Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch betrokke by toetsing van belowende Covid-19- entstof
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Michelle Galloway
Gepubliseer: 18/09/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) is deel van ʼn groot internasionale navorsingsproef wat een van die belowendste Covid-19-entstofkandidate toets wat tans beskikbaar is. 

Dié entstof (ChAdOx1 nCoV-19) is deur die Oxford-universiteit in die Verenigde Koninkryk (VK) ontwikkel en word tans op sewe terreine in Suid-Afrika getoets, asook in die VK en Brasiliё. Die studie word deur die Bill & Melinda Gates-stigting gefinansier en is in Suid-Afrika onder die leiding van prof Shabir Madhi van die Universiteit van die Witwatersrand.

Dr Shaun Barnabas van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) staan aan die hoof van die Tygerberg-proefterrein in Kaapstad.

“Die Fakulteit vaar goed met navorsing oor aansteeklike siektes en is daarom gemaklik met voorpunt-entstofstudies," sê Barnabas, wat aan die FGGW se Departement Pediatrie en Kindergesondheid verbonde is. “Ons sterkpunt is om entstofstudies veilig en vinnig uit te voer. Die infrastruktuur, ons reputasie vir pionierswerk (veral oor MIV en TB) en die verhoudings wat ons gebou het, stel ons in staat om met ander groot terreine in Suid-Afrika mee te ding."

Hierdie geskiedenis het gelei tot die Fakulteit se betrokkenheid by die ewekansige, plasebo-beheerde fase I/II-proef van ʼn prominente Covid-19-entstofkandidaat. Die entstof is op ʼn sjimpansee-adenovirus gebaseer. Dít en die feit dat die virus homself nie kan repliseer nie, behoort die veiligheidsprofiel te verhoog.

Sowat 1 000 vrywilligers het reeds die toetsentstof in die VK ontvang en belowende aanvanklike resultate is in The Lancet gepubliseer. In Suid-Afrika sal sowat 2 000 vrywilligers landwyd aan die proewe deelneem en die Tygerberg-terrein het tot dusver sowat 150 van ʼn beoogde 200 vrywilligers geregistreer.

“Dis ʼn mengsel van mense en werwing was eenvoudig. Ons soek mense wat die algemene bevolking verteenwoordig, gesond is en nie onderliggende siektes het nie," sê Barnabas. “Ons werf mense uit die omliggende gemeenskap met die hulp van Gemeenskapsadviesrade. Gesondheidswerkers het ook belangstelling getoon – hulle beskou dit as ʼn 50-50-kans om een van die belowendste entstowwe wat tot dusver getoets is, te ontvang."

Deelnemers word vir teenliggaampies gesif en ʼn nasale monster word ook geneem om vir aktiewe siekte te toets. Barnabas verduidelik dat ʼn vorige Covid-19-infeksie nie deelnemers uitsluit nie, omdat goeie data nog nie bestaan oor of ʼn vorige infeksie werklik beskerming bied nie.

“Ons weet nie of natuurlike siekte beskerming bied nie. Die inligting oor teenliggaampies is onduidelik. Ons weet nie watter vlak van beskerming nodig is nie of hoe spesifiek die teenliggaamtoetse moet wees nie. Ons weet nie of daardie mense dieselfde risiko het as mense wat nog nooit die siekte gehad het, of ʼn laer of hoёr risiko nie. Hulle is dus geskik vir die studie."

Vrywilligers word ook vir onderliggende siektes getoets – veral hepatitis B, diabetes en MIV – en gevra om ander toestande soos hipertensie of asma te onthul.

Die studie behels dat twee dosisse van die toetsentstof ʼn maand uitmekaar toegedien word. Daar word gehoop dat registrasie teen middel Oktober afgehandel sal wees. Immunologie-toetsing sal ná die toediening van die tweede dosis in die VK gedoen word.

“Ons behoort in die eerste kwartaal van 2021 van die resultate te hê," sê Barnabas.

Weens die dringendheid om ʼn entstof te vind word die meeste studies teen ʼn redelike vinnige tempo gedoen, maar dit beteken nie veiligheid kan in die gedrang gebring word nie. In die VK is die proewe onlangs onderbreek weens ʼn ongunstige voorval by ʼn deelnemer. Dit is ondersoek en die studie is hervat.

“Duisende mense registreer vir hierdie studies, derhalwe is die moontlikheid relatief hoog dat iemand iets heeltemal toevallig ontwikkel," verduidelik Barnabas. “Enige ongunstige gebeurtenis lei tot ʼn globale onderbreking. Daar is ʼn enorme klem op veiligheid en monitering vind op ʼn baie hoё vlak plaas. Daar is ook goeie kommunikasie tussen die terreine."

In Suid-Afrika word die studie baie noukeurig deur die Suid-Afrikaanse Beheerraad vir Gesondheidsprodukte, die Dataveiligheids-en-moniteringsraad, ander beheerowerhede en institusionele etiekkomitees gemoniteer.  

“Suid-Afrika is ʼn navorsingsintensiewe land as dit by aansteeklike siektes en entstowwe kom," sê Barnabas. “Ek dink ons betrokkenheid by hierdie proewe sal ons kanse verbeter om toegang tot ʼn suksesvolle entstof te bekom wanneer dit beskikbaar word. Ek glo ons moet ons uitstekende hulpbronne gebruik om tot die ontwikkeling van ʼn entstof teen Covid-19 by te dra. Dit gaan daaroor om ʼn goeie globale burger te wees.

“'n Entstof is die beste manier om die pandemie te bowe te kom en die hervatting van ʼn normale lewe moontlik te maak."