Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsers delf diep om klimaatsimpak op walvisse te verstaan
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 23/09/2020

Drie Suid-Afrikaanse universiteite is betrokke in 'n navorsingsprojek (die eerste ter wêreld)​ wat poog om te verstaan hoe veranderinge in die oseaan, die herstel van boggelrugwalvispopulasies in die Suidelike Halfrond beïnvloed.

Gedurende die vorige eeu is boggelrugwalvispopulasies erg uitgedun deur moderne walvisvangpraktyke, met vangste van meer as 220 000 individue tussen 1904 en 1972 (van 'n bestaande populasie van ongeveer 140 000 wat moderne walvisvangpraktyke voorafgegaan het). Sedert beskermingsmaatreëls in die 1960s en 1970s ingestel is, het sekere populasies se getalle begin herstel.

Die Walvis- en Klimaatsnavorsingsprogram is in die lewe geroep deur Prof Alakendra Roychoudhury, 'n omgewingsgeochemikus in die Departement Aardwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US), in samewerking met Professor Brendan Mackey, Direkteur van die Griffith Klimaatsverandering Responsprogram by Griffith Universiteit in Australië. Die navorsingspan sluit ook Prof Ken Findlay, 'n walvisdeskundige van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT), Medeprofessor Marcello Vichi, 'n oseanograaf van die Universiteit van Kaapstad (UK) en navorsers van vier navorsingsinstellings in Suid-Amerika in.

Prof Roychoudhury sê die Suidelike Yssee is grootliks onnagevors en daar is 'n dringende behoefte aan seisoenale, sowel as langtermyn observasies van hierdie wyd uitgestrekte oseaan: “'n Tekort aan empiriese data veroorsaak 'n skewe prentjie in klimaatsmodelle, en skep onsekerheid.  Onlangse observasies van wisseling in koolstofdioksiedvlakke, 'n groot aandrywer van klimaatsverandering, dui op 'n verandering in gedrag van die Suidelike Yssee, aansienlik anders as wat ons tot dusver op grond van klimatologie en satellietdata kon vasstel".

Volgens Prof Findlay van KSUT, doen die projek baanbrekerswerk in die kombinering van historiese en meer onlangse langtermyn datastelle met toekomstige scenario's in verskeie streke in die Suidelike Halfrond.

Die navorsingspan van KSUT sal diep delf in hierdie datastelle: “Ons hoop om variasies in seisoenale toeloop en die verspreiding van walvisse te identifiseer en verbande te trek tussen hierdie waarnemings en die veranderinge in die oseanografie en biochemie wat oor dieselfde tydperk in die Suidelike Yssee plaasvind," verduidelik hy.

Professor Marcello Vichi van UK sê die kombinasies van hierdie verskillende datastelle verteenwoordig 'n kragtige hulpmiddel ten einde veranderinge in die verspreiding van walvisse te verstaan, en sal ook dien as bevestiging van klimaatsmodelle.

“Die gelyktydige gebruik van oseaanmodelle en walvisobservasienetwerke, kan ons help om die onlangse groot versameling van boggelrugwalvisse, ook genoem supergroepe, wat ons langs die Wes-Kaapse kus opgemerk het, te verstaan" voeg hy by.

Professor Brendan Mackey van Griffith Universiteit sê die ses jaar lange navorsingsprogram sal 'n fundamentale begrip vestig van hoe veranderende oseaantoestande die getalle van boggelrugwalvispopulasies herstel.

“Klimaatsverandering is drasties besig om ekosisteme te verander en ons oseane ondergaan snelle veranderinge wat mariene lewe beïnvloed. Die projek sal ook aanpassingsscenario's ontwikkel vir die bevordering van walvisbeskermingsbeleide en -programme," sê Professor Mackey.

Dr Olaf Meynecke, 'n walvisnavorser van Griffith Universiteit sê oor die afgelope dekade het 'n nuwe begrip van die belangrike rol wat walvisse as ekosisteemingenieurs speel, aan die lig gekom: “Onlangse navorsings toon dat tandlose walvisse 'n integrale rol speel om die boonste 80 meter van die oseaan te herbemes − die fotiese sone waar ligdeurdringing primêre produktiwiteit dryf. Walvisse dien ook as hersirkuleerders deurdat hulle die ystermikronutriënte tot die boonste gedeelte van die oseaan beperk, aangesien hulle van die ysterryke Antarktiese planktonkrefies leef".

Die navorsingspanne van Brasilië, Chili, Ecuador en Panama sal ondersoek instel na die gedetailleerde beweging van die boggelrugwalvispopulasie aan die Suid-Amerikaanse weskus.  Gedurende die suidelike somer, migreer hierdie populasies na die weivelde in die koue waters van suidelike Chili en die Antarktiese Skiereiland. Maar die westelike Antarktiese Skiereiland het 'n drastiese toename in hitte beleef: “Daar is sterk wetenskaplike bewyse dat hierdie verwarming die ekosisteem affekteer," sê Professor Eduardo Secchi, van die Federale Universiteit van Rio Grande.

Die projek strek oor ses jaar en die leidende span bestaan uit wetenskaplikes, marine-ekoloë en oseanograwe van:

  • Universiteit Stellenbosch – Professor Alakendra Roychoudhury, Dr Jan Lukas Menzel, Dr Suamik Samanta;

  • Universiteit van Kaapstad – Professor Marcello Vichi, Dr Subhra Dey;

  • Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie – Professor Ken Findlay, Dr Elisa Seyboth;

  • Griffith Universiteit (Australië) – Professor Brendan Mackey, Dr Olaf Meynecke, Dr Serena Lee and Dr Jasper De Bie;

  • Federale Universiteit van Rio Grande (Brasilië) – Professor Eduardo R. Secchi, Professor Luciano Dalla Rosa, Dr Pedro Fruet, Dr Rodrigo Genoves

  • Pontifikale Katolieke Universiteit van Ecuador (Ecuador) – Dr Fernando Felix

  • Smithsonian Tropiese Navorsingsinstituut (Panama) – Dr Héctor Guzmán

  • CEQUA Stigting (Chili) – Dr Jorge Acevedo and Dr Esther Jiménez

Verskeie navorsingsvaarte na, en veldwerk in die weivelde en teelplekke van teikenpopulasies in Antarktika en die kuslyne van Australië, Afrika en Suid-Amerika is geskeduleer. Die Walvis- en Klimaatnavorsingsprogram word by Griffith Universiteit gehuisves. Die boggelrugwalvismigrasiemodelle en relevante projekinligting sal beskikbaar wees by: www.whalesandclimate.org.

Feite oor die Walvis- en Klimaatnavorsingsprogram

  • Projek se tydsduur: ongeveer ses jaar

  • Totale begroting: AUD 7 miljoen (R80 miljoen)

  • Projekspan bestaan uit 16 voltydse navorsers en sewe navorsingsgenote, asook 14 nagraadse studente

  • Gesamentlike Antarktiese reise reeds voltooi: 4

  • Databasis van huidige walvisgetalle: 73132

  • Rekord van walvisvangste in databasis: 215 928

 Op die foto bo: In die Suidelike Halfrond onderneem boggelrugwalvisse hul jaarlikse migrasie vanaf hul somer weivelde in die Antarktiese streek na die warmer sub-tropiese waters van Afrika, Australië en Suid-Amerika in die winter. Foto: Ken Findlay

Medianavrae

Prof Alakendra Roychoudhury

Departement Aardwetenskappe, Universiteit Stellenbosch

E-pos: roy@sun.ac.za

Sel: +27 (0)72 062 8416

Landlyn: +27 (0)21 808 3124 (slegs kantoorure)

 

Prof Ken Findlay

KSUT Navorsingsleerstoel: Oseaan-ekonomie, Sentrum vir Volhoubare Oseane

Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT)

E-pos: FINDLAYK@cput.ac.za

Sel: +27 (0)82 570 8212

Tel: +27 (0)21 460 3192

 

Prof Marcello Vichi

Direkteur: Marienenavorsingsinstituut, Departement van Oseanografie

Universiteit van Kaapstad

E-pos: Marcello.vichi@uct.ac.za