Wêreldbekende kundiges en kennisskeppers op die gebied van ervaringsonderrig en sosiale geregtigheid het onlangs aan die 2020 Universiteit Stellenbosch (US) se Ervaringsonderrig-konferensie deelgeneem.
Die virtuele konferensie met die tema, Experiential Education as Pedagogy for Social Justice: praxis and practice for shaping 21st century global citizen-leaders, het ontluikende tendense en oorgange in die hoër onderwys se domein van ervaringsonderrig bekyk, asook die oorkruising daarvan met sosiale geregtigheid en die vorming van die wêreldburgerleier. Die konferensie, wat oor twee dae (10–11 November) gehou is, het aan deelnemers toegang tot meesterklasse, geleentheidsprekers en die aanbieding van akademiese artikels gebied.
Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het in sy openingsrede gesê hy vind die tema van die konferensie uiters gepas.
“Die eerste deel vra ons om na ervaringsonderrig as 'n pedagogie vir sosiale geregtigheid te kyk. Hierdie klem is uiters relevant in die lig van die koronaviruspandemie wat wêreldwyd verskuiwingslyne in die samelewing ontbloot het.
“Die tweede deel van die tema vestig die aandag op ons rol as opvoeders om die wêreldburgerleiers van die 21ste eeu te vorm. Dit vind aanklank by ons standpunt hier by die US. Ons wil nie net gegradueerdes oplewer wat gesog is in die arbeidsmark nie; ons doel is ook om betrokke, deelnemende burgers en verantwoordelike leiers op te lewer wat bereid is om hul kundigheid in diens van die samelewing aan te wend.
“Ons strewe daarna om 'n positiewe invloed op die welstand ons ons dorp, ons streek, ons land en ons vasteland te hê met 'n wêreldwye strekking. En om dit te doen wil ons nie net die wêreld rondom ons beïnvloed en verander nie, maar ook onsself. Ervaringsonderrig is die sleutel tot dit."
Die geleentheidsprekers was die US-akademici, dr Choice Makhetha, Senior Direkteur: Studentesake, en prof Thuli Madonsela, bekleër van die Fakulteit Regsgeleerdheid Trust‑leerstoel in sosiale geregtigheid. Hul praatjie se titel was Emerging Social Justice Frameworks in Higher Education.
Volgens Makhetha het die #Feesmustfall-beweging in 2015/16 baie kwessies oor sosiale geregtigheid na die oppervlak gebring en studente het daarop aangedring dat dit dringend aangespreek word. Hierdie kwessies het ingesluit:
Geslagsgebaseerde geweld (GGG): Studente het dit op hulleself geneem om te verseker dat GGG ernstig opgeneem word en dat planne in werking gestel word om hierdie uitdagings aan te spreek. Die waarde lê in hoe die proses ontvou en ware ervaringsleer plaasgevind het.
Die verlore middel: Dit is studente wat as “nie arm genoeg nie, maar ook nie ryk genoeg nie" beskou word om finansiële hulp deur regeringsbefondsing te kry. Samesprekings met die departement van Hoër Onderwys en Opleiding het in 2016 begin. Debatte is by die Universiteite Suid-Afrika-forum (USAf) en ook by individuele universiteite voortgesit ten einde 'n oplossing te vind.
Institusionele kultuur: Die institusionele kultuur word gevorm en beïnvloed deur praktyke binne die instelling, insluitende subtiele patrone wat deur gewoontes gevorm word en uiteindelik as deel van die instellings se kultuur aanvaar word. Dit kan vernietigend en nadelig vir die verlangde positiewe transformerende studente-ervaring wees.
Dekolonisasie en transformasie van die kurrikulum: #Feesmustfall en ander bewegings het opnuut die soeklig op dekolonisasie oor die algemeen, en spesifiek op die transformasie van die kurrikulum laat val.
Geestesgesondheid en middelmisbruik: Studente het die vlak van druk op hul lewens, insluitende sosio-ekonomies en akademies besef, en het hul kommer uitgespreek oor die vlak van psigososiale ondersteuning wat binne die hoëronderwyssektor beskikbaar is.
Volgens Makhetha is dit “ongelooflik hoe studente inderdaad die samelewing kan verander wanneer hulle doelbewus en dapper genoeg is om verandering aan te dryf. Ons het in die hoër onderwys gesien hoe jongmense instellings uitdaag om op verskillende maniere verandering te bewerkstellig."
Sy glo dat vir enige leer om blywend en diep by iemand ingewortel te wees, moet opvoeders deur hul voorbeeld lei, veral buite die klaskamer waar studentebetrokkenheid vrywillig is.
“Ervaringsonderrig is 'n kragtige instrument waardeur lesse werklik geleer word. Dit is nou baie duidelik dat dit belangrik is om te lei en te onderrig deur 'n voorbeeld te stel wanneer daar deur ervaring geleer word," het Makhetha gesê.
Madonsela het op haar beurt gesê sy het 'n probleem met die tipe ervaringsleer wat studente deur videospeletjies soos byvoorbeeld Warcraft opdoen, waar hulle gekondisioneer word om teen onregverdigheid te veg waar hulle dit ook al teëkom.
“Die probleem met hierdie ervaringsleer is dat hulle 'n verwronge siening van geregtigheid ontwikkel, waar alles geoorloof is en wat ook al in die proses vernietig word, as indirekte skade beskou word," het sy gesê.