Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee van Innovus ontvang SARIMA-toekennings vir uitnemendheid
Outeur: Innovus
Gepubliseer: 16/09/2020

​Twee Innovus-personeellede het nasionale erkenning ontvang vir hul bydrae tot innovasiebestuur in tegnologie-oordrag in Suid-Afrika.

Innovus se Dr. Madelein Kleyn, direkteur tegnologie-oordrag en Camille de Villiers, tegnologie-oordragbeampte, het elk 'n toekenning ontvang by die jaarlikse toekennings van die Departement van Wetenskap en Innovasie (DSI) en die Suider-Afrikaanse Navorsings- en Innovasiebestuursvereniging (SARIMA). Hierdie toekennings gaan aan diegene wat uitnemendheid in navorsing en innovasiebestuur in Suider-Afrika toon.

Dr. Kleyn ontvang die DSI-SARIMA-toekenning vir haar uitnemende bydrae tot innovasiebestuur. Hierdie toekenning gee erkenning aan individue wat 'n uitstekende bydrae gelewer het tot die beroep Navorsingsbestuur of Innovasiebestuur. 'n Spesifieke bydrae moes in die oorsigtydperk (2019) gelewer word, maar nominasies moet wees ten opsigte van leiers in hul onderskeie vakgebiede. Hulle word buite hul organisasie erken vir hul wye bydrae tot die professie oor baie jare.

In die aankondiging van die toekenning het dr Therina Theron, Senior Direkteur Navorsing en Innovasie by die US se Afdeling Navorsingsontwikkeling en ook president van SARIMA, gesê: "Behalwe vir 'n lang lys van eerbewyse deel Dr. Kleyn haar kennis en kundigheid mildelik en geredelik met professionele kollegas en eweknieë in die bestuur van innovasie regoor die wêreld. Sy bied leiding en mentorskap aan verskeie instansies end eel haar kennis, kapasiteit en kundigheid op die gebied van intellektuele eiendom en strategiese bestuur daarvan – veral aan universiteite. "

De Villiers, wat al byna drie jaar by Innovus werk, het die DSI-SARIMA-toekenning vir voortreflike loopbaanuitnemendheid in innovasiebestuur ontvang. Hierdie toekenning gee erkenning aan individue wat nuut is tot die beroep van navorsing of innovasiebestuur. Benoemdes moet minder as vyf jaar ondervinding hê in enige van die kernelemente waaruit 'n navorsingsbestuur- of innovasiebestuurfunksie bestaan, hetsy in 'n formele organisasiekantoor, aldan nie.

As deel van 'n lang lys prestasies het Anita Nel, Hoofdirekteur Innovasie en Besigheidsontwikkeling, De Villiers se betrokkenheid by die aktiewe en doeltreffende bestuur van die IP-beskerming, vervolging en kommersialisering van meer as twintig projekte by Innovus in 2019 beklemtoon. “Camille het verskeie kommersialiseringsooreenkomste vir hierdie projekte gesluit, terwyl sy gehelp het met die inkubasie van twee potensiële Innovus uitspin-ondernemings. Sy het ook suksesvol twee nuwe inisiatiewe by die US ingestel en befondsing daarvoor gereël, naamlik die jaarlikse US Hackathon en die Stellenbosch Netwerk."

Nel het Dr. Kleyn en De Villiers gelukgewens en gesê dat albei in hul onderskeie posisies uitsonderlik is. “Beide Madelein en Camille verdien hierdie erkenning vir die ongelooflike werk wat hulle by Innovus doen. In die kort tydjie wat hulle deel was van die Innovus-span, het hulle baie waarde toegevoeg tot die werk wat ons doen. "

 

Oor SARIMA

Die Suider-Afrikaanse Navorsings- en Innovasiebestuursvereniging (SARIMA) is 'n lidmaatskapsorganisasie wat navorsings- en innovasiepraktisyns byeenbring om hierdie dissiplines en institusionele vermoëns te versterk. Dit bied 'n platform vir die bevordering en fasilitering van beste praktyk in navorsings- en innovasiebestuur in Suider-Afrika. Besoek www.sarima.co.za vir meer inligting.​

Oor Innovus

Innovus is die Universiteit Stellenbosch se interaksie- en innovasieplatform. Innovus is verantwoordelik vir tegnologie-oordrag, entrepreneuriese ondersteuning en ontwikkeling, en innovasie aan die Universiteit. Onder sy aktiwiteite om die bates van die US te kommersialiseer, bestuur Innovus die kommersialisering van die Universiteit se portefeulje vir innovasie en intellektuele eiendom deur middel van patentering, lisensiëring en die oprigting van uitspin-ondernemings.