Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Seminaar ondersoek SA Gebaretaal-tolking in hoër onderwys
Outeur: Disability Unit
Gepubliseer: 29/10/2020

​Aangesien September Internasionale Bewusmakingsmaand vir Dowes is, was dit gepas dat die Universiteit Stellenbosch (US) se Eenheid vir Gestremdhede en die US Taalsentrum saamspan om die 2020 seminaar oor die Etiese Kode vir Suid-Afrikaanse Gebaretaal-tolke vanaf 7 tot 9 September aan te bied. Die seminaartema, “Triangulering van die Gedragskode vir SA Gebaretaal-tolke in die hoër onderwys," het perspektiewe van Dowe studente en dosente, sowel as Suid-Afrikaanse gebaretaal‑ (SAGT‑)tolke gelok en die belang van 'n etiese kode vir tolke wat in die hoër onderwys werk, beklemtoon. Die artikels vorm deel van die 2020 Jaar vir Gestremdheid reeks.​


Tans is daar geen amptelike of konsekwente riglyne vir SA Gebaretaal‑tolke wat in die naskoolse onderwyskonteks in Suid-Afrika werk nie. 'n Werksdokument van die Higher and Further Education Disability Services Association (HEDSA), geïnisieer deur die Federasie vir Dowes van Suid-Afrika (DeafSA), bevat 'n etiese kode vir tolke en rig die werk en indiensneming van SAGT-tolke in Suid-Afrika. Hierdie dokument word egter nie konsekwent in die naskoolse onderwys‑ en opleiding‑ (NOO‑)sektor gebruik nie, en die etiese kode fokus nie spesifiek op opvoedkundige tolking in die hoër onderwys nie.

In 2019 het die Universiteit van Kaapstad die bespreking oor 'n etiese kode vir SAGT‑tolke wat in die NOO-sektor in Suid-Afrika werk, met die heel eerste seminaar oor die Etiese Kode vir Suid‑Afrikaanse Gebaretaal-tolke gelei. Vanjaar het die bespreking na die US verskuif, en mens vra jou af of daar 'n beter manier kon wees om prominensie aan dié kwessie te gee as die feit dat die US 2020 as die instansie se jaar van gestremdheid verklaar het.

Vanweë die COVID-19-pandemie is die seminaar op drie opeenvolgende dae aanlyn gehou. Die skuif na die aanlyn platform het die reikwydte van die seminaar vergroot en besprekings vergemaklik oor die magdom uitdagings wat studente aangewese op SAGT‑tolking in universiteitsinstellings, opvoedkundige tolke, eenhede vir gestremdhede, asook Dowe dosente in die gesig staar. Een van die belangrikste seminaarvrae was: Hoe rig ons die verskaffing en ontvangs van tolking in die spesifieke naskoolse omgewing met slegs 'n generiese kode byderhand, en hoe beskerm ons sowel die SAGT-tolke as die gebruikers van SAGT‑tolking?

Natasha Parkins-Maliko, 'n PhD-kandidaat en dosent in SAGT-tolking aan die Universiteit van die Witwatersrand, het die openingsrede gelewer deur te verwys na die belang daarvan om reflektiewe taalpraktisyns te wees. Sy voel sterk dat SAGT-tolke spesialiste in een of twee gesproke tale moet wees en goed vertroud behoort te wees met akademiese Gebaretaal om effektief op hierdie studievlak te kan tolk, en reg te laat geskied aan die studente wat hulle bedien. Kan tolke egter effektief in die naskoolse konteks werk sonder dat hulle self formele universiteitsopleiding ondergaan het? Dit is 'n ingewikkelde kwessie dat SAGT‑tolke dikwels hul kundigheid in tolking buite die hoëronderwyskonteks opdoen, en daarom is dit teenintuïtief om 'n universiteitskwalifikasie in tolking die maatstaf vir gehaltediens in die huidige Suid-Afrikaanse konteks te maak. Terselfdertyd is dit belangrik dat tolke die akademiese taal begryp wat in die hoëronderwyskontekste gebruik word, en hierdie begrip kan slegs met universiteitstudie kom. Die antwoord lê dalk in die ontwikkeling van 'n program vir die erkenning van vorige leer (EVL) vir SAGT-tolke wat erkenning gee aan vorige ervaring vir diegene wat vir 'n kwalifikasie in tolking inskryf, soos dit die geval is by die Universiteit van die Witwatersrand.

Benewens die aanmoediging van tolke om hul vaardighede in tolking te ontwikkel deur vir 'n hoër kwalifikasie in tolking in te skryf, het die seminaar ook weer die noodsaaklikheid benadruk dat SAGT-tolke navorsing doen om hul terminologie in akademiese vakgebiede op die gebied van hoër onderwys te kan uitbrei.

Die vraag oor die aanspreeklikheid van SAGT-tolke wat in naskoolse en universiteitsomgewings aangewend word, het heelwat debat ontlok. Is SAGT‑tolke rekenpligtig ten opsigte van die studente vir wie hulle tolk, of lê die aanspreeklikheid by die tolke se lynbestuurder of die departement, of dan by die instelling, aangesien SAGT-tolke ook werknemers van dié instelling is? Die posisionering van die SAGT-tolke wat hul persoonwees, hul studente, die dosente en die instelling betref, was ewe belangrik. Dit het verdere lewendige debatte ontlok.

Die Dowe universiteitstudente Imran Bodalaji en Qobo Ningiza het hul ervarings as Dowe studente en gebruikers van SAGT-tolke in die konteks van die lesinglokaal en vergaderings gedeel. Hulle aanbiedings en die daaropvolgende besprekings het deelnemers in staat gestel om die rol van SAGT-tolke te bekyk vanuit die perspektief van 'n student – die eerste belanghebbende in die trianguleringsproses. Soos vele ander studente, moes Imran en Qobo aanpas by die akademiese taal wat in hoër onderwys gebesig word. Al twee het tydens hul studie terminologie teëgekom wat hulle nog nie gesien het nie: dit was óf nuut vir hulle in SAGT óf dit moes ontwikkel word. Dit toon dat SAGT-tolke 'n kritiese rol in die lesinglokaal het. Wat is die rol van die tolk in hierdie trianguleringsproses tussen die student, die dosent en die tolk? Behoort die tolk die inligting wat die dosent oor te korrigeer wanneer die dosent duidelik gefouteer het? Hoe kommunikeer die persoon van die tolk dat die persoon onseker is oor die gebaar vir die terminologie wat in die lesinglokaal gebruik word? Imran en Qobo het ook gedagtes gedeel oor die isolasie wat hulle as Dowe studente in 'n horende wêreld ervaar.

Op die derde dag het die SAGT‑dosent Susan Njeyiyana, wat Doof is en self SAGT as die hoofmodus van kommunikasie gebruik, van haar ervarings gedeel. Sy doseer in die US se Departement Linguistiek en haar perspektief kom uit dié van 'n Dowe dosent en hoe sy die horende wêreld van die lesingslokaal en personeelkamers beleef. Sy het byvoorbeeld nie toegang gehad tot 'n tolk vir impromptu‑vergaderings met individuele studente of wanneer sy met kollegas moes kommunikeer nie. 'n Algemene tekortkoming wat sy by SAGT-tolke herken, is die gehalte van die tolking uit SAGT na stem, wat implikasies het vir die manier waarop sy as 'n Dowe persoon beskou word. Haar raad vir tolke is om konsekutiewe tolking te probeer; die tolk behoort eers die betekenis te verstaan voordat hulle met die stemtolking begin. Susan se aanbieding het verder tot besprekings rakende kulturele toe‑eiening vir persoonlike gewin gelei, sowel as die ontwikkeling van terminologie en gehalteversekering.

Die SAGT‑tolk Marsanne Neethling het haar ervarings tydens die laaste sessie van die seminaar gedeel. Marsanne is 'n tolk in diens van die Tolkdiens by die US Taalsentrum. Sy het Maartje de Meulder aangehaal en gesê dat Dowe akademici dikwels “tolkingsroulette" speel – as 'n Dowe individu weet jy nooit wat die kaliber van die tolk is by wie jy beland nie. Dieselfde geld in die breër naskoolse konteks. Hoe verseker ons toeganklike kommunikasie vir Dowe studente? Marsanne het verwys na die noodsaaklikheid daarvan dat tolke die kulturele en sosiale agtergrond van die gebruikers se brontaal én doeltaal behoorlik in die lesinglokaal moet verstaan – iets wat noodsaaklik is vir bemiddeling oor en die verstaan van die lesings. Om dit te kan bereik, moet SAGT-tolke soms buite die rol wat tradisioneel aan tolke toegewys word, optree. In haar navorsing het Odette Swift 'n opname gemaak van 'n student wat hieroor sê, “Is dit vreemd om te sê dat sy soos 'n vriendin is, want sy gee om of ons die werk verstaan of nie?" SAGT-tolke skep nie net gebare nie – hulle skep betekenis.

Die 2020 seminaar oor die Etiese Kode vir Suid-Afrikaanse Gebaretaal-tolke het 'n platform gebied vir Dowe studente en dosente, sowel as SAGT‑tolke – wat hulle in 'n gemeenskaplike ruimte in die hoëronderwysomgewings bevind – waar hulle hul menings kon lug, hul behoeftes kon uitspreek en saam brûe kon bou, wat suksesvolle studie vir studente en groei vir SAGT‑tolke as medewerkers verseker. Die seminaar het die noodsaaklikheid beklemtoon van 'n etiese kode vir tolke in die hoër onderwys, wat belanghebbendes in die toekoms kan begelei.

'n Werkgroep is gestig om 'n dokument te ontwikkel wat as riglyn of etiese kode kan dien vir tolke wat in die hoër onderwys werk. Die groep bestaan uit vrywilligers uit alle hoëronderwysinstellings met ervaring in SAGT‑tolking, en sluit lede van die Dowe gemeenskap in.

Die 2021 seminaar oor die Etiese Kode vir Suid-Afrikaanse Gebaretaal-tolke vind by die Universiteit van KwaZulu-Natal plaas.