Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Intrinsieke waarde verbind Ubuntu en rooibos aan mekaar
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 30/09/2020


Daar is 'n besondere verband tussen die metafoor van Ubuntu en die ekologie van Aspalathus linearis, een van Suid-Afrika se endemiese spesies wat in wêreldmarkte algemeen as rooibostee bekendstaan.

Volgens Rhoda Malgas, 'n dosent en PhD-student in die departement Bewaringsekologie en Entomologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), word daar 'n band tussen hierdie twee konsepte gevorm deur die begrip van gemeenskap, interafhanklikheid en die intrinsieke waarde wat beide die rooibosplant en Ubuntu in Suid-Afrika het.

“Die begrip van Ubuntu het talle vrae laat ontstaan – belangrike vrae – oor die belofte wat Ubuntu, asook ander konsepte wat afgelei is van die leksikon van inheemse kulture, vir die bewaring en preservering van biofisiese en bio-kulturele erfenis in Suid-Afrika inhou. Terwyl Ubuntu universeel is en regoor die wêreld aanklank vind, is daar nog baie om te ontgin en belangrike skakels wat gevind moet word tussen die ekologie en gemeenskappe van baie inheemse kulture in die land," het Malgas onlangs in die eerste van reeks gratis web-seminare gesê wat aangebied word deur die US-museum en die Sentrum vir Afrikastudies by die Michigan Staatsuniversiteit (MSU) en onder die vaandel van die Ubuntu Dialoë-seminaarprogram gereël word.

Die seminare neem die vorm van transnasionale dialoog en intellektuele deelname aan wat op die betekenis van Ubuntu, Pan-Afrikanisme, kennis en institusionele dekolonisering – beide as konsepte en praktyke binne en buite Afrika – fokus.

Die Ubuntu Dialoë-projek is 'n vennootskap tussen die US en MSU wat deur die Andre W. Mellon-stigting befonds word en daarop gemik is om nuwe bande te smee en bestaande bande en samewerking tussen universiteite, museums en gemeenskappe te versterk.

Unifier Dyer, 'n PhD-student by die Universiteit van Wisconsin-Madison, en Malgas het aanbiedings oor die onderwerp van Ubuntu by die seminaar gedoen.

Malgas se aanbieding het op die tema, Ubuntu as Expressed in the Nature of Fynbos, gefokus. Sy het die idee dat die natuur as 'n uitdrukking van Ubuntu waargeneem en bestudeer kan word, ontgin. Sy het oor die parallelle tussen die fynbos-bioom van Suid-Afrika (wat die tuiste van 9 500 plantspesies is waarvan 70% nêrens anders in die wêreld voorkom nie) en die menslike toestand die realiteite van die samelewing in die land gepraat.

Dyer se seminaaraanbieding het oor die onderwerp van Ubuntu and Women's Experiences as Epistemology gehandel. Sy het op hedendaagse feministe en skrywers en hul kommer oor selfsorgpraktyke as 'n kontrapunt vir volgehoue nasionalistiese en patriargale narratiewe oor vroue gefokus.

Dyer glo vroue word dikwels die taak opgelê om die beginsels van Ubuntu soos gasvryheid, vrygewigheid, vergifnis en versorging uit te voer, maar tog bly hulle dikwels gemarginaliseerd in die groter strukture van die land.

“Hoewel Ubuntu wêreldwyd aanklank vind, word dit dikwels aan patriargale lande, nasionalisme en sosiale humanisme verbind. Deur die jare het baie lande, insluitende Suid-Afrika, Ubuntu-retoriek gebruik, maar tog is dit gewoonlik vroue wat dit in hul hand hou," het Dyer gesê.

Klik hier vir meer inligting oor die Ubuntu Dialoë en komende web-seminare.