Dr. Margaret Blackie, Departement Chemie en Polimeerwetenskap (US Onderriggenoot 2020) is onlangs deur die Suid-Afrikaans Chemiese Instituut (SACI) vereer vir haar bydrae tot navorsing, leer en onderrig in Suid-Afrika.
SACI het erkenning gegee aan dr Margaret Blackie vir haar uitstaande bydrae tot chemie-onderrig oor die afgelope vyf jaar. Sy is die ontvanger van die Instituut se medalje vir Chemie-onderwys.
Dr Blackie sê sy waardeer die feit dat SACI erkenning gee vir bydraes tot opvoeding in chemie en wetenskap: “Dit is 'n enorme voorreg om die ontvanger van hierdie toekenning te wees. En ek is diep dankbaar teenoor my mentors en medewerkers. Ek het so baie geleer deur saam met ander te werk."
Dr Blackie was onlangs die mede-outeur van twee hoofstukke in 'n boek Building Knowledge in Higher Education, wat onderwerpe dek soos die dekolonialisering van die wetenskapkurrikulum, en die gaping tussen eerstejaarstudente se teoretiese begrip van hoofkonsepte in chemie en hulle vermoë om daardie kennis oor te dra tot ander domeine soos geneeskunde en ingenieurswese.
Dr. Blackie is ’n senior lektor in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap. Sy is in Januarie 2010 by die US aangestel. Sy het ’n PhD in sintetiese chemie aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.
Dr. Blackie se navorsingsbelangstellings sluit in medisinale chemie, hoër onderwys en Jesuïete- (“Ignatian") spiritualiteit. Sy het akademiese artikels in al drie dissiplines gepubliseer. Sy gee klas en bied studieleiding aan nagraadse studente in beide chemie en teologie.
Haar belangstelling in onderwys het voortgevloei uit ʼn post-doktorale genootskap onder prof. Jenni Case in die Centre for Research in Engineering Education by die Universiteit van Kaapstad in 2009. Sy is tans betrokke by ʼn groot internasionale projek wat met studente in chemie en chemiese ingenieurswese in Suid-Afrika, die VK en die VSA deur hulle grade tred hou.
Dr. Blackie het ʼn onderriggenootskap van 2020 tot 2022. Die hoofdoel van haar navorsingsprojek is om akademiese personeel in “STEM"-dissiplines toegang te verleen tot die analitiese hulpbronne wat in die suite instrumente bekend as “Legitimation Code Theory" (“LCT") beskikbaar is.
'n Artikel van Dr Blackie en Dr Hanelie Adendorff (Senior Adviseur, Sentrum vir Leer en Onderrig) het onlangs in die Mail and Guardian verskyn:
It is possible to decolonise science.