Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Biblioteeknavorsingsweek: ’n Wenner
Outeur: Library and Information Service
Gepubliseer: 03/09/2020

​Deelname aan die jaarlikse Navorsingsweek van die Biblioteek- en Inligtingsdiens aan die Universiteit Stellenbosch het alle verwagtinge oortref. Van die ongeveer 1 309 biblioteekgebruikers wat bespreek het vir die 12 aanlyn sessies wat tussen 24 en 28 Augustus aangebied is, het 802 by die webinare aangesluit. Dit was die eerste keer dat die Navorsingsweek aanlyn aangebied is.

By die bekendstellingsgeleentheid het prof Eugene Cloete die Biblioteek geloof dat hulle deurgedruk en die Week aanlyn aangebied het. Volgens hom is dit 'n teken van 'n wêreldklasbiblioteek- en inligtingsdiens wat wêreldklasfasiliteite aan navorsers bied.

In haar praatjie The journey through my eyes het Dr Balindiwe Sishi, gasspreker by die opening, die uitdagings wat sy moes trotseer en die lesse wat sy geleer het op pad na haar PhD met die gaste gedeel. Sy het onder andere geleer hoe belangrik dit is om 'n plan B in die lewe te hê. “Doen die beste wat jy kan met dit wat jy het. Moenie fokus op die toe deur nie, maar eerder op die een wat oop is." Sy het ontluikende navorsers aangemoedig om goeie mentors te vind, om met ander navorsers saam te werk, om belangrike en fassinerende onderwerpe te kies en om daarop te fokus om hul doelwitte te bereik.

Tydens die res van die Navorsingsweek kon deelnemers onder andere leer oor effektiewe literatuursoektogte en sistematiese oorsigstudies, korrekte verwysingstegnieke, hoe om plagiaat te vermy, hoe om stres te hanteer en hoe om enkele van die Biblioteek se databasisse optimaal te benut.

Aanbieders van die Biblioteek sowel as van ander US steundiensafdelings het die geleentheid gehad om die beskikbare steundienste ten toon te stel en het die deelnemers van waardevolle raad voorsien.