Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Natuurwetenskappe se eeufeesboek nou by TakeAlot
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 26/10/2020

Die Fakulteit Natuurwetenskappe se boek wat 'n honderd jaar van wetenskapsonderrig en -navorsing aan die Universiteit Stellenbosch (US) gedenk, is nou ook by TakeAlot beskikbaar.

Die gedenkboek, 'n Besonderse Denkwyse, Fakulteit Natuurwetenskappe, Universiteit Stellenbosch 1918-2018, volg die geskiedenis van die eerste pioniers wat die grondleggingswerk gedoen het vir opleiding en navorsing in die natuurwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US) en dokumenteer ook die bydraes van verskeie individue in die vestiging van navorsingsvelde soos Kernfisika en Polimeerwetenskap in Suid-Afrika.

Prof. Chris Garbers, oudprofessor in Organiese Chemie vanaf 1958 tot 1978 en daarna president van die WNNR tot 1984, skryf in die Voorwoord dat sleutelinstellings soos die US se Fakulteit Natuurwetenskappe daartoe bygedra het om Suid-Afrika van 'n hoofsaaklik landelike gemeenskap tot 'n nywherheidsreus op die Afrikakontinent te transformeer.

“Die boek is 'n samevatting van 'n eeu se gebeure, uiteengesit in maklik verstaanbare taal, asook die dokumentering van anekdotes oor verskeie eksentrieke karakters. Daarby is ryklik geput uit toepaslike insette deur kundiges," skryf hy verder.

Hierdie hardeband boek van rooi linne en geboselleer met foelie op die voor- en rugkant, -bevat boonop meer as 200 foto's en beelmateriaal uit die Universiteit Stellenbosch-argief, die Africana-afdeling van die US Biblioteek, en verskeie artefakte uit departementele versamelings, insluitend wetenskaplike beelmateriaal van voormalige en huidige navorsing.