit spesifiek met universiteite se werk verband hou of navorsings is wat uitdagings in enigiets van gesondheidsorg tot ingenieurswese aanspreek.

Afgesien van die werk wat deur die AAU gedoen is, het verskeie ander universiteite op die vasteland vennootskappe met mekaar op verskeie gebiede gesluit. By die Universiteit Stellenbosch (US) het die Sentrum vir Samewerking in Afrika die SU Africa Platform gestig, wat 'n gemeenskap vir voornemende en huidige studente en personeel, navorsers, vennootinstellings, regerings, sakeondernemings en lede van die publiek is wat geïnteresseerd is in akademiese en navorsingsgeleenthede by die US. Dit verskaf ook 'n platform om volhoubare vennootskappe met ander instellings op die vasteland te kweek.

Die US se visie is om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit met 'n wêreldwye impak te word, en daarom het ons spesifiek ons fokus na die ontwikkeling en kweek van vennootskappe met universiteit en navorsingsinstellings in die res van Afrika verskuif. Akademici van die US neem jaarliks saam met nagenoeg 100 instellings in meer as 30 lande op die vasteland van Afrika aan verskeie internasionaliseringsaktiwiteite deel.

Tot op hede het ons formele ooreenkomste van bilaterale vennootskappe met 26 hoëronderwysinrigtings in Afrika gesluit, wat aan studente en personeel toegang tot uitruilprogramme, volle graadprogramme, navorsingsamewerking en uitruilgeleenthede vir personeel bied, terwyl die US se Afrika Doktorale Akademie deur sy opleidingsprogramme vakkundigheid op die vasteland bevorder.

Hoewel baie Suid-Afrikaanse universiteite saam met die res van Afrika werk, is dit waarop die klem behoort te val ten opsigte van internasionalisering: op die uitbreiding van ons voetspoor in die res van Afrika, want Afrikalande deel baie uitdagings en geleenthede waaruit ons kan leer, veral op die gebied van gesondheidsorg, ekonomie en onderwys.

Vanjaar het COVID-19 baie van hierdie ooreenkomste in die uitdagings aan die lig gebring wat Afrikalande weens die pandemie ondervind, veral rakende toegang tot gesondheidsorg en onderwys. En hoewel die beperking op ekonomiese aktiwiteite gedurende die staat van inperking verreikende gevolge regoor die wêreld gehad het, was dit veral vir die ontluikende ekonomieë van die meeste lande op ons vasteland baie skadelik.

Die hoëronderwyssektor het die vermoë om 'n sentrale rol in die aanspreek van hierdie uitdagings deur navorsing en onderrig en leer te speel. Hoewel dit al lank die fokus van deelnemende vakkundigheid is, kan die uitdagings op ons vasteland by groter samewerking tussen universiteite op die vasteland baat vind.

Hierdie samewerking is onderling voordelig omdat dit ons in staat stel om oor ons uitdagings te debatteer en saam oplossings te vind. Op hulle beurt kan hierdie oplossings beleid en leierskap beïnvloed, selfs al is daar breë verskille in lande se kontekste.

Samewerking tussen Afrika-universiteite bied aan ons 'n sterker stem in navorsing en vakkundigheid, wat ons individuele profiele in die internasionale arena verhoog en bevorder.

Die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA), wat in Maart 2015 gestig is, het goed gevorder met die fasilitering van samewerking tussen Afrika-universiteite op die gebied van navorsing, met die US wat die tuiste van sy Sentrum vir Uitnemendheid in Energie is. Sy doelwit is om die gehalte van navorsing wat in Afrika gedoen word, uit te brei en te verbeter. Die projekte wat op die been gebring is, fokus ook daarop om die unieke uitdagings wat Afrika ondervind, op te los.

Ander tematiese werk sluit ook die Partners Enhancing Resilience for People Exposed to Risks (PeriPeri-U) in, met 'n netwerk van 13 universiteite regoor die vasteland wat daarop fokus om ramprisiko te verminder, en die AUDA-NEPAD Suider-Afrikaanse Netwerk van Watersentrums van Uitnemendheid wat daarop fokus om die watersektorbehoeftes van die Suider-Afrikaanse ontwikkelingsgemeenskap aan te spreek deur 'n vennootskap met 11 Suider-Afrikaanse universiteite en navorsingsinstellings.

Hierdie tipe alliansies en netwerke bring die beste navorsers op die vasteland byeen en samewerking bied die geleentheid om hulpbronne te deel. Daarom bied die US die US Afrika-universiteitsdagseminaar op 12 November 2020 aan. Die tema is Nurturing Sustainable African Partnerships.  

Wanneer ons vanjaar Afrika-universiteitsdag herdenk, moet ons nadink oor hoe ons 'n groter impak op ons gemeenskappe regoor Afrika kan hê. Vir Suid-Afrikaanse universiteite beteken dit om ons internasionaliseringpogings op ons eie vasteland te rig.

Ons het nou die strukture soos die AAU en ARUA en die tyd het aangebreek om strategies saam met navorsers, vennootinstellings, die regering en ondernemings te werk om uitdagings in Afrika op te los deur middel van pasgemaakte oplossings wat hier in Afrika ontwikkel is.

As Afrikane het ons die talent en vermoëns om ons vasteland te ontwikkel en om ons uitdagings deur doelgerigte samewerking en vennootskappe aan te spreek, en sodoende 'n beter toekoms vir alle inwoners op ons vasteland te skep. ​​