Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US begin nuwe ko-ed studentegemeenskap
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 16/09/2020
​Mediaverklaring
Universiteit Stellenbosch
15 September 2020


US begin nuwe ko-ed studentegemeenskap

“Ons wil 'n getransformeerde en geïntegreerde akademiese gemeenskap skep wat kritiese denke ondersteun, debat aanmoedig en wat verbind is tot demokrasie, menseregte en sosiale geregtigheid." So sê prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig, in 'n skrywe aan die studentegemeenskap op Maandag 14 September.

In sy skrywe het prof Schoonwinkel ook aangekondig dat, soos in 2020, geen nuwelingstudente in 2021 aan Huis Marais toegeken word nie, aangesien die koshuis nie 'n samehorige poging aangewend het om 'n heilsame gemeenskap te skep wat die waardes van die US weerspieël nie. “Ons betreur die feit dat 'n groep invloedryke leiers in Huis Marais die afgelope 11 maande versuim het om die koshuis se etos so te transformeer dat dit die gelykwaardige behandeling van alle bevolkingsgroepe, respek teenoor vroue en die verantwoordelike gebruik van alkolhol weerspieël."

Hy het verduidelik dat die huidige Huis Marais-koshuiskompleks op die Stellenbosch-kampus tans inwoners van Huis Marais huisves, terwyl 'n vleuel ná 'n brand in Huis ten Bosch (HtB) in 2019 heringerig is om tot aan die einde van 2020 HtB-inwoners te huisves. Aangesien HtB byna voltooi is, sal studente in 2021 na die koshuis kan terugkeer.

Die Huis Marais kompleks gaan nou verdeel word om 'n nuwe ko-ed studentegemeenskap wat plek sal hê vir 90 vroue- en 68 manstudente, te huisves. Die skuiwe gee die Universiteit geleentheid gee om die plasingsmodel te heroorweeg en 'n nuwe studentegemeenskap te vestig wat illustreer dat die Universiteit waarde heg aan diversiteit en inklusiwiteit.

'n Groep senior studente van bestaande kampusgemeenskappe sal uitgenooi word en sowat 100 nuwelingstudente sal ook in 2021 deel word van hierdie nuwe gemeenskap. Mans- en vrouestudente sal in verskillende seksies van die gebou geplaas word. 

“Wanneer verskillende geslagte in dieselfde koshuis (ko-ed) woon, skep dit 'n geleentheid om dieselfde aandag te gee aan genderdiversiteit as aan alle ander vorme van diversiteit. Terselfdertyd gee dit ons beweegruimte in die lig van die demografiese profiel van die Universiteit. Op die oomblik is daar 'n geleidelike styging in die persentasie vroue wat jaarliks by die US toegelaat word," aldus prof Schoonwinkel.

Huidige studente van Huis Marais sal in 2021 steeds as 'n manskoshuis funksioneer. Huidige inwoners sal kan intrek in die deel wat deur HtB ontruim word, of kan aansoek doen vir verblyf in die nuwe ko-ed koshuis of enige ander koshuis op kampus. 

“Ons wil vir elke Matie 'n ware transformerende studente-ervaring by 'n florerende Universiteit Stellenbosch verseker. Ons is opgewonde oor hierdie geleentheid om 'n nuwe koshuis te skep wat die volle diversiteit van die studenteliggaam verteenwoordig, en ons strewe na uitnemendheid deur diversiteit sal help verwesenlik," het prof Schoonwinkel gesê.

  • Lees prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig se skrywe hier.