Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe SR-voorsitter gereed vir belangrike kwessies
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 22/09/2020

Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) het sy tweede opeenvolgende voorsitter van die Studenteraad (SR) gelewer toe Xola Njengele op 21 September 2020 tot die amp verkies is.

Njengele, wat tans vir die Nagraadse Diploma in Volhoubare Ontwikkeling by die Fakulteit se Skool vir Publieke Leierskap studeer, het die leisels by die uitgaande voorsitter en mede-EBW-student, Lewis Mboko, oorgeneem.

Dié voormalige leerling van die Gardens Commercial High School verpersoonlik die gesegde dat daar 'n formidabele vrou agter elke suksesvolle man is – in sy geval sy moeder.

“Ons gesin het baie rondgetrek, maar danksy my ma was ons nie aan ernstige ontberings blootgestel nie. As ek terugkyk, het my ma alles in haar vermoë gedoen om te verseker dat ons 'n veilige en gemaklike lewe lei."

Hy het gesê dat die lesse wat hy by sy ma geleer het grootliks verantwoordelik is vir sy werksetiek en die sukses wat hy tot dusver behaal het.

“Dit was altyd inspirerend om te sien hoe my ma vir haarself doelwitte stel en hard gewerk het om dit te bereik. Dit het my laat besef dat as jy skouer aan die wiel sit, die kanse groot is dat jy sukses kan behaal."

Njengele, wat verlede jaar sy B-graad in Internasionale Studie in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe behaal het, is die eerste gegradueerde in sy familie. Hy sê dat dié mylpaal nie moontlik sou wees sonder die ondersteuning van sy ma wat hom altyd aangemoedig het om sy drome te bewaarheid nie.

Op die vraag oor wie sy rolmodelle is, antwoord hy sonder om te aarsel: “My ma, natuurlik. Hoe sy dit altyd reggekry het om die uitdagings van die lewe te oorkom, bly vir my 'n inspirasie."

Die Gugulethu-boorling sê hy het reeds planne vir sy ampstermyn.

“Aangesien ek ook voorsitter van die Akademiese Belangeraad en lid van die uitvoerende komitee van die 2019/20-SR was, ken ek die struktuur goed en is ek op hoogte van sommige van die dringende kwessies. As voorsitter hoop ek om die SR te lei om sy doelstellings te bereik.

“Daarbenewens wil ek graag toesien dat beleide rakende kwessies soos geestesgesondheid, anti-geslagsgebaseerde geweld en die hersiening van US se HEMIS-regulasies (Hoëronderwysbestuursinligtingstelsel) in die SR se 2020/21-termyn ten volle aangespreek word en dat dit 'n gunstige uitkoms sal hê."

Njengele se planne vir sy toekoms is egter nie so voor die hand liggend nie.

“Om eerlik te wees, ek weet regtig nie (wat my planne is nie) en persoonlik dink ek dis in die haak. Die lewe is stresvol genoeg en ek wil nie te veel druk op myself plaas deur te ver vooruit te beplan nie. Waar sien ek myself in die volgende jaar? Die plan is om my MPhil in Volhoubare Ontwikkeling te voltooi. Maar ek het nog steeds nie 'n loopbaan in gedagte nie."

Prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het Njengele gelukgewens en gesê dat sy ingenome is dat EBW-studente bereid is om leierskapsrolle binne die breër universiteitsgemeenskap te beklee.

“Ons is vol vertroue dat die vaardighede wat ons by ons studente wil ontwikkel – byvoorbeeld spanwerk, innoverende denke en professionaliteit – in alle leierskapsrolle doeltreffend aangewend kan word," het sy gesê.

Die 2020/21 SR-verkiesing het vanjaar vir die eerste keer aanlyn plaasgevind weens die COVID-19-bedreiging. Altesame 3 543 studente het in die verkiesing gestem – die tweede grootste getal kiesers die afgelope vyf jaar. In die 2018-verkiesing het 4 100 studente gestem.

Die verkiesing het ook die meeste kandidate van die afgelope paar jaar opgelewer, met
20 studente wat hulself verkiesbaar gestel het. Sowat 348 studente het by die aanlynkoukusse aangesluit waar kandidate hul verkiesingsverklarings gelewer het en aan lewendige debatte deelgeneem het.