Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internet van Dinge-leerstoel bevorder interdissiplinêre samewerking
Outeur: Liesel Koch​
Gepubliseer: 21/10/2020

​“Ek glo regtig dat die grootste innovasie plaasvind wanneer baie uiteenlopende insigte bots. My visie is om in diepte op opkomende inligtings- en kommunikasietegnologie te fokus en om te help om dit wyd toe te pas op moeilike probleme wat ons as samelewing ondervind," sê prof Gert-Jan van Rooyen, die bekleër van die nuwe navorsingsleerstoel in die Internet van Dinge (IoT).

Hierdie leerstoel in die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) is geskep om samewerking tussen US-navorsingsgroepe aan te moedig wat gekonnekteerde tegnologieë gebruik om belangrike werklike probleme in die wêreld op te los.

“Wat ek veral van die leerstoel hou, is dat dit interdissiplinêre werk aanmoedig," sê Van Rooyen. “Die 'Internet van Dinge' is 'n manier waarop digitale tegnologie en konnektiwiteit die wêreld rondom ons waarneem, verbind en beïnvloed, en dit is op baie gebiede van toepassing – van draagbare mediese tegnologie tot vlieënde voertuie wat landbou ondersteun en nuwe maniere om 3D-voorwerpe te skep. Die leerstoel plaas ook klem op samewerking in die bedryf, en navorsing wat 'n werklike maatskaplike of kommersiële impak kan hê.

“Soos met enige navorsingsaanstelling, is my belangrikste verantwoordelikheid om nuwe kennis te help ontsluit wat akademiese, sosiale of kommersiële impak kan hê. Om dit te doen, het ons ons beste studente nodig om vir nagraadse navorsing in te skryf. Ons het samewerking oor akademiese vakgebiede en die bedryf nodig. Daarom is ek reeds in gesprek met verskeie bedryfsvennote.

“Ek sal ook voorgraadse klasse in Datawetenskap, Inligting- en Kommunikasietegnologie en verwante vakke aanbied. Die leerstoel wil ook supervisie vir finalejaarprojekte van Elektriese en Elektroniese en Bedryfsingenieurswesestudente verskaf, asook medesupervisie vir studente van ander departemente."

Op vrae oor die navorsingsleerstoel se navorsingsprojekte en veral interdissiplinêre navorsing, verduidelik hy: “Die bedoeling is om nie by navorsingsprojekte wat dissiplines oorkruis, betrokke te raak nie, maar om eerder 'n nuwe, afsonderlike navorsingsgroep te stig. Ingenieurswese en wiskundige wetenskappe is goed daarin om nuwe tegnologieë te verskaf wat probleme oor 'n wye reeks domeine kan oplos – maar ons is nie altyd bewus van hierdie probleme wat daar is nie. 'n Kundige in masjienleer mag byvoorbeeld dalk nie bewus wees van 'n nuwe beeldklassifikasietegniek nie wat die verlore stukkie in die legkaart kan wees om sekere siektes in gewasse op te spoor – indien ons dit met 'n selfaangedrewe robot kan kombineer. Hierdie mengsel van probleme en interdissiplinêre tegnologieë is die hart van die Internet van Dinge.

“Hoewel ons navorsingsprojekte nog nie alles bepaal is nie, is daar baie opwindende projekte wat in die proses is om ontwikkel te word. In Landboutegnologie kyk ons na maniere om verbeterde robot- en waarnemingstegnologieë te gebruik om voedselsekerheid te ondersteun. Ons werk aan IoT-konsepte wat op blokketting gegrond is om bestuur in gemeenskapsentra soos skole, te verbeter. Gekonnekteerde biomediese toestelle kan gesondheidsorg aansienlik verbeter, veral in landelike gebiede. Ons is op soek na studente en finalejaarstudente is baie welkom om my te kontak as hulle belangstel in hoe opkomende gekonnekteerde tegnologieë die wêreld rondom ons kan beïnvloed. Daar is beursgeleenthede beskikbaar vir nagraadse studie."

Van Rooyen se aanstelling maak ook deel uit van die US se nuwe Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke. “Ek is op 'n 50/50-grondslag tussen Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese en Bedryfsingenieurswese aangestel – dit is waar ek my daaglikse werk verrig. Die Skool bring egter aktiwiteite van verskeie akademiese departemente bymekaar. As navorsingsleerstoel in IoT val my onderrig- en navorsingsverantwoordelikheide onder die aktiwiteite wat die Skool bevorder en ontwikkel.

“Ek is baie opgewonde oor my nuwe pos. Ek het nog altyd die konneksies tussen akademiese dissiplines fassinerend gevind, asook die konneksies tussen die akademie, bedryf en die sosiale sfere. Die navorsingsleerstoel hou geweldige geleenthede in om die invloed van ontluikende tegnologieë op werklike probleme te bevorder."

Prof Gert-Jan van Rooyen het sy PhD in Elektroniese Ingenieurswese in 2005 aan die US verwerf, waar hy hom by die Fakulteit Ingenieurswese se akademiese personeel aangesluit het. In 2008 was hy die medestigter van die MIH Media Lab, 'n kruisdissiplinêre nagraadse navorsingsomgewing met 'n sterk klem op die gebruik van ontluikende tegnologie om probleme wat handelstoepassings het, op te los. In 2014 was hy die medestigter van Custos Media Techonologies om een van die Media Lab se uitvindsels te kommersialiseer en het hy die akademie verlaat om hom voltyds op die sakegeleentheid toe te spits. Hy is in Julie 2020 heraangestel in die navorsingsleerstoel van die Internet van Dinge by die Universiteit Stellenbosch.

 Foto: Prof Gert-Jan van Rooyen, bekleër van die navorsingsleerstoel van die Internet van Dinge.