Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Quintin die robot bring geïsoleerde Covid-19-pasiënte in aanraking met families
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 21/10/2020


 


Quintin die robot, wat dokters by die Tygerberg-hospitaal se intensiewesorgeenheid (ISE) bystaan, help ook nou om bekommerde gesinslede in aanraking te bring met ISE-pasiёnte wat geïsoleer moet word – en stel hulle in sommige gevalle in staat om vir oulaas afskeid te neem.

Quintin, ʼn Double Robotics-robot wat lyk soos ʼn rekenaartablet op wiele, is nou toegerus vir video- en stemoproepe deur van die vrylik beskikbare WhatsApp-diens of gewone telefoonoproepe gebruik te maak. Gesinslede kan dus inbel om pasiënte in die Covid-19-waakeenheid te “besoek".

Danksy ʼn app kan Quintin van ʼn afstand beheer word en derhalwe hoef personeel nie die saal fisies binne te gaan om die robot te posisioneer nie. Dit verlaag hulle kans op infeksie, bespaar op persoonlike beskermende toerusting (PBT) en gun hulle tyd om op ander take te fokus.

Om kontak tussen pasiënte en hulle gesinne moontlik te maak was ʼn “vermenslikingsproses", verduidelik dr Kerry Louw, ʼn psigiater aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) en die Tygerberg-hospitaal.

Sy vergelyk die ervaring om ʼn ISE-pasiёnt te wees met “'n vorm van sielkundige angs wat ʼn vrees vir die dood, onverwagte pyn en sensoriese ontneming, asook oorstimulasie behels".

ISE-pasiёnte is nie net liggaamlik siek nie, maar ly ook sielkundig omdat hulle van hulle gesinne geïsoleer is, van slaap ontneem word weens die voortdurende gebiep van masjiene en geen natuurlike lig of lugbeweging ervaar nie. “Party pasiënte is vir lang tydperke in ʼn ISE en dit raak baie moeilik vir hulle," verduidelik Louw.

“Dit is aandoenlik om die glimlagte te sien nadat pasiënte met hulle gesinne kontak gehad het. Dit het so ʼn groot verskil gemaak.

“In sommige gevalle was die pasiënte nie wakker terwyl hulle gesinslede met hulle gekommunikeer het nie, maar dit was steeds betekenisvol. Ons kon ʼn paar gesprekke reël waar pasiënte die einde van die pad bereik het en hulle tot siens kon sê. Een gesin wou tydens die sterwensoomblik daar wees en ons het hulle in staat gestel om by die pasiënt te wees."

Volgens Louw was die Departement Psigiatrie reeds besig om individuele en groepsteun te verskaf aan gesondheidsorgpersoneel wat met Covid-19-pasiёnte werk, toe ʼn kollega gevra het of hulle met kontak tussen pasiënte en hulle gesinne kon help.

“Personeellede van die Departement het in ʼn kantoortjie by die ISE ingetrek om byderhand te wees om ISE-personeel te ondersteun. Ons gaan elke dag in sodat ons sigbaar vir die personeel kan wees en om sielkundige steun aan die pasiënte te bied."

Wanneer Quintin se hulp ingeroep word, beweeg hy op sy wiele na die pasiënt en bly soms ure lank daar terwyl die gesin ʼn virtuele besoek aflê.

“Ek verduidelik altyd vooraf aan gesinne wat om te verwag en hoe iemand lyk wat geïntubeer is, omdat dit ʼn skok kan wees. Sommige gesinne verkies oudio- bo visuele kontak. Ons kyk altyd hoe dit met pasiënte gaan ná kontak met hulle gesinne. Dieselfde geld die gesinne, wat ook baie emosioneel kan wees ná kontak met die pasiënt."

Volgens prof Coenie Koegelenberg, ʼn FGGW-pulmonoloog wat ook in die Tygerberg-hospitaal se Covid-19-ISE werk, het die idee om Quintin in hierdie hoedanigheid te gebruik ontstaan “omdat ons nie verwag het dat pasiënte so bewus, wakker en angstig sou wees nie".

“Dit is moeilik vir gesondheidsorgwerkers om sielkundige steun deur ʼn masker en ʼn dik bril te bied, want dit laat jou soos ʼn ruimtewese lyk en dis moeilik om te hoor wat mense sê," verduidelik hy.

Koegelenberg het Quintin se dienste oorspronklik bekom om ISE-spesialiste in staat te stel om virtuele rondes in Covid-19-sale te doen as hulle nie in staat was om fisies teenwoordig te wees nie. “Die kanse dat minstens een van ons siek sou word of sou moes self-isoleer en nie in staat sou wees om fisies werk toe te gaan nie was redelik goed, dus was dit gerusstellend om te weet dat ons die robot van ʼn afstand deur ʼn foon of ʼn skootrekenaar sou kon stuur."

Nog geen van die ISE-spesialiste het siek geword nie, maar Quintin se dienste as ʼn tussenganger tussen pasiënte en hulle gesinne was onontbeerlik.

Louw sê dit was roerend en onvergeetlik om die gesin wat teenwoordig wou wees toe hulle geliefde gesterf het, in kontak met hom te bring. “Ons kon sorg dat Quintin teenwoordig was terwyl die gesin saam met die pasiënt gesing en gebid het terwyl hy gesterf het. Dit was baie kragtig.

“Dit is ʼn enorme voorreg om op so ʼn kwesbare tyd by pasiënte en hulle gesinne betrokke te wees. Dit is so mooi, maar ook so moeilik."


Onderskrif: Dr Kerry Louw saam met Quintin die robot.

Foto-erkenning: Damien Schumann