Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreld se grootste proefneming toon hoe vinnig brande tussen plakkershutte versprei
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 07/10/2020

Twintig plakkershutte word binne vyf minute vernietig. Dit is hoe vinnig brande in informele nedersettings kan versprei.  

Dit is een van die belangrikste resultate van die wêreld se grootste brandproefneming in 'n informele nedersetting wat uit twintig huise bestaan het. Die proefneming is deur die Universiteit Stellenbosch se Eenheid vir Brand-ingenieurswesenavorsing (FireSUN) onderneem in samewerking met die Wes-Kaapse Rampbestuur, Brand- en Reddingsdienste en die Breedevallei Munisipaliteit (BVM) se Brandweerafdeling, wat die proefneming aangebied en baie gehelp het met die algehele navorsingspogings. Die werk maak deel uit van 'n projek wat in samewerking met die Universiteit van Edinburgh aangepak is om te sien hoe die uitwerking van sulke brande verminder kan word en is deur die UK-gebaseerde Global Challenges-navorsingsfonds befonds.

Die resultate van die proefneming het onlangs in Fire Technology, een van die voorste akademiese vaktydskrifte oor brandveiligheid, verskyn.

 

Selfoongebruikers klik hier

“Die brandweer word dikwels daarvan beskuldig dat hulle nie gou genoeg optree nie, maar ons proefneming het getoon dat 'n brand regtig baie vinnig kan versprei. Brandbestryders het dit nog altyd geweet, maar nou het ons beter eksperimentele data om die probleem te verstaan en om intervensies te ontleed," sê prof Richard Walls van FireSUN wat die projek oorhoofs bestuur het.

“Ons het in ons proefneming gesien dat sekere intervensies wat tans gebruik word, ondoeltreffend sou gewees het om die spoed van hierdie brand te verminder. Brandwerende verf sou byvoorbeeld bitter min gehelp het weens die intensiteit van die vlamme en die feit dat die brand huise laat vlamvat het deur enige klein openinkies in hierdie strukture, wat enige deklaag se beskerming sou teengewerk het. Deure en vensters sal dit ook altyd maklik maak vir 'n brand om huise in 'n digbevolkte nedersetting binne te dring."

Die proefneming is deur Walls se kollega, dr Nico de Koker, ontwerp. Hy het ook die resultate ontleed.

De Koker sê die proefneming is ontwerp om 'n “brandlyn" na te boots wat in 'n digte nedersetting gevind sal word wanneer 'n brand daardeur versprei. “Ons het grootskaalse instrumentasie, termiese beeldvormingskameras, 'n hommeltuig en ander toerusting in die proefneming gebruik om data oor vlamlengtes, temperature wat ondervind is, verspreidingskoerse en details oor wanneer huise aan die brand geslaan het, te verskaf."

Volgens Walls het dit sowat vyf minute geduur vandat die eerste huise aan die brandgesteek is totdat die laaste huise vlamgevat het.  

“Dit is angswekkend min minute wanneer 'n mens in ag neem dat dit dikwels 'n inwoner 'n hele paar minute kan neem om 'n brand te ontdek, om die plaaslike brandweer te skakel (die verkeerde nommer word dikwels gebel), 'n brandweerwa om uitgestuur te word en wat dan moontlik ver moet ry, vir brandbestryders om die brandende huise te vind (in die middel van 'n nedersetting sonder straatname), om hul toerusting op te stel en uiteindelik die brand te blus.

“Ná sowat 16 minute was daar in die proefneming omtrent geen huise meer oor nie – al wat oorgebly het, was 'n hoop skrootmetaal op die grond. Temperature van tot omtrent 1 200°C is gemeet en meters-hoë vlamme het by die huise uitgepeul."

Ter beklemtoning van die belangrikheid van die proefneming, het adjunk-brandweerhoof Joseph Pretorius van die BVM opgemerk dat hul brandbestryders gereeld hul lewens in gevaar stel om hierdie gevaarlike brande te blus. “Dit is opwindend dat ons munisipaliteit hierdie navorsing kon moontlik maak sodat ons beter kan verstaan hoe hierdie brande versprei en optree."

Marlu Rust van die Wes-Kaapse Rampbestuur, Brand- en Reddingsdienste deel Pretorius se mening en verduidelik dat hulle geruimte tyd reeds aktief besig is om maniere te vind om brandveiligheid in informele nedersettings te verbeter. “Ons het die afgelope paar jaar nou saam met die Universiteit Stellenbosch gewerk. Ons brandweerafdelings ondervind reuse-uitdagings om sulke brande te probeer blus; daarom is dit belangrik dat die regering, akademici en gemeenskappe saamwerk om oplossings te vind."

Walls sê die span is besig om uit hierdie, asook talle ander navorsingsproefnemings, 'n goeie begrip van brandverspreiding in nedersettings te vorm.

“Hoewel daar geen maklike oplossing vir die probleem is nie, toon die data ten minste dadelik watter tipe intervensies minder doeltreffend gaan wees. Rekenaarmodelle is ontwikkel om brandverspreiding deur nedersettings na te boots en kan binnekort nuttige besluitnemingsinstrumente vir risiko-ontleding in nedersettings word en potensieel vir die ontwikkeling van brandveiligheidstrategieë."

Walls voeg by dat hierdie proefneming onder meer ook gehelp het om lig te werp op die prestasie van produkte (byvoorbeeld brandverklikkers, brandwerende verwe, brandblussers en waarskuwingstelsels vir munisipaliteite) wat gebruik word om 'n brand in informele nedersettings te blus; hoe vinnig hierdie brande versprei; en hoe om hulle so doeltreffend as moontlik te onderdruk en hoe gemeenskappe kan help.

Hy sê 'n finale reeks proefnemings wat ná hierdie grootskaalse toets gedoen is, word tans ontleed om verdere insig oor 'n aantal aspekte te verkry. 'n Reeks toetse is ook gedoen om die doeltreffendheid van gemeenskapsgebaseerde onderdrukkingstelsels te verstaan.

  • Bron: De Koker, N., Walls, R.S., Cicione, A. et al. 20 Dwelling Large-Scale Experiment of Fire Spread in Informal Settlements. Fire Technology, 56, 1599–1620 (2020). https://doi.org/10.1007/s10694-019-00945-2.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Prof Richard Walls

Eenheid vir Brand-ingenieurswesenavorsing (FireSUN)

Departement Siviele Ingenieurswese

Universiteit Stellenbosch

E-pos: rwalls@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch 

E-pos: viljoenm@sun.ac.za