Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US maak jongste groep uitgelese professors bekend
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 16/10/2020

As deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se verbintenis tot akademiese uitnemendheid en in erkenning van US-akademici wat die hoogste sport in hul universiteitsloopbane bereik het, het die instelling die titel van uitgelese professor aan 'n groep van 37 akademici van nege fakulteite toegeken. Die groep sluit nuwe aanstellings asook heraanstellings in.

Die uitgelese professors maak deel uit van die US se voorste akademici wat al die eienskappe getoon het wat deur die US voortgestaan word, soos uiteengesit in die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024.

Die kriteria vir geskiktheid sluit in: moet as 'n professor by die US vir ten minste vyf jaar aangestel wees; die afgelope drie jaar deurlopend uitnemend presteer het; internasionale aansien; en bewese buitengewone prestasie en leierskap in hoër onderwys in navorsing en publikasies, nagraadse studieleiding, leer en onderrig en transformatiewe sosiale impak.

Die aanstellings geld vir vyf jaar en heraanstellings kan oorweeg word.

Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het die nuwe uitgelese professors gelukgewens en gesê die titel van “uitgelese professor" is geskep om erkenning te gee aan die US se heel beste akademici wat die hoogste sport van prestasie in hul universiteitsloopbane bereik het.

“Hierdie inisiatief om uitgelese professor aan te stel, is 'n baie belangrike stap om die uitnemendheid waarna ons strewe, te bereik. Dit is erkenning vir julle, en bevestiging van die Universiteit se verbintenis tot akademiese uitnemendheid, soos gesien kan word in die hoë aansien wat ons instelling tans internasionaal handhaaf," het De Villiers gesê.

Die name van die aangewese uitgelese professors is:

Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe

  • Prof Ashraf Kagee (Heraanstelling) van die departement Sielkunde. Sy werk is breedweg gesetel in die skakel tussen sielkunde en openbare gesondheid en hy het al in verskeie internasionale navorsingsrade gedien, insluitende 'n werkgroep van die Wêreldgesondheidsorganisasie.
  • Prof Amanda Gouws (Heraanstelling) van die departement Politieke Wetenskap. Sy is die SARChI Chair in Gender Politics​ en het al verskeie boeke in haar spesialis-vakgebied, Suid-Afrikaanse politiek en genderpolitiek en die politiek en politieke gedrag, geskryf.

Fakulteit Opvoedkunde

  • Prof Lesley le Grange (Heraanstelling) is 'n lid van die Raad op Hoër Onderwys in Suid-Afrika. Hy het al verskeie toekennings ontvang en is die skrywer/medeskrywer van meer as 50 boeke oor opvoedkunde.
  • Prof Yusef Waghid (Heraanstelling) is die hoofredakteur van die South African Journal of Higher Education en het tot op hede 372 navorsingsartikels gelewer, asook 42 boeke en geredigeerde versamelings. In 2011 is hy met die gesogte Nasionale Navorsingstigting se Spesiale Erkenningtoekenning vereer.

Fakulteit Natuurwetenskappe

  • Prof JAC (André) Weideman (Nuwe aanstelling) van die departement Wiskundige Wetenskappe. Hy het al die Suid-Afrikaanse Wiskundevereniging se toekenning van Navorsingsonderskeiding ontvang en is sedert 1999 'n professor in Toegepaste Wiskunde by die US.
  • Prof Bert Klumperman (Heraanstelling) van die departement Chemie en Polimeerwetenskap. Hy beklee die SARChi-leerstoel in Gevorderde Makromolekulêre Argitekture gevorderde makromolekulêre argitekture. Hy was die ontvanger van die 2016 Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NWTF)/South32-toekenning en in 2018 het die Royal Society of South Africa (RSSAf) hom met die 2018 John FW Herschel-medalje vereer.
  • Prof Dave Richardson (Heraanstelling) van die departement Plant- en Dierkunde. Hy is die direkteur van die DWT-NNS Sentrum van Uitnemendheid in Indringerbiologie (SIB), die skrywer/medeskrywer van meer as 450 artikels vir vaktydskrifte en hoofstukke in boeke en in 2019 het hy die Kwame Nkrumah-toekenning vir Wetenskaplike Uitnemendheid van die Afrika-unie ontvang.
  • Prof Guy Midgley (Nuwe aanstelling) van die departement Plant- en Dierkunde. Hy is een van die voorste kundiges op die gebied van biodiversiteit en wêreldveranderingswetenskap en is onlangs met die gesogte Humboldt-navorsingstoekenning van die Alexander von Humboldt-stigting in Duitsland vereer.
  • Prof Kathryn H Myburgh (Heraanstelling) van die departement Fisiologiese Wetenskappe. Sy is 'n raadslid van die Royal Society of South Africa (RSSAf) en is 'n kundige op die gebied van menslike biologie en oefeningfisiologie.
  • Prof Leonard Barbour (Heraanstelling) van die departement Chemie en Polimeerwetenskap. Hy staan aan die hoof van 'n strukturele chemiese laboratorium by die US en het in 2017 die Kanselierstoekenning vir Navorsing ontvang.
  • Prof Leon MT Dicks (Heraanstelling) van die departement Mikrobiologie. Hy dien in die Adviesraad vir Probiotika (Kopenhagen, Denemarke) en die probiotikum entiroTM is deur sy navorsingsgroep ontwikkel. Dit is in 65 lande gepatenteer (PCT/IB2007/051982) en is in al Suid-Afrika se voorste apteke beskikbaar.
  • Prof Resia Pretorius (Nuwe aanstelling) van die departement Fisiologiese Wetenskappe. Sy is 'n Nasionale Navorsingstigting-gegradeerde navorser en word as een van die voorste navorsers in haar vakgebied beskou. 'n Hele aantal van haar artikels het al in invloedryke internasionale vaktydskrifte verskyn en het reeds agt boekhoofstukke agter haar naam.
  • Prof WH van Zyl (Heraanstelling) van die departement Mikrobiologie. Hy het bande van samewerking met verskeie navorsers in Europa en die VSA gevestig, veral op die gebied van biomassa-oorskakeling na bio-etanol. In 2007 het hy die bekleër van die gesogte senior navorsingsleerstoel vir Energienavorsing in Biobrandstowwe en ander skoon alternatiewe brandstowwe geword wat tans as 'n vlak 1-leerstoel deur die NNS befonds word.

Fakulteit Teologie

  • Prof Louis Jonker (Nuwe aanstelling) het die 2016–2017 Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir die teologiese publikasie in Suid-Afrika ontvang. Hy is die voorsitter van die Raad van Nederduits-gereformeerde Dosente en sy navorsingsbelangstellings fokus op Bybelse literatuur in die Persiese tydperk, Bybelse geskiedenisoptekening en interkulturele Bybelse hermeneutiek.

Fakulteit Ingenieurswese

  • Prof Gideon van Zijl (Nuwe aanstelling) van die departement Siviele Ingenieurswese. Hy is 'n bekroonde navorser. Sy navorsingsgroep, die Sentrum vir die Ontwikkeling van Volhoubare Infrastruktuur, ontwikkel strukturele ontwerpriglyne vir sement-gebaseerde boumateriale.
  • Prof Johann Görgens (Nuwe aanstelling) van die departement Prosesingenieurswese. Hy is die bekleër van die SARChI-navorsingsleerstoel in Suikerriet Bio-raffinaderye en is sedert 2007 'n kernlid van die NNS-befondsde senior navorsingsleerstoel in Biobrandstowwe/Bio-energie.
  • Prof Maarten J Kamper (Nuwe aanstelling) van die departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese. Hy is die medeskrywer van twee boeke en het meer as 200 ewekniebeoordeelde navorsingsartikels geskryf. Hy het in 2017 die Kanselierstoekenning aan die US en die in 2018 die Toekenning vir Navorsingsuitnemendheid ontvang.
  • Prof Petrie Meyer (Heraanstelling) van die departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese. He is visedekaan (Navorsing) by die Fakulteit Ingenieurswese. Hy het deur die jare vyf Rektorstoekennings ontvang, asook die Universiteit Stellenbosch se Kanseliersleeftydtoekenning vir sy bydrae gedurende sy loopbaan.
  • Prof Steven Bradshaw (Nuwe aanstelling) van die departement Prosesingenieurswese. Hy is in 2016 as die Fakulteit Ingenieurswese se Dosent van die Jaar aangewys en het tot op hede meer as 1 500 sitasies op sy kerfstok. Sy navorsing fokus op mineraalprosessering, hidrometallurgie, masjienleer en rekenaarvloeistofdinamika.

Fakulteit AgriWetenskappe

  • Prof Florian Bauer (Heraanstelling) van die Instituut vir Wynbiotegnologie. Hy beklee die SARChi-leerstoel in Geintegreerde Wynwetenskap en doen navorsing in gisselbiologie en mikrobiese ekostelsels.
  • Prof Kennedy Dzama (Heraanstelling) van die departement Veekundige Wetenskappe. Hy is die visedekaan van die fakulteit (navorsing, innovasie en nagraadse studies) en is in 2017 met die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Veekundige Wetenskappe se Top-wetenskaplike navorsingtoekenning vereer. Sy navorsing handel hoofsaaklik oor die evaluasie van inheemse dierlike genetiese bronne.
  • Prof Karen Esler (Nuwe aanstelling) van die departement Bewaringsekologie. Sy het deur die jare al verskeie toekennings ontvang, insluitende die Golden Key-toekenning as beste dosent in AgriWetenskappe by die US. Esler se navorsingsbelangstellings fokus op die invloed van die plantbevolking en gemeenskapstrukture en -prosesse in fynbos-, Karoo- en oewerbewoner-plantegroei.
  • Professor Umezuruike Linus Opara (Heraanstelling) het die Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel in Na-oes Tegnologie gevestig en beklee dit tans. Hy het al verskeie toekennings vir uitmuntende prestasie in navorsingsuitsette en die graduering van doktorale studente ontvang.

Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

  • Prof Christo Boshoff (Heraanstelling) van die departement Ondernemingsbestuur. He doseer Bemarking en Bemarkingsnavorsing en sy navorsingsbelangstellings is diensgehalte as 'n mededingende strategie, die rol van risikopersepsies in diensbemarking, die bestuur van diensherstel en skaalontwikkeling.
  • Prof Mark Swilling (Heraanstelling) is die programkoördineerder van die Volhoubare Ontwikkelingsprogram in die Skool vir Publieke Leierskap; die akademiese direkteur van die Volhoubaarheidsinstituut; en die mededirekteur van die Stellenbosse Sentrum vir Komplekse Sisteme in Transisie.

Fakulteit Regsgeleerdheid

  • Prof Jacques Etienne du Plessis (Heraanstelling) van die departement Privaatreg. Hy is die medeskrywer van vyf boeke en het al bydraes vir verskeie vaktydskrifte gelewer. Hy het ook in die 2003 die Alexander von Humboldt-studiebeurs ontvang, wat gebruik is om navorsing oor die vergelykende reg van ongeregverdige verryking te doen by die Max Planck Instituut vir Vergelykende en Internasionale Privaatreg in Hamburg, Duitsland.
  • Prof Sandra Liebenberg (Heraanstelling) van die departement Publiekereg. Public Law. Sy beklee tans die HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregtereg en was al 'n lid van die Verenigde Nasies se Komitee vir Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte.

Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

  • Prof Bob Mash (Nuwe aanstelling) is die Globale Primêre Gesondheidsorgnavorsingskonsortium wat deur die Bill en Melinda Gates-stigting befonds word. Hy dien in verskeie plaaslike en internasionale rade en komitees en is in 2019 met 'n toekenning van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging vereer vir sy buitengewone bydrae tot geneeskunde in Suid-Afrika.
  • Prof Anneke Hesseling (Heraanstelling) van die departement of Pediatrie en Kindergesondheid. Sy is die direkteur van die Desmond Tutu TB-sentrum en het in 2018 die Universiteit se Nuusmaker-toekenning ontvang.
  • Prof Mark Cotton (Heraanstelling) van die departement of Pediatrie en Kindergesondheid. Hy is die voorsitter van die Wetenskaplike Komitee vir Suid-tot-Suid-opleiding en Mentorskap en het al op internasionale komitees van die Wêreldgesondheidsorganisasie en die CIPHER Wetenskaplike en Tegniese Adviesraad gedien.
  • Prof Gerhard Walzl (Heraanstelling) is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se Navorsingsgroep vir Immunologie, wie se navorsing al belowende diagnostiese en behandelingsreaksies vir tuberkulose geïdentifiseer het.
  • Prof Hendrik Schaaf (Heraanstelling) van die departement of Pediatrie en Kindergesondheid. Sy vernaamste navorsingsgebied is kindertuberkulose en veral middelweerstandige TB.
  • Prof Keymanthri Moodley (Nuwe aanstelling) is die direkteur van die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg. Sy het in 2018 haar vierde NIH-toekenning ontvang om 'n bio-etiese leierskapsprogram in Suidelike Afrika te ontwikkel.
  • Prof Quinette Louw (Nuwe aanstelling) van die departement Fisioterapie. Sy is in April 2005 as die heel eerste professor ooit in Fisioterapie by die US aangestel om navorsing en nagraadse opleiding te ontwikkel.
  • Prof Robin Warren (Heraanstelling) van die afdeling Molekulêre Biologie en Menslike Genetika. Warren het in 2018 die Kanselierstoekenning vir sy bydrae tot navorsing ontvang.
  • Prof Soraya Seedat (Heraanstelling) is die uitvoerende hoof van die departement Psigiatrie en beklee die Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel in Posttraumatiese Stresversteuring. Seedat is 'n gerekende kenner op die gebied van posttraumatiese stresversteuring en angsversteurings en het al verskeie toekennings ontvang.
  • Prof Taryn Young (Nuwe aanstelling) van die departement Globale Gesondheid. Sy is die direkteur van die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg en die hoof van die Afdeling vir Epidemiologie en Biostatistieke. Sy is 'n kundige op die gebied van bewys-ingeligte gesondheidsorg en spesialiseer in openbare gesondheid.