Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US grond​kundiges slaan internasionale prys los vir boek oor volhoubare grondvoorbereiding
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 02/10/2020


’n Boek deur twee grondkundiges van die Universiteit Stellenbosch (US) het internasionale erkenning gekry van die wingerdboukundige publikasiebedryf. Die publikasie, wat wenke verskaf oor hoe die druiwebedryf volhoubare grondvoorbereiding ten beste kan verseker, is geskryf deur dr. Johan van Zyl, buitengewone professor in grondkunde in die Fakulteit AgriWetenskappe en dr. Eduard Hoffman van die US Departement Grondkunde.

Hul boek, Soil preparation for sustainable wine and table grape production, is benoem as kategoriewenner in die 2020 OIV Toekennings van die Internasionale Organisasie vir Wingerd en Wyn. In totaal is 19 OIV Toekennings en 10 OIV Spesiale Vermeldings in 11 kategorieë toegeken aan webwerwe, boeke en naslaanwerke uit 25 lande. Die 2020 Toekennings is vanjaar vir die 90ste jaar toegeken. 

Die twee kenners se boek het die hoogste erkenning ontvang in die kategorie volhoubare wingerdboukunde. Onder die ander kategorieë tel geskiedenis, wingerdbou, wynkunde en wingerdboukundige reg.

Die pryswennerboek van Suid-Afrika is in 2019 gepubliseer as ’n gesamentlike onderneming tussen Winetech, die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf (SATI) en Villa. Dit is versprei aan produsente tydens ’n reeks bedryfsdae verlede jaar.

Soil preparation for sustainable wine and table grape production bevat praktiese kennis en navorsingsbevindings oor die essensie van grondvoorbereiding wat deur die wyn- en tafeldruifbedrywe ingewin is oor die afgelope 100 jaar. Die boek bevat nie net ’n magdom praktiese inligting nie, maar die skrywers het ook moeite gedoen om die motivering vir en agtergrond van die aanbevelings te gee. Hulle verskaf ook eksperimentele bewyse ter ondersteuning daarvan.

Grondprofiel-modifikasie neem worteldistribusie in ag, wat ’n voorvereiste is vir hoë en volhoubare wingerdprestasie.

“Dit is krities dat navorsingsresultate aan lede van die bedryf gekommunikeer word om by te dra tot volhoubaarheid en winsgewendheid in hul ondernemings,” het Gerard Martin, uitvoerende bestuurder van Winetech, gesê in ’n persverklaring ten tyde van die boekbekendstelling. 

Volgens die hoofskrywer, dr. Van Zyl, is grond waarop Suid-Afrikaanse wingerd geplant word tipies meestal vlak en nogal suur. Gevolglik moet dit goed voorberei word voordat wingerd suksesvol daarop aangeplant kan word, om volhoubare opbrengste op die lange duur te lewer. 

“Dit is hoekom Suid-Afrika al vir vele jare ’n wêreldleier in die dissipline van grondvoorbereiding is,” voeg hy by. 

Die toekenning was ‘n lekker verrassing vir die skrywers. 

Daaroor sê dr. Hoffman: “Dis ‘n besonderse erkenning vir werk wat oor die laaste 20 jaar op die onderwerp gedoen is. Prof Leopoldt van Huysteen se navorsing destyds oor die onderwerp het internasionaal baie belangstelling en erkenning gekry.”

Die grondkunde-duo sal hul toekenning ontvang tydens ’n virtuele seremonie wat na verwagting aan die einde van November gehou word.

Vir navrae oor die boek, kontak lucinda@winetech.co.za.