Die COVID-19-pandemie het die oorskakeling na aanlyn leer en onderrig verhaas. Maar kan dit ook die “verubering" (uberfication) van die universiteit versnel? Dit is die vraag wat prof Lesley le Grange (Departement Kurrikulumstudie) probeer beantwoord in ʼn meningsartikel vir Mail & Guardian se Thought Leader (6 November 2020).
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Lesley le Grange*
Die COVID-19-pandemie het wêreldwyd chaos gesaai en alle sfere van die sosiale lewe geraak. Lewens is in groter gevaar gestel, ekonomieë is in resessie gedompel, persoonlike vryhede is ingekort, en etlike sport- en ander aktiwiteite het tot 'n skielike stilstand gekom. Skole en naskoolse instellings is gedurende die inperkingstyd gesluit, wat kontakonderrig onmoontlik gemaak het.
Wat onderwys betref, was die uiteinde 'n oorskakeling na aanlyn leer en onderrig. Nogtans is outentieke aanlyn leer en onderrig onmoontlik in krisistye (soos die COVID-19-pandemie) en is “noodafstandsonderrig" die beste wat ons in die omstandighede kan doen.
Universiteite sal ná die pandemie waarskynlik méér in hulle aanlyn leer- en onderrigvermoëns belê, en in Suid-Afrika sal histories bevoorregte universiteite die voortou neem. Die res sal moet inhaal. Daarbenewens sal privaat maatskappye bes moontlik gereed maak om universiteite te ondersteun deur nuwe vennootskappe te vorm of bestaandes uit te brei. Dít alles kan die verubering (uberfication) van die universiteit versnel.
In sy boek The Uberfication of the University (2016) bespreek Gary Hall die deelekonomie en platformkapitalisme as kernbegrippe om verubering te verstaan. Die deelekonomie het aan die begin van die 2000's as 'n alternatiewe ekonomiese model ontstaan. Dit word omskryf as “'n portuurgebaseerde aktiwiteit waardeur mense toegang tot goedere en dienste verkry, voorsien of deel, dikwels deur middel van 'n gemeenskapsgebaseerde aanlyn platform". Dit maak deel uit van 'n veel groter sosio-ekonomiese ekosisteem wat rekenaar- en satelliettegnologie gebruik om werksmagte te koördineer. Sodoende word wêreldwye verskaffingskettings geskep wat laagbetaalde arbeid gebruik en uitgekontrakteerde werkers uitbuit om netbetydsvervaardiging moontlik te maak.
Die deelekonomie hou op sy beurt met platformkapitalisme verband. Platformkapitalisme verwys na 'n aantal platformgebaseerde maatskappye wat hardeware- én sagteware-infrastruktuur vryelik beskikbaar stel vir enigeen om te gebruik. Nick Srnicek identifiseer in sy boek Platform Capitalism (2016) vyf soorte platformgebaseerde ondernemings: advertensieplatforms (soos Google en Facebook), wolkplatforms (soos Salesforce), nywerheidsplatforms (soos GE en Siemens), produkplatforms (soos Rolls Royce en Spotify) en soepelplatforms (soos Uber en Airbnb). Soepelplatforms word met die deelekonomie verbind, en werk volgens 'n bedryfsmodel van minimale batebesit.
Baie het gehoop dat die geldkrisis van 2008/9 neoliberale kapitalisme sou laat verswak. Dit het nie. Trouens, neoliberale kapitalisme het ná 2009 'n ideale vorm aangeneem – 'n winsgedrewe deelekonomie wat met platformkapitalisme verband hou. In plaas daarvan dat die kredietknyp van 2008/9 neoliberalisme voor 'n krisis te staan gebring het, het al hoe meer privatisering, deregulering, die wegkwyning van die staat en die toenemende erosie van welsynstelsels neoliberalisme net verder versterk. Gary Hall meen dit is veelbetekenend dat sowel Uber as Airbnb juis gedurende die finansiële krisis, in onderskeidelik 2008 en 2009, gestig is.
Dit is belangrik om die opgang van aanlyn leer en onderrig teen die agtergrond van die neoliberale universiteit te verstaan ten einde te snap watter rol dit in die verubering van die universiteit speel, en waarom toenemende oorskakeling na aanlyn leer en onderrig gedurende die COVID-19-pandemie hierdie ontwikkeling kan versnel.
Platformpedagogie word dikwels slegs “aanlyn leer" genoem (sonder die opvoedergedeelte), wat die klem plaas op die leerder as kliënt in die onderwystransaksie. Die leer wat gedurende so 'n transaksie plaasvind, is “netbetydsleer", nes die Uber-diens “netbetydsvervoer" voorsien. Soos die Uber-bestuurder, word die dosent 'n werker-op-aanvraag. En indien die dosent positiewe resensies van studente wil ontvang om goed te vaar in die neoliberale universiteit se prestasiebeoordelingstelsel, moet hy/sy dieselfde vriendelikheid teenoor studente toon as die gemeensame geselsies waarmee die Uber-bestuurder met kliënte omgaan.
Platformmaatskappye soos LinkedIn en Academia.edu is goed geplaas om sulke tussengangerondernemings vir hoër onderwys te word. Wat Academia.edu betref, gee akademici dié maatskappy reeds gratis inligting deur hulle akademiese skryfwerk en besonderhede op sy platform te plaas, sonder dat die maatskappy deursigtig is oor wat hy in die toekoms met die data sal doen. Soos Sarah Bond skryf:
Academia.edu lyk met die eerste oogopslag na 'n wen-wen-situasie. Die platform stel gebruikers in staat om 'n profiel te skep, hulle werk te laai, sekere belangstellings aan te dui, en dan in te skakel by groot netwerke mense met soortgelyke navorsingsbelangstellings onder die bykans 47 miljoen gebruikers wêreldwyd. Maar hoe dinge lyk – en klink – is soms bedrieglik.
Die konteks waarin die moontlike verubering van die universiteit, en die versnelling daarvan weens die COVID-19-pandemie, verstaan moet word, is die neoliberale universiteit. Die hedendaagse universiteit in Suid-Afrika én orals anders ter wêreld word deur al hoe meer vermarking en burokratisering gekenmerk. Bestuurdersheerskappy is deesdae in alle vorme van akademieskap, onderrig, navorsing én gemeenskapskakeling te sien. Ons aanskou hoe die openbare universiteit 'n staatsondersteunde universiteit word namate staatsubsidies kwyn. Akademiese personeellede aan die neoliberale universiteit word toenemend aan allerhande vorme van toesig onderwerp, onder meer deur prestasiebestuurstelsels.
Neoliberalisme is dus die agtergrond wat verklaar waarom die verubering van die universiteit as gevolg van die COVID-19-pandemie kan versnel. Universiteite sal ná die pandemie waarskynlik toenemend na aanlyn onderrig en leer oorskakel. Die ongebreidelde uitbreiding van platformpedagogie binne die neoliberale universiteit, en die migrasie van die winsgedrewe deelekonomie en platformkapitalisme na die onderwysdomein, maak die verubering van die universiteit 'n waarskynlikheid. Nes Uber voordele inhou vir die kliënt, kan die verubering van die universiteit voordele inhou vir die student (kliënt).
Wanneer verubering egter uit die oogpunt van die akademikus beskou word, beteken dit onder meer deprofessionalisering, 'n afname in regte en voordele, en werksonsekerheid. Die verubering van die universiteit is nie onafwendbaar nie, maar die potensiaal vir verubering lê reeds in ons sosiale, opvoedkundige en tegnologiese werklikheid opgesluit. Ontsnapping van verubering ís moontlik, maar moet ondersteun word deur daadwerklik teennarratiewe vir verubering te konstrueer.
*Lesley le Grange is 'n uitgelese professor in die Departement Kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch. Hierdie artikel is gegrond op sy onlangse referaat wat in die South African Journal of Higher Education (2020) verskyn het.