Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldbekende navorser oor ervaringgerigte opvoeding by SUEEC
Outeur: Student Affairs / Studentesake
Gepubliseer: 13/10/2020

​Prof Alice Kolb, 'n wêreldbekende navorsing-en-ontwikkelingskenner op die gebied van ervaringgerigte opvoeding, is een van die uitgelese hoofsprekers waarna deelnemers aan die Universiteit Stellenbosch Konferensie oor Ervaringgerigte Opvoeding (SUEEC) in November 2020 kan uitsien.

Prof Kolb, die hoofbestuurder van Experience Based Learning Systems (EBLS), sal as een van die aanbieders in die konferensiestroom Ervaringgerigte opvoeding en studentetransformasie met deelnemers in gesprek tree. EBLS is 'n navorsing-en-ontwikkelingsorganisasie wat hom toelê op navorsing oor, en die toepassing van, ervaringsleer in organisasies wêreldwyd. Kolb fasiliteer die navorsings- en praktykinisiatiewe van hierdie internasionale netwerk. EBLS het al verskeie ervaringgerigte oefeninge en selfassesseringsinstrumente ontwikkel, onder meer die jongste Kolb Learning Style Inventory 4.0. Daarbenewens was sy onlangs medeskrywer van die boek Becoming an experiential educator: Principles and practices of experiential learning. Prof Kolb is passievol oor die skepping van bevorderlike ruimtes vir diep leer, wat studente uitdaag en ondersteun. Volgens haar is dit noodsaaklik om leerruimtes te skep wat kundigheid en volgehoue lewenslange leer aanmoedig, waarin ervaringgerigte opvoeders 'n deurslaggewende rol speel.

Prof Kolb het die graad BA in Japannese Studie van die Tokiose Universiteit vir Buitelandse Studie verwerf, gevolg deur 'n MA en PhD in Menslikehulpbronbestuur van die Hitotsubashi-universiteit. Sy het ook 'n MS in Menslikehulpbronbestuur van Cleveland-staatsuniversiteit en 'n PhD in Organisatoriese Gedrag van die Case Western Reserve-universiteit ontvang, waar sy as medeprofessor in die Weatherhead-bestuurskool gedien het.

“Vir prof Alice Kolb is ervaringgerigte opvoeding méér as 'n pragmatiese raamwerk. Sy glo dit is 'n filosofie wat veel verder as formele akademiese leer strek. Dit gaan oor meer as die gebruik van diagnostiese instrumente en is groter as die instelling self. Haar SUEEC-sessie is gewoon 'n moet vir alle ervaringgerigte opvoeders as deel van ons voortgesette leer," sê Ruth Andrews, voorsitter van die SUEEC-beheerkomitee en bestuurder van die US se Ko-kurrikulumkantoor in die Sentrum vir Studenteleierskap, Ervaringgerigte Opvoeding en Burgerskap (SSLEOB).  

Prof Kolb sal 'n paneelbespreking oor “Ervaringgerigte opvoeding en transformerende leer: Die beginsels en praktyke in gesprek" lei. Die SUEEC is 'n aanlyn konferensie wat die SSLEOB van die Afdeling Studentesake op 10 en 11 November 2020 sal aanbied. Die doel van die konferensiestroom Ervaringgerigte opvoeding en studentetransformasie is om die soeklig te werp op die benaderings en kwessies waarvoor ervaringgerigte opvoeders te staan kom in die gebruik van ervaringgerigte opvoedingsteorie en -metodologie as 'n pedagogie om maatskaplike geregtigheid en studentetransformasie teweeg te bring. Ander hoofsprekers wat by die SUEEC sal optree, sluit in proff George Kuh, Thuli Madonsela, Jonathan Jansen, Arnold Schoonwinkel, Hester Klopper, dr Choice Makhetha en mnr Mustafa Erdogan.

  • Vroeë registrasie vir die SUEEC het op 20 September 2020 gesluit, maar gewone registrasie is nog tot 1 November oop. Skakel gerus op 10 en 11 November in vir hierdie opwindende aanlyn geleentheid.

    Gaan vandag na
    www.sueec.com en registreer om aan die wêreldwye gesprekke by die SUEEC 2020 deel te neem.