Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wetenskaplike integriteit uiters belangrik tydens pandemies
Outeur: Wolfgang Preiser & Rika Preiser
Gepubliseer: 12/10/2020

Ten einde die publiek se vertroue in die wetenskap te behou of te herstel, moet wetenskaplike uitgewers hoëgehalte-ewekniebeoordeling verseker en bereid wees om hoë aansien en gewildheid op die gebied van openbare betrekkinge op te offer ten einde wetenskaplike integriteit te handhaaf. Só skryf prof Wolfgang Preiser en dr Rika Preiser in ʼn meningsartikel vir News24 (10 Oktober 2020).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Wolfgang Preiser & Rika Preiser*

Die voortslepende COVID-19-pandemie het ongekende ontwrigting op omtrent elke gebied van ons lewe teweeggebring, insluitende wetenskap en wetenskaplike publikasie. Talle navorsers se projekte is onderbreek, terwyl ander hulself moes herskep as koronavirusnavorsers.

Die algemene publiek toon ongekende belangstelling in die jongste navorsingsbevindings. Ingewikkelde aspekte van epidemiologie, diagnose, patogenese en behandeling wat gewoonlik aan die kundiges oorgelaat word wat buite die kollig werk, veroorsaak nou kontroversiële besprekings op sosialemediaplatforms.

Terselfdertyd het openbare gesondheidsbeleidsmakers dringend wetenskaplike bevindings nodig. Maatreëls om die pandemie te beheer of om die gevolge daarvan te verminder moet intyds in werking gestel word om op die snelontwikkelende situasie te reageer waarvoor niemand 'n “resepteboek" het nie, aangesien die wêreld nog nooit vantevore 'n pandemie beleef het wat deur 'n aansteeklike agent met die eienskappe van SARS-CoV-2 veroorsaak is nie.

Die reuse-behoefte aan toepaslike data, 'n vloed van COVID-19-verwante befondsingsgeleenthede en wetenskaplike vaktydskrifte se aanbiedinge van versnelde redaksionele en beoordelingsprosesse het op meer as 40 000 artikels oor COVID-19 binne slegs nege maande uitgeloop!

Die gevolglike sin van dringendheid en die ongelukkige algemene politisering van openbare gesondheidsmaatreëls soos die universele dra van nie-mediese (materiaal-) maskers, heropening van skole, ensovoorts hervorm die manier waarop wetenskaplike kennis oorgedra word.

Terwyl daar baie druk en aansporing is om vinnig te wees, kom spoed ten koste van deeglikheid. Dit het alledaags geword om wetenskaplike data te versprei voordat dit nog aan portuurbeoordeling deur vakkundiges blootgestel kon word. Die portuurbeoordelingsproses is een van die hoekstene van die wetenskaplike proses – ten spyte van die gebrekke daaraan verbonde, word dit steeds as die goue standaard beskou wanneer manuskripte aan die noukeurige ondersoek van kundiges (wat dit of heeltemal kan verwerp, of vir meer of mindere diepgaande aanpassings en verbeterings kan vra) blootgestel word voordat dit openbaar gemaak word.

'n Vlaag manuskripte wat met die pandemie verband hou, word op voordruk-bedieners vir gesondheidswetenskappe en biologie opgelaai – op 30 September 2020 is daar net op medRxiv en bioRxiv alleen 9 178 artikels oor COVID-19 en SARS-CoV-2 opgelaai. Terwyl sommiges nuttige besprekings onder kundiges stimuleer, word baie deur joernaliste en ander opgeraap om breedvoerig daaroor te berig, onbewus van die feit dat hierdie artikels eers deur die “veiligheidsnet" moet gaan wat ontwerp is om die gehalte en integriteit van wetenskap te verseker. Voortydige aanwending van beweerde, maar onbevestigde bevindings kan skadelik wees.

Wat nog erger is, is dat sommige artikels deur gerespekteerde vaktydskrifte aanvaar en gepubliseer word ondanks ernstige tekortkominge. Sekere medikasies is as voordelig vir COVID-19-pasiënte aangeprys, ondanks 'n gebrek aan behoorlike bewyse. Voorlopige waarnemings kan nuttig wees indien dit daarna behoorlik in ewekansige beheerde proewe getoets word. Indien dit egter politiese valuta word in voorverskynings- en latere gepubliseerde vorm, soos toe president Trump chlorokien as 'n teenmiddel vir COVID-19 geloof het.

Sedertdien het die hoogaangeskrewe vaktydskrif, Lancet, 'n artikel gepubliseer wat die teenoorgestelde beweer: 'n ontleding van 'n wêreldwye hospitaalpasiëntregister het getoon dat chlorokien nie help nie, maar dat dit tot hoër sterftes onder COVID-19-pasiënte lei. Hierdie “studie" is egter net so ongeldig: Daar bestaan ernstige twyfel oor die gehalte of selfs die bestaan van die onderliggende databasis, wat tot die uiteindelike terugtrekking van hierdie en 'n verwante wetenskaplike artikel gelei het.

Hierdie is voorbeelde van mislukkings van twee van die onderdele van wetenskaplike gehalteversekering, naamlik redaksionele oorsig en portuurbeoordeling. Die gevolglike lae, kritiese ontvangs deur portuurgroepe en herhaling deur ander studies, het groot leemtes in hierdie artikels ontbloot. Dit bewys fundamenteel dat die wetenskaplike proses en die selfkorrigerende aard daarvan steeds ongeskonde is. Selfs tydelike afwykings kan egter skadelik wees – deur tot swak besluite te lei (byvoorbeeld die suboptimale behandeling van pasiënte of onvoldoende voorkoming van infeksie) of “slegs" deur die aandag af te lei van ware kwessies en beter alternatiewe.

Die voortslepende pandemie plaas 'n reuselas op redakteurs, resensente en omtrent almal binne die wetenskaplike gemeenskap. Diegene wat in die beste posisie is om betekenisvolle portuurbeoordelings van voorgelêde manuskripte te verskaf, is waarskynlik dieselfde mense wat self ook besig is om te probeer om befondsing en etiese goedkeurings te kry, om proewe te onderneem, data te ontleed en manuskripte te skryf en het dus nie die tyd om portuurbeoordelings te doen nie.

Aan die ander kant mag “informele" portuurbeoordelings onverwagte voordele bied, selfs nog voor 'n artikel aan 'n joernaal voorgelê word. 'n Voorbeeld van vroeg 2020 is die “verdwyning" van 'n voor-druk artikel wat valslik beweer het dat die SARS-CoV-2-genoom elemente van die genoom van HIV bevat. Kragtige “oop" portuurbeoordeling wat op wetenskaplike blogs en Twitter plaasvind, het waarskynlik die onttrekking van die manuskrip tot gevolg gehad.

'n Rasionele benadering sal baie help, veral as dit deur kennis van die betrokke vakgebied ondersteun word. Hier is 'n voorbeeld: Die meeste antivirale middels is die eindproduk van noukeurige navorsing wat oor dekades heen gedoen is wat met basiese virologie begin en uitloop op kliniese toetse. Maak dit dan dit nie hoogs onwaarskynlik dat 'n dekade-oue malariamiddel soos chlorokien groot, tot dusver onerkende, antivirale aktiwiteit sou hê nie? Of ernstige toksisiteite wat dekades lank nie gesien is nie?

Gelukkig is die wetenskaplike onderneming steeds grootliks ongeskonde. Selfs gedurende die pandemie sal swak (of selfs bedrieglike) artikels op die ou einde raakgesien word. Maar om die publiek se vertroue in die wetenskap te behou of te herstel, moet wetenskaplike uitgewers hoëgehalte-ewekniebeoordeling verseker en bereid wees om hoë aansien en gewildheid op die gebied van openbare betrekkinge op te offer ten einde wetenskaplike integriteit te handhaaf.

*Prof Wolfgang Preiser is hoof van die Mediese Virologie-afdeling by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US). Dr Rika Preiser is 'n senior navorser by die US se Sentrum vir Komplekse Sisteme in Transisie. Hierdie artikel is 'n verkorte weergawe van hul onlangse artikel, Academic publishing in pandemic times, wat in die South African Journal of Science verskyn het.