Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
EBW stel kompetisie bekend vir beste aanlyn-dosente
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 19/10/2020

Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het aangekondig dat die Fakulteit beplan om erkenning te verleen aan die beste aanlyndosente van 2020, soos aangewys deur studente in 'n aanlynmeningspeiling. Hierdie fakulteitsinisiatief is voorafgegaan deur 'n besonder uitdagende tydperk van noodafstandsonderrig.

Van 20 tot 28 Oktober 2020 stem voorgraadse EBW-studente vir enige voorgraadse dosent by wie hulle noodafstandsonderrig ontvang het, en nagraadse EBW-studente (uitgesonderd doktorale studente) stem vir enige nagraadse dosent by wie hulle noodafstandsonderrig ontvang het.

In elkeen van die Fakulteit se sewe departemente ding voorgraadse dosente mee om die departementele topposisie as die beste voorgraadse aanlyndosent, en nagraadse dosente ding mee om die posisie as die beste nagraadse aanlyndosent. Die Bestuurskool (USB) sal ook hul beste dosent aanwys.

Die name van die pryswenners sal tydens 'n virtuele funksie op Donderdagaand, 5 November 2020, aangekondig word. By hierdie geleentheid sal elke wenner die geleentheid kry om 'n wenk rakende aanlynonderrig te gee.

  • Alle EBW-personeel is welkom om die MS Teams-geleentheid by te woon, maar moet vooraf regisreer om die skakel te ontvang. Kliek hier​ om te registreer.