Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof. Karen Esler tot uitgelese professor bevorder
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 16/10/2020

​Plantekoloog prof. Karen Esler van die Departement Bewaringsekologie en Entomologie is tot uitgelese professor bevorder – en het in die proses die eerste vrou geword wat hierdie posisie in die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) beklee.

Veekundige prof Kennedy Dzama, wynbiotegnoloog prof Florian Bauer en na-oes spesialis prof Linus Opara se aanstelling in hierdie posisie is ook weer verleng.

Die titel van uitgelese professor verleen erkenning aan akademici se uitsonderlike prestasie en leierskap in hoër onderwys op die gebied van navorsing, lering, onderrig en sosiale impak. Dit erken ook die betrokke akademici se internasionale aansien in hul onderskeie dissiplines.

Prof. Esler is reeds vir die afgelope 25 jaar by die US werksaam, en is in 2008 as volle professor aangestel. Sy voltooi tans haar tweede en laaste termyn as voorsitter van die Departement Bewaringsekologie en Entomologie. Sy is 'n kernlid van die DWT-NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (CIB) sedert die totstandkoming daarvan in 2004, en is ook 'n assosiaatlid vir 'n sentrum by die Nelson Mandela Universiteit wat paleontologiese navorsing rondom kusstreke doen.

As 'n leier op die gebied van die plante in Mediterreense ekosisteme, en die herstel van sulke sisteme waar nodig, het prof Esler reeds meer as 200 portuurgeëvalueerde artikels agter haar naam. As studieleier het sy reeds 64 MSc-studente (waarvan 30 cum laude geslaag het) en 22 PhD-studente sedert 1996 suksesvol begelei.

“Een van die belangrike dinge wat my navorsing dryf is die behoefte om geboorte te gee aan idees wat van praktiese waarde kan wees in terme van beplanning rondom bewaring, die bestuur van plantgebiede en die herstel van ekosisteme wat agteruit gegaan het," verduidelik prof. Esler. “Dis daarom dat my werk toenemend transdissiplinêr van aard geword het."

Sy sê transdissiplinêre navorsing juis erken dat diverse perspektiewe nodig is om komplekse sosio-ekologiese uitdagings beter te kan verstaan. Dit word toenemend voorgehou as 'n manier om die sogenaamde “knowing-doing" gaping volhoubaar te oorbrug. Prof. Esler doen dit deur saam te werk met kollegas in onder meer Brasilië, die VSA en Europa, en deur navorsing te fasiliteer, te lei en te ondersteun wat fokus op 'n wye reeks onderwerpe wat fokus op die ekologie en volhoubaarheid.

Sy is tans deel van talle navorsingspanne wat die ekologiese herstel van plantegroei in fynbosgebiede en langs rivieroewers ondersoek. Dit sluit navorsing in oor die rol wat natuurgebaseerde oplossings speel om die werking van ekosisteme te verbeter terwyl dit ook die veerkragtigheid van sosio-ekonomiese sisteme verbeter. Ander werk fokus op die persepsies wat rolspelers oor ekosisteme huldig, ekologiegedrewe plaasbestuur en die gebruik van ekologiese infrastruktuur om waterbestuur toe te pas.

“Ek het regdeur my akademiese loopbaan al 'n wye netwerk van medewerkers, beide nasionaal en internasionaal, gekweek. Dit strek veel wyer as my dissiplinêre fokus, en sluit ook sosio-ekologiese aspekte in wat 'n beter begrip probeer skep van die waarde en gevolge van die mens se interaksie met die natuur en die ekologiese infrastruktuur wat dit verskaf," voeg prof. Esler by.

“Hierdie navorsing het al dikwels gelei tot toegepaste oplossings op die gebied van bestuur, ekologiese herstel en bewaring," verduidelik prof. Esler, wat tans as die streeksredakteur vir Afrika van die internasionale vaktydskrif Conservation Biology dien.

Onder hierdie uitsette is boeke soos Karoo veld: Ekologie en Bestuur (Briza Publications, 2006, ook in Engels beskikbaar), Fynbos: Ekologie en Bestuur (Briza Publications, 2014, ook in Engels beskikbaar) en The Biology of Mediterranean-Type Ecosystem (Oxford University Press, 2018).

Haar navorsingsuitsette en onderrigvermoëns is reeds deur verskeie Rektorstoekennings erken. In 2018 is sy ook erken as 'n leiersfiguur in Suid-Afrikaanse wetenskappe toe sy aangewys is as 'n kategoriewenner van die South African Woman in Science-toekennings (SAWiSA).

Prof. Esler het in 2006 die eerste vrou geword om as president van die Suid-Afrikaanse Assosiasie vir Plantkundiges (SAAB) gekies te word. Sy lê deurlopend groot klem op die bemagting van vroue in die wetenskappe en binne hoër onderwys in die algemeen, en het reeds verskeie leierskapsposisies in hierdie verband ingeneem. Onder meer was sy sewe jaar lank voorsitter van die raad van HERS-SA.

Op die internasionale front speel sy 'n belangrike rol op die koppelvlak tussen wetenskap en beleid, en het onlangs as oorsigredakteur gedien van die Intergovernmental Science-Policy Platform on Biodiversity and Ecosystem Services (IPBES) Global Report (2018-2019). Sy was ook een van 38 kenners uit 16 lande wat genooi is na die Global Forum on Ecological Restoration in Kaapstad, en is die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger by die Internasionale Vereniging vir Mediterreense Ekologie, wat in 2021 in Suid-Afrika byeen sal kom.​