Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alumni vereer vir werk aan Sundowner
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 06/10/2020

​Twee alumni van die Fakulteit AgriWetenskappe is vanjaar vir hul landbouwetenskaplike navorsing vereer tydens die toekenningsgeleentheid van die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf.

Phyllis Burger en Andries Daniels, albei deel van die Landbounavorsingsraad (LNR) se teel- en evalueringspan buite Stellenbosch, het die toekenning in die afdeling navorsing en tegnologie ontvang. Daardeur het die bedryf hul werk op die ontwikkeling van 'n druifkultivar genaamd Sundowner wat vir rosyntjies gebruik kan word erken, asook vir hul bydrae tot die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse droogdruifbedryf.

Dit is reeds die 45ste jaar wat die toekennings gemaak word.

Burger, wat reeds 'n lang loopbaan by die LNR geniet, het in 1980 as eerstejaar aan die Universiteit Stellenbosch met 'n BSc Agric in Plantpatologie begin. Daarna het sy in 1985 'n honneursgraad voltooi, en in 1992 haar meestersgraad cum laude behaal. Daniels het in 2005 'n BSc in Wingerd- en Wynkunde voltooi, waarna sy honneursgraad in 2008 en 'n MSc Agric in Wingerdkunde in 2013 gevolg het. Hy is tans besig met sy doktorsgraad in wingerdkunde.

Volgens 'n persverklaring wat na afloop van die virtuele prysoorhandiging deur bedryfsliggaam HORTGRO  uitgereik is, was die Suid-Afrikaanse droogdruifbedryf vir baie jare hoofsaaklik afhanklik van slegs een kultivar, naamlik Sultana. Dit het egter 'n aantal tekortkominge gehad. Alhoewel ander kultivars vanaf internasionale teelprogramme, beskikbaar was, is Suid-Afrikaanse klimaatstoestande uniek en was daar geen geskikte plaasvervanger daarvoor nie.  

Die afgelope drie dekades het die droëvrugtebedryf en die LNR daarom saamgewerk aan 'n navorsingsinisiatief vir teel en evaluering om 'n nuwe droogdruifkultivar gepas vir Suid-Afrikaanse omstandighede te ontwikkel.

Die program het weldra aanleiding gegee tot 'n nuwe droogdruifkultivar, Sundowner. Dit is die eerste Suid-Afrikaans-geteelde droogdruifkultivar wat kommersieel by die registrateur van planttelersregte in Suid-Afrika geregistreer is. Die naam Sundowner is afgelei van die rooierige blos op die ryp bessies, wat aan sonsondergang herinner.

Sundowner is vroeër vanjaar deur die LNR, Raisins SA en Culdevco Bpk. tydens 'n kultivarinligtingsdag naby Upington bekend gestel.

Soos met die meeste teelprojekte, is die ontwikkeling van nuwe kultivars 'n tydrowende proses wat begin met handbestuiwings, waarna embrio's van saadlose druiwe geoes word. Hierdie embrio's groei in 'n kweekmedium tot lewensvatbare plante. Saailinge word dan in tonnels uitgeplant om te akklimatiseer, waarna dit in 'n saailingblokke uitgeplant word. Hierdie spesifieke kultivar is in 2002 geselekteer en in 2006 tot semi-kommersialiseringstatus bevorder. Daar is in 2017 aansoek gedoen vir planttelersregte en in 2019 is dit toegeken.

Voorwaar 'n lang pad vanaf 1994 toe die eerste kruisings gemaak is!

 

Foto: Phyllis Burger en Andries Daniels met die toekenning wat die Suid-Afrikaanse Sagtevrugtebedryf aan hulle gemaak het. ​