Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Volhoubare houthuismark is moontlik in SA
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 28/09/2020

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) het bevind dat Suid-Afrika genoegsame houtbronne het vir 'n volhoubare houthuis-boubedryf.

“Ons studie het getoon dat deur die houtbronne wat tans as spaanders uitgevoer word, tesame met die aanplanting van bome in gebiede wat vir bebossing geoormerk is, te gebruik, sal dit (op die lange duur) moontlik wees om 'n toekomstige houthuis-boubedryf aan die gang te hou," sê dr Philip Crafford van die US se departement Bos- en Houtkunde. Hy het en kollega dr Brand Wessels het die land se houtbronne en 'n groeiende houthuis-boubedryf se moontlike wêreldwye uitwerking op aardverwarming ondersoek.

Die bevindinge van hul studie het onlangs in die South African Journal of Science verskyn.

Crafford sê hulle wou bepaal of plaaslike boombronne genoeg hou sal kan voorsien wat nodig is vir aansienlike groei in houthuisontwikkelings in Suid-Afrika. Om dit te kan doen, het hulle die woonhuis-voetspoor in die land, asook beskikbaar houtbronne vir houthuise en hierdie tipe boumetode se moontlike uitwerking op die omgewing ontleed.

“Weens die beperkte bosdekking in Suid-Afrika, is daar dikwels 'n siening dat 'n aansienlike groei in die markaandeel van houtgeboue nie moontlik is nie (ten minste nie van plaaslike houtbronne nie). Ons studie toon egter dat hierdie siening nie korrek is nie.Houthouse-infographic.jpg

“Indien ons slegs die houtspaanders wat tans beskikbaar is, as 'n bron oorweeg, kan 39 646 houtwonings (30 523 huise en 9 123 woonstelle) jaarliks gebou word. Met die bebossingshulpbronne sal 55 314 wonings (42 586 huise en 12 728 woonstelle) jaarliks gebou kan word. Dit is 1 203 meer as die gemiddelde nuwe geboue die afgelope 17 jaar.

“As 'n mens die hulpbron-potensiaal van houtspaanders en bebossing in ag neem, kan nagenoeg 95 000 houthuise (172% van die huidige aanbod) jaarliks gebou word."

Crafford sê dat indien invoere en huidige pulp-, bord en ander houtbronne uitgesluit word, kan daar in die toekoms na raming 6,23 miljoen kubieke meter houtbronne beskikbaar wees vir houthuiskomponente. Hierdie hoeveelheid houtbronne sal 6 019 Boeing 747's of 55 377 dubbeldekkerbusse kan vul.

“Dit dui duidelik op die hulpbron-potensiaal van 'n groter hout-gebaseerde boubedryf in Suid-Afrika."

Ondanks hierdie potensiaal, word slegs 1% van die nuwe huise in die land met hout gebou, in vergeleke met meer as 90% in lande soos die VSA, Kanada en Australië.

Crafford sê Suid-Afrika se produksie van nywerheidsrondehout (houtstompe wat vir alledaagse gebruik gesaag word) word hoofsaaklik vir pulp en bordprodukte (51%), gesaagde hout (24%) en spaanderuitvoere na Asië gebruik.

“Ons het die afgelope tien jaar gemiddeld 3,5 miljoen houtspaanders per jaar uitgevoer. Spaanderuitvoere is die waarskynlikste beskikbare bron wat moontlik vir die bou van houthuise gebruik sal kan word."

Oor 'n residensiële houtboubedryf se uitwerking op die omgewing het verskeie studies volgens Crafford getoon dat hout nie net hernieubaar is nie, maar dit het ook die beste vertoon regoor die meeste omgewingsfaktore in vergelyking met alternatiewe boumateriaal soos staal en beton, en het dit veral goed presteer ten opsigte van die vrystelling van kweekhuisgasse.

“Ons basiese modelleringsontleding toon dat indien 20% van alle nuwe huise met hout gebou sou word, die hoeveelheid energie/fossielbrandstof wat vir produksie benodig word en die aardverwarmingspotensiaal van die residensiële boubedryf met 4,9% sal verminder. Indien alle nuwe konstruksies houtgebaseerd sou wees, kan dit tot 30% verminder.

“Dit is 'n aansienlike afname indien 'n mens in ag neem dat die energie wat in die bou en gebruik van geboue gebruik word, na raming vir sowat 27% van die land se mensgemaakte koolsuurgasvrystellings verantwoordelik is. Hout boumateriale kan help om die omgewingsvoetspoor van ons residensiële geboue te verminder."

Aangesien daar nie 'n kultuur van ontwerp en bou met hout in Suid-Afrika is nie, bestaan daar 'n behoefte aan verdere navorsing wat ander uitwerkings soos die skepping van bruto binnelandse produk (BBP), werkskepping en maatskaplike en ekonomiese vergelykings ten opsigte van 'n groeiende houtboubedryf insluit.

  • BRON: Crafford, PL & Wessels, CB 2020. South African log resource availability and potential environmental impact of timber construction. South African Journal of Science, Vol. 116(7/8). https://doi.org/10.17159/sajs.2020/6419

SLEGS VIR MEDIA NAVRAE

Dr Philip Crafford

Departement Bos- en Houtkunde

Fakulteit AgriWetenskappe

Universiteit Stellenbosch

Sel: 082 731 4975

E-pos: pcrafford@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking

Universiteit Stellenbosch

E-pos: viljoenm@sun.ac.za