Met die wêreld wat steeds in die globale COVID-19-pandemie gedompel is, het baie lande, insluitende Suid-Afrika, 'n toename in die aantal gevalle van geestegesondheidsiektes gesien.
Volgens dr Nathaniel McGregor is daar nog nie genoeg navorsing in Afrika gedoen om met die toenemende las van geestesgesondheidsiektes te help nie. Dit het baie van die gemarginaliseerde bevolkings op die vasteland onderverteenwoordig gelaat.
Hierdie navorser en dosent van die Universiteit Stellenbosch (US) het dit sy doelwit gemaak om geestesgesondheidnavorsing in Afrika te help bevorder deur spesifiek die geestesgesondheidgenetika van mense op die vasteland te ondersoek.
“Geestesiektes soos skisofrenie en angsversteurings hou 'n wesenlike las in, met 'n groot deel van hierdie las wat in laer- tot middelinkomstelande soos Suid-Afrika voorkom. Daarbenewens is daar unieke, is ons bevolkings ryk aan genetiese diversiteit wat beteken dat nie alle wêreldwye navorsingsuitsette altyd op ons bevolkings van toepassings nie, wat die las verder vererger. My navorsing is daarop gemik om die onderliggende molekulêre meganismes bloot te lê wat tot geestesversteurings en die behandeling daarvan in onderverteenwoordigde Afrika-bevolkings bydra."
McGregor, wat in Kaapstad grootgeword het, wou aanvanklik 'n suiwer mediese rigting volg, maar nadat hy meer oor die Baccalaureus-kursus in Natuurwetenskappe (BSc) uitgevind het, het hy gevind hy stel eerder daarin belang om die onderliggende oorsake van siektes eerder as die behandeling van die simptome te verstaan.
Nadat hy sy honneurs-BSc- en MSc-grade by die US se departement Genetika voltooi het, het hy sy doktorsgraad in Psigiatrie by die Tygerberg-mediese kampus gedoen waar hy in neurospsigiatriese genetika gespesialiseer het.
McGregor het in 2014 die NNS Skaarsvaardighede-postdoktorale genootskap ontvang en het besluit om sy navorsingstyd tussen die US en die Universiteit van Kaapstad (UK) se MNR-eenheid vir Angs en Stresversteurings (nou die US/UK MNR-eenheid vir Risiko en Veerkragtigheid in Geestesversteurings) en die Farmakogenetika-navorsingsgroep, gelei deur prof Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die US, te verdeel.
McGregor is ook deel van die MNR SHARED-ROOTS-vlagskipprojek se navorsingspan, gelei deur prof Soraya Seedat, wat die meganismes onderliggend aan metaboliese sindroom en geestesiektes ondersoek.
“Geestesversteurings is ingewikkeld. Neuropsigiatriese genetika is die laaste 'swart boks' van genetiese navorsing, met baie aspekte van molekulêre meganismes wat tot die manifestasie van siektes bydra wat nog grootliks onbekend is. Aangesien Suid-Afrika ook die tweede hoogste voorkoms van angsversteurings in die wêreld het met 'n heeltemal onvoldoende gesondheidsorgstelsel om dit te ondersteun (die regering ken R100 per persoon per jaar toe vir geestesgesondheid), word ek elke dag aangemoedig deur die absolute noodsaaklikheid om betekenisvolle vordering op hierdie gebied te maak," sê McGregor.
In 2016 is McGregor as dosent by die departement Genetika in die afdeling Menslike Genetika aangestel. Hy doseer verskeie modules in inleidende genetika en farmakogenetika, asook die afdelings oor menslike en diere-genetika in die honneurs-BSc in Genetika.
Hy is 'n veelvoudige ontvanger van die NNS se Skaarsvaardighede-beurs en het ook 'n Erasmus Mundus-beurs ontvang wat samewerking met die Stockholm Sentrum vir Molekulêre Geneeskunde by die Karolinska-instituut moontlik gemaak het.
McGregor is ook lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Menslike Genetika, die Amerikaanse Vereniging vir Menslike Genetika en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Neurowetenskap. Hy het onlangs 'n drie-jaar program by Harvard voltooi wat op Afrika-gesentreerde opleiding gefokus het om die las van geestesiektes wêreldwyd aan te spreek (Global Initiative for Neuropsychiatric Genetics Education in Research (GINGER)).
McGregor sê hy voel bevoorreg om saam met soveel ongelooflike instellings te werk en om by van die beste navorsers op die gebied van geestesgesondheid te leer. Hy hoop om in die toekoms 'n goedgevestigde navorsingsgroep te hê wat sal help om rigting aan die geestesgesondheidnavorsingsterrein te gee deur sistemiese genetika-benaderings tot neuropsigiatriese versteurings deur innoverende navorsing en die opleiding van plaaslike en internasionale studente te bevorder.
“Die vakgebied van neuropsigiatriese genetika is redelik nuut en klein. Ons het baie meer vars, jong intellektueles nodig wat innoverend oor die toepassing van navorsing in die geestesgesondheid-arena sal dink."