Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Rolf Stumpf trap diep spore by US en in hoër onderwys
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division
Gepubliseer: 28/10/2020

Matieland 1998 – Prof Stumpf se aanstelling by die Universiteit Stellenbosch word aangekondig.


Prof Rolf Stumpf, voormalige Viserektor: Bedryf en Viserektor: Onderrig aan die Universiteit Stellenbosch (US) was een van die mees gerespekteerde kenners van die hoër onderwys in Suid-Afrika. Hy is Dinsdagoggend (27 Oktober 2020) oorlede.

“Die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor het inderdaad ’n groot gees en uitsonderlike mens verloor. Ons innige meegevoel aan die Stumpf-familie, in die besonder aan sy vrou, Adrianne (Adie) en hulle drie kinders,” sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US.

“Prof Stumpf het ná sy vertrek in 2002 altyd lojaal gebly aan die US, en hy was die afgelope jare op verskillende manier steeds by ons instelling betrokke. Hy was onder meer in 2017 ’n deelnemer aan die Beste Professor-gespreksreeks by die US Woordfees wat deur prof Andreas van Wyk, ’n voormalige Rektor en Visekanselier van die US gelei is. Prof Stumpf se onderwerp het gefokus op tersiêre onderwys in Suid-Afrika,” sê prof De Villiers.

“In 2017-2018 was hy in ’n adviserende rol betrokke by die vernuwingstrategie vir twee van ons fakulteite, en van 2019 tot kort voor sy afsterwe, het hy saam met Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, en prof Ian Cloete, Senior Direkteur: Inligtingsoorsigbestuur geskaaf aan ’n norme-en-standaarde-model vir die US.”

Na ’n loopbaan in senior poste by die Departement Onderwys, President van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, en lid van wyle President Nelson Mandela se National Commission on Higher Education (NCHE) in die negentigerjare, was hy een van die mense met die mees diepgaande kennis van die hoër onderwysstelsel oor vele dekades heen. Hy was een van die grondleggers en intellektuele leiers van die hoëronderwysstelsel vir die demokratiese Suid-Afrika. Hy was passievol verbind tot die hoëronderwysbeginsels van inklusiwiteit en verbreding van toegang, en tot die demokratiese projek in Suid-Afrika as geheel.

Kort nadat die verslag van die NCHE bekend gemaak is, en in die jaar toe die Witskrif op Hoër Onderwys en die nuwe Wet op Hoër Onderwys aanvaar is, het prof Stumpf op 1 Oktober 1998 as Viserektor: Bedryf by die US aangesluit. In Maart 2000 het hy oorgeskuif na die nuwe portefeulje van Viserektor: Onderrig. Die US kon dus die vrugte pluk van sy diepgaande, eerstehandse kennis en sy geloofwaardigheid, asook die nasionale en internasionale netwerke waarin hy diep ingebed was in daardie kritieke tyd in die geskiedenis van die universiteitswese in Suid-Afrika. Hy het ’n sleutelrol gespeel om die US te help bestuur en rig in die oorgangstyd na die demokratiese bestel.

Volgens prof Andreas van Wyk wat gedurende prof Stumpf se dienstydperk by die US die Rektor en Visekanselier was, het prof Stumpf in dié pos ’n sleutelrol gespeel in die US se respons op die regering se Nasionale Plan vir die Hoër Onderwys van 2000. “Hierdie plan het die Suid-Afrikaanse hoër onderwys omvattend en in sommige opsigte op omstrede wyse verander. Hy het help verseker dat die US sonder skade by daardie plan kon aanpas. Hy was baie betrokke by die versterking van onder meer die Universiteit se natuurwetenskappe-aanbod en die uitbou van die instelling as ’n navorsingsuniversiteit van internasionale gehalte. Sy bydrae tot die vestiging van ’n behoorlike bestuursinligtingstelsel aan die US bly ’n monument vir hom,” het prof Van Wyk gesê.

In die Senaatsverslag aan die Universiteitsraad, soos uiteengesit in die US se Jaarverslag (2002), skryf Prof Chris Brink, destyds die Rektor en Visekanselier: “Prof Rolf Stumpf het as Viserektor: Onderrig die Universiteit met uitnemende leierskap bedien tot sy vertrek in 2002.”

Dit was alombekend dat prof Stumpf sy portefeuljes met groot insig, tegniese kennis en bekwaamheid bestuur het. Trouens, as ’n uitvoerende bestuurslid van ’n universiteit was nie net sy tegniese kundigheid van die hoëronderwysstelsel buitengewoon nie; hy het dit alles help uitdink vir die hele Suid-Afrikaanse universiteitswese. Van sy voormalige senior US-kollegas bestempel prof Stumpf as “een van die héél beste lynbestuurders” van hul loopbaan en “enig in sy soort”.

Volgens die US Jaarverslag 2001, het die Akademiese Beplanningskomitee onder sy voorsitterskap voortgegaan met die vernuwing van akademiese programme. Die US in 2000 begin om akademiese programme pleks van kursusse aan te bied wat daarop gemik was om opleiding in algemene vaardighede naas kennis van vakdissiplines te ontwikkel. Die oogmerk was om aan die eise van die inligting-en-kennis-samelewing te voldoen, na Suid-Afrika se spesifieke behoeftes om te sien en internasionale erkenning uit te lok.

In dieselfde jaar het prof Stumpf ook ’n leidende rol gespeel in die ontwikkeling van die US se vindingryke e-kampusprojek wat die aanbied van nagraadse programme deur middel van die web en ander elektroniese platforms ingesluit het, asook e-aktiwiteite vir die instelling se residensiële studente.

Prof Stumpf was ’n sterk kandidaat om vir prof Van Wyk na sy aftrede in 2001 as Rektor en Visekanselier van die US op te volg, maar is egter in dié pos by die destydse Universiteit van Port Elizabeth aangestel. In daardie rol het hy ook op nasionale vlak ’n belangrike bydrae gelewer in onder meer die Raad op Hoër Onderwys.