Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mawethu Nyakatya ontvang internasionale besoekende studiebeurs
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 15/10/2020

'n Internasionale studiebeurs is onlangs aan 'n personeellid van die Universiteit Stellenbosch (US), Mawethu Nyakatya, toegeken. Hy het die Besoekende Professor in Gemeenskapsdeelname-studiebeurs by die Universiteit van Sentraal-Florida (UCF) in die VSA ontvang.

Nyakatya is die bestuurder van navorsingsvennootskappe in die US se Afdeling vir Sosiale Impak en deur die loop van die vyf jaar lange studiebeurs sal hy sy kennis en ondervinding op die gebied van gemeenskapsdeelname met UCF deel.

“Die uitnodiging is beslis 'n groot mylpaal in my loopbaan. Om erkenning vir jou ondervinding en kundigheid van jou eweknieë by 'n internasionale instelling te ontvang, is wonderlik. Dit dien ook as aanmoediging om toegewyd te bly aan gemeenskapsdeelname en om aan te hou om sukses te behaal," sê Nyakatya.

UCF het onlangs 'n nuwe kampus in die middestad van Orlando, Florida in die VSA geopen. Die kampusgeriewe maak samewerkende interaksie met die Stad Orlando, verskeie maatskappye en burgerlike organisasie moontlik en gebruik universiteitsbates om uitdagings wat die stad ondervind, aan te spreek – soortgelyk aan die werk van die US se Afdeling vir Sosiale Impak.

Nyakatya sal in samewerking met die UCF se kantoor vir Middestad-gemeenskapsdeelname-vakgeleerdheid werk om objektiewe assesserings van UCF Middestad se verbintenis tot beginsels van volhoubare en etiese gemeenskapsdeelnemende studiebeurse te doen, en hy sal ook by die opleiding van akademiese en professionele personeel en studente op die gebied van gemeenskapsdeelnamepraktyke betrokke wees.

“Ek hoop om my kennis en ondervinding op die gebied van gemeenskapsdeelname met hulle te deel en om meer by hulle te leer ten einde gemeenskapsdeelname vir sosiale impak by die Universiteit Stellenbosch en in die Suid-Afrikaanse konteks te verbeter. Ek wil ook graag my verbintenis met UCF gebruik om meer skakelgeleenthede vir personeel en studente van die twee instellings te skep."

Weens die voortdurende pandemie sal die studiebeurs uit aanlyn en afstandskakeling gedurende die COVID-19-tydperk en kontakskakeling ná COVID-19 bestaan.

Volgens prof Thomas Bryer, Programdirekteur vir Gemeenskapsdeelname by UCF, is Nyakatya een van 'n “uitgesoekte groep individue" van binne en buite die VSA vir wie se ervaring en kundigheid hy waardering het vir hul pogings wat hulle by hul universiteite aanwend.

“Ons weet dat insigte, waarnemings en vrae van buite die universiteit kan help om te verseker die vakkundige werk wat in die middestad van Orlando gedoen word, nie net van die universiteit 'n goeie buurman nie, maar ook 'n betroubare bondgenoot maak om uitdagings in die gemeenskap aan te spreek en die lewensgehalte te verbeter," sê Bryer.

Nyakatya en agt ander navorsers sal die UCF vroeg aanstaande jaar besoek.

Vir meer inligting oor die UCF en die middestadkampus, klik hier.​