Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​ US-wynkundiges help Sauvignon Blanc-kompetisie die tegnologiese era betree
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 02/10/2020

Dis vinniger as om beoordeling op papier te doen. Dit skakel moontlike vingerfoute met die insluitel van punte uit. Omdat minder papier gebruik word, krimp 'n kompetisie se koolstofvoetspoor. Dis ook moontlik om redelik vinnig na afloop van 'n beoordeling 'n aromaprofiel van elke wyn op te stel – iets wat voorheen dikwels by kompetisies agterweë gebly het weens die tyd en kostes daaraan verbonde.

So gesels dr. Jeanne Brand, hoof van die Departement Wingerd- en Wynkunde se sensoriese laboratorium, oor die voordele wat dit vir wynkompetisies inhou om hul beoordelingsproses oor te skakel vanaf papier na pasgemaakte sagteware wat beoordelaars toelaat om hul tellings op tablette in te sleutel.

Dr Brand was tesame met wynkonsultant dr Carien Coetzee van Basic Wine en Sauvignon Blanc Suid-Afrika die dryfvere wat dit vanjaar vir die eerste keer vir die SA Sauvignon Blanc-vereniging moontlik gemaak het om hoofsaaklik op tegnologie aangewese te wees tydens hul 9de jaarlikse Top 10-kompetisie.

Om te sorg dat die nodige kinkels uit die kabel gehaal word, het dr. Brand die metode reeds verlede jaar tydens die 2019-kompetisie sy aan sy tesame met die papieropsie gehardloop. Die ontwikkeling is moontlik gemaak deur befondsing van Winetech.

Dis vanjaar eksklusief gebruik om 149 Sauvignon Blanc-wyne van 96 produsente tydens 'n drie dae lange sessie by Uitkyk-wynlandgoed in Stellenbosch te beoordeel. As bonus het dit ook daartoe meegehelp met veiligheidsprotokole rondom Covid-19 in plek kon wees.

“Ek het dit baie maklik gevind om te gebruik en ek dink om digitaal te gaan, is onafwendbaar," het een van vanjaar se beoordelaars, die wynskrywer Fiona McDonald, in 'n persverklaring deur Sauvignon Blanc SA gesê. “Ek het voorheen by internasionale wynkompetisies op tablette beoordeel, met baie gesofistikeerde en doelgerigte stelsels. Die Sauvignon Blanc-stelsel is opwindend omdat dit baie meer gefokus is; die opsies wat jy kry om die karakter van die wyn te identifiseer, word gebruik om data oor Sauvignon Blanc as ʼn variëteit te versamel. Die Sauvignon Blanc-stelsel brei dus kennis oor die druif uit."

“As ʼn jonger persoon wat gefokus is op tegnologie, was die tabletbeoordeling ʼn baie gemakliker proses as op papier. Die sensoriese opsies het my meer tyd gegee om op die proe van die wyn te fokus, eerder as om notas te maak. Dis ʼn wonderlike innovasie vir alle proeë vorentoe. Die gebruik van minder papier hou ook ons koolstofvoetspoor laag," het nog 'n beoordelaar, wynmaker Rudger van Wyk, gesê.

“Wat dit ook onderskei, is die insameling van addisionele data van wynprofiele wat tydens Sauvignon Blanc SA se tegniese seminaar met lede gedeel sal word," sê dr. Winifred Bowman, Kaapse Wynmeester en paneelsameroeper wat nou betrokke was by die inspan van die tablet-innovasie.

“Die sagteware daaragter kan gebruik word vir enige wynkompetisie, " sê dr. Brand, wat ook onlangs meegehelp het aan die verfyning van beoordelingsprotokolle wat deel is van die jaarlikse Shiraz-kompetisie.

Sy vertel dat die US die Compusense-sagteware waarop die beoordelingsprogram gebaseer is, reeds meer as tien jaar gebruik. Die Kanadese produk is aanvanklik net vir sensoriese proeë van kosse deur die Departement Voedselwetenskap benut. Weldra is dit ook deur die Departement Wingerd- en Wynkunde ingespan as deel die werksaamhede van hul navorsingsgebaseerde sensoriese proepanele, en wanneer proeë vir die industrie aangebied word.

“Dis ontwikkel as 'n sensoriese hulpmiddel vir enigiemand wat opnames of sensoriese profiele wil opstel, vir enigiets van wyn, parfuum tot voedsame kosse," vertel dr Brand oor die Compusense-sagteware.

“Die lekkerte is dat die data wat ons in die proses insamel, ook as deel van ons lisensie- en gebruiksvoorwaardes vir navorsing beskikbaar het," sê sy.

Sy reken tegnologie maak dit moontlik om te kan sê “die wêreld is jou paneel".

“As mens net die verskeping van wyne wat geproe moet word reg kan koördineer, sou dit moontlik wees om proepanele saam te stel uit mense wat regoor die wêreld is, en nie noodwendig net in een vertrek saam sit nie," reken sy.

* Die Sauvignon Blanc SA Top 10-wenners word tydens 'n virtuele geleentheid op 14 Oktober 2020 aangekondig by www.sauvignonblanc.com/top10awards. Die gepaardgaande jaarlikse Sauvignon Blanc SA Tegniese Seminaar vind as 'n reeks vlogs gedurende November via die Sauvignon Blanc SA webblad plaas. Sprekers sal op tegniese aspekte van die wyne fokus, en ook inligting wat ingesamel is tydens die beoordeling van die Top 10 wyne deel. ​